Die skool is op 28 Januarie1920 gestig en merk die totstandkoming van die eerste suiwer Afrikaans-medium skool in Suid-Afrika. Die gebeurtenis vind plaas vyf jaar voor die amptelike erkenning van die Afrikaanse taal. Die skool is deur Suid-Afrika bekend vir sy hoë akademiese standaarde en die leiers wat hulle opgelewer het.
Geskiedenis
Die skool was oorspronklik in die huis van Generaal Piet Joubert te Visagiestraat 218, Pretoria gehuisves. Teen 1927 het die skool so gegroei dat hulle ’n nuwe skoolterrein benodig het, en is die skool na die huidige terrein van die Afrikaanse Hoër Meisieskool geskuif. Teen die einde van 1927 het hulle die Hogere Oosteindschool, ’n Nederlandstalige skool oorgeneem, ’n verdere teken van die afname in gebruik van Nederlands in Suid-Afrika en die aanvaarding van Afrikaans as primêre onderrigtaal.
Teen 1929 het die huidige geboue kapasiteit bereik en is die besluit geneem om ’n nuwe skool vir die seuns te stig. Die Afrikaanse Hoër Seunskool het so tot stand gekom, die eerste aparte Afrikaanse seuns- en meisieskole in die destydse Transvaal.
Skoollied
Affies se skoollied:
Daar ruis uit Pretoria
die roep tot verre trans
van duisende stemme
vir jou, ou Afrikaans!
Dit bind ons tesame,
die naam van ons trou
soos berge so stewig gebou vir jou!
Ons bring jou ons hulde,
jou lig sal ons dra tot ver oor ons wye Suid-Afrika.
Ons staan vir ons Nasie,
ons Taal en ons Land,
Gestaal vir die stryd om jou lig te laat brand.
Ons grootse verlede;
die hede se krag
Gee moed en vertroue
vir dit wat daar wag.
Ons bring jou ons hulde
jou lig sal ons dra
tot ver oor ons wye Suid-Afrika.
Woorde en Musiek: Mnr. en Mev. Carel van Heerden (1952)
Erekode
Affies se erekode:
In ons skool gee ons die ereplek aan God en sy Woord en streef die Christelike lewensbeginsels na.
Ons is dankbaar vir die talente wat ons van God ontvang het en wend dit aan tot sy eer.
Ons streef daarna om hulpvaardig te wees en om te dien.
Ons gehoorsaam en eer ons ouers en onderwysers en gedra ons hoflik teenoor alle mense, veral teenoor dames en ons meerderes.
Ons woord is ons eer.
Ons glo in selfbeheersing, selfdissipline, nederigheid en lojaliteit.
Ons dien ons skool getrou en handhaaf sy goeie naam met woord en daad.
Ons hou onsself en ons omgewing rein en skoon.
Ons staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land.
Noemenswaardige alumni
Louis Schmidt (1954) : Springbokrugbyspeler 1958 en 1962, en die oorspronklike Blou Bul
Tonie Roux (1964) : Springbokrugbyspeler 1969 tot 1974