Bolzano
Bozen of Bolzano (Italiaans: Bolzano; Duits: Bozen; Ladinies: Balsan/Bulsan) is die hoofstad en grootste stad van die outonome provinsie Suid-Tirol in die outonome gewes Trentino-Suid-Tirol (Italië) met 'n bevolking van 107 739 (soos op 31 Desember 2018) en 'n oppervlakte van 52,3 km². Bozen is geleë langs die Brennerroete, wat Noord- en Suid-Europa met mekaar verbind, en by die samevloeiing van die Etsch- en Eisackriviere. Die belangrikste huistale is Italiaans (73%), Duits (26,29%) en Ladinies (0,71%). As bikulturele stad met Noord-Europese en Mediterreense invloede vervul Bozen al eeue lank 'n belangrike funksie as 'n ontmoetplek vir die Duits- en Italiaanssprekende kultuur- en sakewêreld. Bozen is een van die grootste stedelike nedersettings in die Alpegebied, setel van die Suid-Tiroolse regering en parlement, sedert 1964 biskopsetel van die nuutgestigte Rooms-Katolieke diosese Bozen-Brixen en sedert 1997 ook setel van 'n universiteit – die Freie Universität Bozen (met Duits, Italiaans, Engels en Ladinies as onderrigmedia[1]). Die navorsingsaktiwiteite van die universiteit se Ladiniese afdeling fokus op Ladiniese Taalkunde (veral Ladiniese Filologie) en Meertalige Opvoedkunde.[2]
Verwysings
Eksterne skakels
|