Brachiosauridae
Brachiosauridae was ’n familie Sauropoda-dinosourusse, waarvan die lede bekend is as brachiosourides. Hulle was plantvretende viervoetiges met lang nekke waarvan die voorpote langer was as die agterpote. Die naam kom van die Grieks vir "arm-akkedis". Ondanks hul oënskynlik kenmerkende eienskappe is dit nie seker of Brachiosauridae werklik ’n aparte familie was en of hulle primitiewe Titanosauriformes was nie. Daar is dus ook onsekerheid oor watter diere tot die familie behoort. Van die lede was onder die grootste bekende dinosourusse en daar is eers gemeen een van hulle, Brachiosaurus, was die grootste dinosourus wat nog geleef het. Brachiosauridae het ongewoon lang nekke gehad waarmee hulle blare van hoë bome kon eet wat ontoeganklik was vir ander diere. Hul lepelvormige tande kon taaier plantmateriaal verwerk as seker ander soorte Sauropoda. |