Clement Attlee
Clement Richard Attlee, 1st Earl Attlee (* 3 Januarie 1883; † 8 Oktober 1967), was 'n Britse politikus wat tussen 1945 en 1951 as eerste minister en, vanaf 1935 tot en met 1955, as leier van die Britse Arbeidersparty gedien het. Attlee was die eerste politikus wat die amp van vise-premier (deputy prime minister) beklee het (in die koalisie-regering onder Winston Churchill wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gevorm is) en 'n reuse-oorwinning vir die Arbeidersparty in die algemene verkiesing van 1945 behaal en in 1950, ná 'n naelskraap oorwinning, vir 'n tweede ampstermyn verkies is. Hy was die eerste premier uit die geledere van die Arbeidersparty wat 'n volle ampstermyn uitgedien het, asook die eerste wat met 'n algehele meerderheid van setels vir die Arbeidersparty in die Britse Laerhuis kon regeer. Tot dusver het geen ander leier van die Arbeidersparty hierdie funksie langer vervul as Clement Attlee nie. Attlee het as afgevaardigde vir die Limehouse-kiesafdeling in die algemene verkiesing van 1922 vir die eerste keer 'n setel in die Britse parlement gewen en was in sy politieke loopbaan binnekort suksesvol genoeg om in 1924 as minister in die minderheidsregering van Ramsay MacDonald aangewys te word. Nadat die Arbeidersparty in die verkiesing van 1931 'n verpletterende nederlaag gely het, is Attlee as vise-partyvoorsitter verkies. Ná George Lansbury se bedanking vier jaar later het hy die leier van die Arbeidersparty geword. In die tyd tussen die twee wêreldoorloë het die Arbeidersparty aanvanklik 'n beleid van pasifisme gevolg, maar het hierdie paaibeleid uiteindelik laat vaar. Attlee het die destydse Britse premier Neville Chamberlain se pogings om 'n politieke skikking met Adolf Hitler deur vreedsame onderhandelinge te bereik skerp gekritiseer. Ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die Arbeidersparty deel van Winston Churchill se koalisieregering geword. In dié oorlogskabinet het Attlee aanvanklik as Lordseëlbewaarder (Lord Privy Seal) gedien en is twee jaar later as vise-premier aangewys. Die koalisieregering is in 1945 ontbind, en Attlee het in die algemene verkiesing van dié jaar 'n algehele meerderheid van 144 setels met 47,8 persent van die uitgebragte stemme vir sy party behaal. Die regering, wat hy voorgestaan het, het die na-oorlogse konsensus bereik – 'n politieke en ekonomiese beleid wat al gedurende die oorlog in die Beveridgeverslag geskets is en waarvolgens volle indiensneming deur Keynesiaanse ekonomiese maatreëls bereik en 'n uitgebreide welvaartstelsel geskep sou word. Binne hierdie politieke konteks het die Attleeregering begin om basiese dienste en sleutelnywerhede te nasionaliseer en 'n Nasionale Gesondheidsdiens in die lewe te roep. Die Konserwatiewe Party was aanvanklik gekant teen 'n Keynesiaanse fiskale beleid, maar het die na-oorlogse konsensus uiteindelik net soos alle ander partye aanvaar. Hierdie konsensus het meer as drie dekades lank die ekonomiese en politieke grondslag van die Verenigde Koninkryk gevorm en sou eers in 1979 deur Margaret Thatcher verwerp word. In die Britse Ryk het die Attleeregering 'n beleid van dekolonisasie gevolg en onafhanklikheid aan Indië, Pakistan, Burma, Ceylon, Israel en Jordanië toegestaan. Die belangrikste prestasie ten opsigte van buitelandse beleid was die bevestiging van politieke bande met die Verenigde State. In die algemene verkiesing van 1950 het Attlee sy party weereens tot oorwinning gelei, maar die verkiesing in die volgende jaar het hy naelskraap verloor. Attlee het as eerste minister bedank. Attlee, wat in sy tyd en ook vandag hoog gewaardeer word vir sy politieke prestasies, is in 2004 in 'n meningspeiling, wat deur die Universiteit van Leeds en Ipsos MORI onder 139 akademici gehou is, as die grootste staatsman aangewys wat die Verenigde Koninkryk in die 20ste eeu opgelewer het, voor Winston Churchill wat in die tweede plek beland het.[2] Verwysings
|