Die Gereformeerde kerk Primrose het op 28 Julie1946 van die oudste Gereformeerde kerk aan die Oos-Rand, Germiston, afgestig as die agtste gemeente in dié deel van die Witwatersrand. Sy gebied beslaan sowat 25 km2: die hele Primrose, alle voorstede van Germiston noord van die R29 en Bedfordview suid van die N12/R24.
Aan die begin het die gemeente een erediens elke Sondag in die Assembly-saal gehou. In 1952 het die kerkraad twee eenderse sale laat oprig in sowel Edenvale as Primrose. Hulle is gelyktydig op 9 Augustus1952 in gebruik geneem. Primrose s’n se hoeksteen is deur ds. B.J. de Klerk gelê.
In Mei 1953 het wyke van Primrose afgestig as die Gereformeerde kerk Edenvale. In die Gereformeerde Kerk se eeufeesjaar (1959) het die moedergemeente 518 lidmate gehad en die dogtergemeente 165. Drie jaar later is die nuwe kerkgebou ingewy en ’n steen deur ds. J. Visser gelê. Die lidmate het blykbaar daarna toegeneem, want twee vleuels is vroeg in die sewentigerjare aangebou en die vergrote kerkgebou op 13 Februarie1972 in gebruik geneem. Ds. P. du Plessis het by daardie geleentheid ’n spesiale steen onthul. Daarna is die ou kerk as saal gebruik.
Weens demografiese veranderings binne die gemeentegrense het Primrose se belydende lidmate van 231 einde 1997 tot 210 einde 2001 en 59 einde 2014 afgeneem. Die laaste diens van die gemeente is op 29 Januarie2023 gehou toe ds. Hennie van Wyk, oudleraar, die Nagmaal bedien het. Die meeste van die handjievol oorblywende lidmate het aangesluit by die Gereformeerde kerk Alberton.
Predikante
Pelser, Andries Johannes, 1949–1952
Grobler, Nicolaas Johannes, 1955–1959
Visser, dr. Jan, 1959–1969
Du Plessis, Pieter, 1969–1983
Schalekamp, dr. Marius, 1983–1993
Van Wyk, dr. Hendrik Francois, 1993–2004
Du Preez, Jan Adriaan, 2009–2014 (in kombinasie met Germiston; aanvaar sy emeritaat)
Bronne
(af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.