Grysstof verskil van witstof deurdat dit talle selliggame en relatief min gemiëlineerde aksons bevat, terwyl witstof relatief min selliggame en hoofsaaklik gemiëlineerde aksons bevat.[1] Die kleurverskil is veral vanweë die wit miëlien. In lewende weefsel is grysstof eintlik ’n baie ligte grys met gelerige of pienkerige skakerings vanweë haarvate en neuronale selliggame.[2]
Funksie
Grysstof bevat die meeste van die brein se neurale selliggame. Dit sluit dele van die brein in wat betrokke is in spierbeheer, sintuie soos sien en hoor, geheue, emosies, spraak, besluitneming en selfbeheersing.[3]
Die grysstof in die rugmurg kan in drie gryskolomme, of horings, verdeel word:
Die dorsale gryskolom ontvang verskeie soorte sintuiglike inligting van die liggaam, soos gevoel en vibrasies. Die inligting word in aksons in die rugmurg opgestuur.
Die laterale gryskolom is hoofsaaklik bemoeid met aktiwiteit in die simpatiese afdeling van die outonomiese motorstelsel.
Die ventrale gryskolom bevat motoriese neurone. Dit is verantwoordelik vir die beweging van die spiere.
Verwysings
↑Purves, Dale; George J. Augustine; David Fitzpatrick; William C. Hall; Anthony-Samuel LaMantia; James O. McNamara; Leonard E. White (2008). Neuroscience (4de uitg.). Sinauer Associates. pp. 15–16. ISBN978-0-87893-697-7.
↑Kolb & Whishaw: Fundamentals of Human Neuropsychology (2003) bl. 49
↑Miller, A.K.H.; Alston, R. L.; Corsellis, J.A.N. (1980). "Variation with Age in the Volumes of Grey and White Matter in the Cerebral Hemispheres of Man: Measurements with an Image Analyser". Neuropathology and Applied Neurobiology. 6 (2): 119–32. doi:10.1111/j.1365-2990.1980.tb00283.x. PMID7374914.