Nicolaas Johannes Diederichs
Nicolaas Johannes Diederichs (17 November 1903, Ladybrand, Oranjerivierkolonie – 21 Augustus 1978, Kaapstad) was ’n Suid-Afrikaanse akademikus en politikus en die derde Staatspresident van Suid-Afrika. Diederichs studeer aan die Grey-kollege in Bloemfontein en daarna aan die universiteite van München, Keulen en Leiden. Hy sluit hom aan by die personeel van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en skryf breedvoerig, veral oor sy belangstelling in die ekonomiese heropbou van Afrikaners. Hy word hoof van die Reddingsdaadbond, voorsitter van die Ekonomiese Instituut van die FAK en van die Desimale Muntkommissie. Hy sluit by die Nasionale Party aan en word tot die parlement verkies vir Randfontein (1948), later Losberg (1958) en uiteindelik Overvaal (1974). Hy is van 1958 tot 1967 minister van ekonomiese sake en van 1961 - 1964 ook minister van mynbou. As minister van finansies (1967-1975) speel hy 'n leidende rol in die kabinet. Van 19 April 1975 tot met sy dood op 21 Augustus 1978 in Kaapstad beklee hy die amp van staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Marais Viljoen tree na sy afsterwe op as waarnemende Staatspresident en hy word uiteindelik opgevolg deur John Vorster. Publikasies
Bron
|