Die artikel beskryf ’n sportgebeurtenis wat in die toekoms gaan plaasvind. Die inligting is moontlik spekulatief en kan vinnig verander soos data beskikbaar raak.
Die Olimpiese Somerspele 2028 (Engels: 2028 Summer Olympics), amptelik bekend as die Spele van die XXXIVste Olimpiade, sal tussen 21 Julie en 6 Augustus 2028 in Los Angeles, Verenigde State, aangebied word. Dit sal die 34ste aanbieding van die Somerspele sedert 1896 wees. Dit sal ook die derde keer wees dat Los Angeles die spele organiseer na hulle eerste spele in 1932 en daarna in 1984. Daarmee sal Los Angeles naas Londen en Parys die derde stad word wat driekeer 'n Olimpiese Somerspele aanbied. Vir die Verenigde State sal dit die vyfde Olimpiese Somerspele wees wat hulle gaan aanbied, 'n algehele rekord.
Die opening- en sluitingseremonies sal in die LA-stadion by Hollywood Park in Los Angeles plaasvind. Soos gebruiklik sal die lande in alfabetiese volgorde die stadion instap met Griekeland eerste en die gasheer die Verenigde State laaste, maar aangesien die plaaslike taal Engels is, sal dié taal se alfabet gebruik word om die volgorde te bepaal.
Los Angeles is op 13 September 2017 in Lima deur die Internasionale Olimpiese Komitee gekies as die gasheer vir die Olimpiese Somerspele in 2028. Die enigste ander kandidaat was Parys, maar het hulself voor die stemming onttrek en vir die Olimpiese Somerspele 2024 beskikbaar gestel.[1]
Die stemming het as volg verloop:
Stemming vir gasheer van die Olimpiese Somerspele 2028
Volgens die huidige beleid van die Internasionale Olimpiese Komitee bevat die Olimpiese Somerspele se program 28 kernsporte wat tydens die Spele beoefen word, terwyl ander sporte met ondersteuning deur die IOK en die reëlingskomitee ingesluit kan word om die plaaslike belangstelling te verhoog.[2][3] Die aantal atlete word op 10 500 beperk.[4]
'n Aantal beheerliggame het planne aangekondig om sporte in die Olimpiese Somerspele 2028 se program te laat opneem:[5]
Die Wêreld-bofbal-sagtebalkonfederasie (WBSC) het aangekondig dat hulle bofbal en sagtebal op die 2028-program wil laat inskryf en verwys na bofbal as een van die belangrikste sportsoorte in die Verenigde State. Dié sport is sedert 2008 nie meer 'n Olimpiese sportsoort nie, maar het 'n eenmalige verskyning in 2020 gemaak.[6]