Simón Bolívar
Simón José Antonio de la Santísima Trinidad Bolívar y Palacios Ponte y Blanco (24 Julie 1783 – 17 Desember 1830), algemeen bekend as Simón Bolívar, was 'n Venezolaanse vryheidsvegter en politieke leier. Hy het verskeie Suid-Amerikaanse lande, soos Venezuela, Colombia, Ecuador, Peru en Bolivië van die Spanjaarde bevry. Hy was ook vir 'n paar jaar die president van Groot-Colombia, 'n land wat nie meer bestaan nie. Die land Bolivië is na hom vernoem. Hy word vandag as een van die mees invloedryke politici in die geskiedenis van Suid-Amerika beskou. Hy staan in Latyns-Amerika as El Libertador, oftewel Die Bevryder bekend.[1] El LibertadorHy het in Madrid gestudeer en in 1807 na sy tuisland Venezuela teruggekeer, nadat Napoleon sy ouer broer Jozef Bonaparte as koning van Spanje en die Spaanse kolonies benoem het. Hier het hy aan verskeie opstande deelgeneem. In 1812 skryf hy die Manifiesto de Cartagena (die Cartagena Manifes), tydens sy verblyf in Cartagena, in die hedendaagse Colombia, waarheen hy gevlug het, nadat Francisco de Miranda hom in Julie van daardie jaar in Caracas aan die Spanjaarde oorgegee het. In 1813 lei hy 'n inval in Venezuela. Op 23 Mei arriveer hy in Mérida, waar hy sy bynaam El Libertador ('Die Bevryder') kry. Op 29-jarige leeftyd het hy reeds generaal geword. Ná 'n veldtog van drie maande het hy op 6 Augustus 1813 Caracas verower, en die Republiek van Venezuela is uitgeroep. Daarna is Bolívar na Colombia, waar hy die nasionaliste gelei het en waar hy Bogota in 1814 verower het. In die daaropvolgende periode het Bolívar 'n aantal militêre nederlae gely. In 1815 moes hy voor die Spanjaarde vlug en na Jamaika uitwyk, waar hy die Haïtiese president Alexandre Pétion om hulp gevra het. Hy het finansiële en morele steun van Pétion ontvang om 'n inval-vloot toe te rus om die opstand teen Spanje voort te sit. In ruil daarvoor het Pétion die afskaffing van slawerny in Venezuela geëis. Met die Haïtiaanse steun en die hulp van die llanero José Antonio Páez, verower Bolívar vanaf 1816 weer die nodige gebiede. In 1819 kon die hele Colombia bygevoeg word tot die gebied wat nie meer onder Spaanse beheer was nie. In Desember van daardie jaar het Bolívar die Republiek van Groot-Colombia uitgeroep: 'n federasie wat groot dele van die huidige Venezuela, Colombia, Panama en Ecuador omvat. Bolívar het self president geword. Bolivar het in die 1820's sy aktiwiteite na Peru en Bolivië verskuif. Hy word in 1824 president van Peru (sy amptelike titel was die van dictador, of 'diktator', wat aandui dat hy politieke sowel as militêre leierskap gehad het), en het die stryd teen die Spanjaarde gelei om hulle uit die land te verdryf. In Augustus 1825 is die Republiek Bolivië na hom vernoem ter ere van Bolívar.
Verwysings
Bron
Eksterne skakels
|