Skots
Skots (Scots, soms ook Inglis, Lallans, Doric of braid Scots genoem) is die algemene naam wat na die Germaanse taal van Skotland verwys wat tradisioneel hoofsaaklik in dié land se laerliggende dele gebesig word. Dit word soms ook beskou as 'n Engelse dialek. Skots moet nie verwar word met Skots-Gaelies nie, 'n selfstandige Keltiese taal wat vroeër veral in die Skotse Hoogland gepraat is en nou verwant is aan Iers. Met die sogenaamde Plantations, die grootskaalse vestiging van Skotse gesinne in Ulster vanaf die 17de eeu, is Skots ook na die noorde van Ierland oorgeplant. Dié streeksvariant staan bekend as Ulster-Skots (Ulster Scots of Ullans). Noord-Ierse sprekers verwys daarna ook as the Hamely Tongue. GekiedenisSkots het sy oorsprong in die vroeg-Middeleeuse Germaanse immigrasiegolwe. Sedert die vyfde eeu n.C. het baie Angele hulle in die suide van Skotland gevestig. Hulle het 'n Germaanse taal gepraat wat nou verwant was aan die dialekte van die Sakse en Jute, twee ander Germaanse volksgroepe wat hulle terselfdertyd in Engeland gevestig het. Noordelike Angel-Saksiese dialekte is vanaf die 7de eeu ook in Lothian gebesig; hier is ook die meeste plekname van Germaanse herkoms. Adam Loutful het in 1494 na die Skotse taal sowel as Inglis asook as Scottis verwys. Skots het sy eie spelling en vertaling van die Bybel, en dit was die taal van die Skotse koningshof wat as die voorbeeld vir die standaardisering van Skots gedien het – eerder as dié van sy Engelse eweknie. Die taal het sy bloeitydperk in die 16de eeu beleef. Met die vereniging van die twee koninkryke Skotland en Engeland in 1603 en die samesmelting van die twee parlemente in 1707 is die taal se status afgeskaal. Dit het egter die omgangstaal van die Germaanssprekende Skotte gebly en is deur Skotse digters en skrywers soos Robert Burns en Walter Scott ook ná die vereniging van Skotland en Engeland steeds as literêre taal gebruik. Twee groot woordeboeke word sedert 1931 saamgestel: A Dictionary of the Older Scottish Tongue, wat die taalgebruik voor 1700 vermeld, en The Scottish National Dictionary, 'n woordeboek met sowat 50 000 inskrywings wat op die moderne Skotse taal fokus, en in 1927 begin is. David Murison, dosent in Skots aan die Universiteite van St. Andrews en Aberdeen, was vanaf 1946 die uitgewer van die woordeboek. Die tiende en laaste boekdeel het in 1976 verskyn. Die Linguistic Survey of Scotland versamel inligting oor die Skotse en Gaeliese taal en het in 1975 die eerste boekdeel van die Linguistic Atlas of Scotland gepubliseer. In Noord-Ierland is die gebruik van Ulster-Skots dekades lank as "slegte Engels" afgemoedig. Intussen is liggame soos die Ulster-Scots Agency, die Ulster-Scots Academy en sy susterorganisasie, die Ulster-Scots Language Society, besig om aktiewe taalgebruik en akademiese navorsing te bevorder. Belangrike projekte sluit die Ulster-Skotse vertaling van die vier Evangelies en die publikasie van 'n grammatika en historiese Engels-Ulster-Skotse woordeboek in.[2] HoofdialekteDie Skotse taalgebied word in vier dialekstreke verdeel wat verder onderverdeel kan word in tien kleiner dialekgebiede[3]
Noord-Skots toon invloede van Noorse dialekte van Skandinawiese setlaars wat hulle in Skotland gevestig het, terwyl Suid-Skots nou verwant is aan die dialekte van Noord-Engeland. Ulster-Skots – die Noord-Ierse variant van Skots – word as 'n uitbreiding van Sentraal-Skots geklassifiseer. WoordeskatSkots is deurspek met enkele Keltiese leenwoorde, soos galore (baie) wat sy oorsprong in Gaelies gu leor het. Met die stigting van Skandinawiese nedersettings en as gevolg van die nou bande wat tydens die 15de en 16de eeu met Frankryk gehandhaaf is, is 'n aantal Noorse, Nederlandse, Nedersaksiese en Franse woorde in Skots ingeburger. Nedersaksies kirk, kark (kerk) het kirk in Skots geword, terwyl Engels church gebruik. 'n Klompie Skotse woorde staan dwarsdeur die Engelstalige wêreld bekend: Lass en lassie (meisie), auld (Engels: old, ou(d)), burn (van Oud-Engels burna, klein rivier), muckle (Engels: mickle; baie, groot), syne (Engels: since, sedert, nadat) en wee (van Middel-Engels wei, klein) is net enkele voorbeelde. GrammatikaDie grammatika toon nie baie afwykings van die Engelse standaardtaal nie, alhoewel daar enkele spesifieke Skotse sinspatrone is, wat byvoorbeeld die gebruik van partikels betref:
Uitspraak
VerwysingsEksterne skakels
|