Australopithecus afarensis
Australopithecus afarensis is ’n uitgestorwe hominied wat tussen 3,9 en 2,9 miljoen jaar gelede geleef het.[1] A. afarensis was skraal gebou, nes die jonger Australopithecus africanus. Daar word geglo hulle was nader verwant aan die genus Homo (en dus die mens, Homo sapiens) – óf as ’n direkte voorouer óf as ’n nabyverwant van ’n onbekende voorouer – as enige ander bekende primaat uit dié tyd.[2] Die beroemdste fossiel is die gedeeltelike geraamte van Lucy (3,2 miljoen jaar oud), wat deur die Amerikaanse paleoantropoloog Donald Johanson en sy kollegas gevind is. Om hul vonds te vier, het hulle die Beatles se liedjie Lucy in the Sky with Diamonds gespeel,[3][4][5] vandaar die naam. Fossiele van A. afarensis is nog net in Oos-Afrika ontdek; die volledigste hiervan was in Ethiopië, waar ook Lucy en die "Eerste Familie" gevind is. Anatomie![]() Tande en breingrootteIn vergelyking met die moderne en uitgestorwe groot ape, het A. afarensis klein oog- en kiestande gehad, hoewel hulle steeds groter was as die moderne mens s’n. Hulle het ook ’n relatief klein breingrootte gehad (~380–430 cm3), en kakebene wat vorentoe uitstaan. Die beeld van ’n hominied met ’n klein brein en primitiewe gesig wat op twee bene loop, was in dié tyd ’n openbaring vir paleoantropoloë. Voorheen is geglo ’n groter brein was die eerste stap in die ontwikkeling van die tribus Hominini en dat eers later op twee bene geloop is, want die oudste fossiele van Hominini wat tot in daardie stadium gevind is, het ’n breinkapasiteit van ~800 cm3 gehad. Morfologie en bewegingSommige studies het bevind A. afarensis het feitlik net op twee bene geloop, terwyl ander navorsers meen hulle het ook boom geklim. Die anatomie van die hande, voete en skouergewrigte ondersteun laasgenoemde teorie. Veral die morfologie van die skouerblaaie lyk aapagtig en baie anders as mense s'n.[6] Die kromming van die vinger- en toonbene lyk baie soos dié van moderne ape, en dit bevestig die vermoede dat hulle die vermoë gehad het om takke vas te gryp en te klim. Aan die ander kant dui die verlies van groottone wat van die voet kan wegtrek en dus die vermoë om takke met hul voete vas te gryp (’n eienskap van alle ander primate), daarop hulle was nie meer aangepas om te klim nie.[7] Rekenaarsimulasies dui aan A. afarensis kon op dieselfde manier loop as mense, met ’n regop lyf of gebuigde heupe en knieë, maar nie soos die sjimpansee nie. Die regop stap sou baie minder energie geverg het as laasgenoemde en sou dus doeltreffender gewees het.[8][9]
Gedrag’n Rekonstruksie van die sosiale gedrag van die spesie is moeilik, maar hul sosiale struktuur het waarskynlik ooreengestem met dié van moderne ape, as ’n mens die verskil in grootte tussen die manlike en vroulike A. afarensis in ag neem. Hoewel daaroor gedebatteer word, was die mannetjies relatief groter as die wyfies. Hulle het waarskynlik in klein familiegroepe gewoon met ’n dominante mannetjie en ’n paar telende wyfies.[5] Geen steengereedskap is vir ’n lang tyd met A. afarensis verbind nie en paleoantropoloë het gedink steenartifakte dateer uit sowat 2,5 miljoen jaar gelede.[10] In 2010 het ’n studie egter aangetoon die spesie het vleis geëet wat hulle met steenimplemente van die bene afgekerf het. Die vermoede is nou dat steengereedskap reeds uit 3,4 miljoen jaar gelede dateer.[11] Verwysings
Verdere leesstof
Eksterne skakels
Information related to Australopithecus afarensis |