Topsy Smith
Topsy Smith (12 Julie 1914 – 5 Maart 1985) was 'n Afrikaanse skrywer wat ongeveer 200 boeke geskryf het. Hy is veral bekend vir sy jeugverhale, onder andere reekse soos Trompie, Saartjie (onder die skuilnaam Bettie Naudé) en Buksie. Sy boeke het 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en het jongmense vir baie jare lank lus en lief vir lees gemaak.[1] Die eerste Trompie-verhaal is in 1950 gepubliseer, met opvolgstories wat tot 1956 verskyn het. Die TV-reeks Trompie, wat op sy boeke gebaseer is, is in 1980 uitgesaai met Anton Goosen wat die bekende kenwysie gesing het. Die Saartjie-reeks het die eerste keer in 1953 verskyn en is tot 1958 gepubliseer. Beide die reekse is verskeie kere daarna herpubliseer. Sy laaste boek, Nog net een keer, is in 1991, ses jaar ná sy dood, gepubliseer.[2] Sy fiksie vir volwassenes word meestal onder die skuilnaam M.G. Smith gepubliseer. Lewe en werkMathys Gerhardus Smith is op 12 Julie 1914 in Parys in die Vrystaat gebore as een van drie kinders van Mathys Gerhardus Smith en Elizabeth Catharina Naudé.[3] Hy het ’n broer, Jacob Naudé, en ’n suster, Anna. Sy jeugjare bring hy in ’n Engelse huis in Pretoria deur.[4] Hy verloor albei sy ouers op vyftienjarige leeftyd en verhuis dan na Koppies in die Vrystaat. Hier is alles Afrikaans en hy lees alles wat hy in die hande kan kry. Hy matrikuleer op die dorp en in sy matriekjaar speel hy rugby vir die skool se eerste span en ook vir die dorpspan. Hy studeer dan verder aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die B.A.-graad behaal met Engels en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Tydens sy studentejare speel hy vir die Maties se eerste rugbyspan en is hy ook kaptein van die boksspan en lid van die atletiekspan. Na sy graad neem hy ’n kursus in liggaamsopvoeding en nadat hy ’n diploma verwerf word hy aangestel as organiseerder van liggaamsopvoeding vir die skole van Springs en Brakpan. Vir geruime tyd hierna werk hy ook as vryskut-sportjoernalis vir onder andere Die Vaderland en Die Sondagpers. Van Springs word hy na Krugersdorp verplaas, maar hy besluit om eerder gewone onderwys te gee en behaal in 1943 die Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria. In 1944 begin hy Afrikaans onderrig by ’n Engelse privaatskool in Johannesburg.In 1978 tree hy af as hoof van Sandringham Laerskool, ’n posisie wat hy vir 25 jaar beklee het. Hierna ondervind hy hartprobleme en ondergaan in 1980 ’n groot opehartoperasie. Hy is getroud met Josie Stuart-Bertram en hulle het ’n dogter, Shona, en ’n seun, Anthony. Op 5 Maart 1985 is hy oorlede. SkryfwerkReeds as student verskyn sy eerste kortverhaal in 1937 in Die Huisgenoot. In sy vrye tyd as onderwyser begin hy kortverhale en sketse skryf vir verskillende tydskrifte en sy verhaal, Trompie se das (voorloper vir die latere reeks) word op 25 Mei 1943 in Naweek gepubliseer. Nie-fiksieSy eerste boeke is nie-fiksie sportboeke, wat insluit Kampioene van die bokskryt, Ons Springbok-rugbyspelers en Tokkelossie (’n rugbygeskiedenis van die Springbokke tot voor die Tweede Wêreldoorlog), Bokshelde van die wêreld, Draers van groen en goud, “Atlete van Springbokland en Spannende gebeure van die sportwêreld. JeugreekseHy is egter veral bekend vir sy talle jeugreekse, waaronder die Trompie-reeks en ook die Saartjie-reeks, laasgenoemde wat hy onder die skuilnaam Bettie Naudé skryf. Hierdie reekse, hoewel dit hewige teenstand vanuit letterkundige kringe kry omdat dit kwansuis nie letterkundig van aard is nie, is waarskynlik die gewildste reekse vir die Afrikaanse kind ooit. Hy skryf nog ander reekse jeugverhale, soos die Louws van Linton, Jantjie, Hendrik Hoffman, Bosapies van Bergville en Gampietjie-reekse. Vir Engelse kinders skryf hy reekse oor Nicky (ook in Afrikaans vertaal as die Niekie-reeks) en Leon. TrompieDie Trompie-reeks beskryf die wedervaringe van Trompie en die Boksombende, wat in die dorpie Kwaggaberg woon en middae na skool by die Fort vergader, waar hulle slim en stoute planne bedink en dan uitvoer. Trompie Toerien is die leier en die ander bendelede is die ewig-kouende Blikkies, die slimkop Dawie en die sterk Rooie, terwyl Trompie se hond, Boesman, die seuns orals vergesel. Hierdie reeks word telkemale herdruk en heruitgegee in omnibusse. Dit is ook ’n trefferreeks op televisie en die temalied, Trompie en die Boksombende, gesing deur Anton Goosen, word baie bekend. ’n Nuwe Trompie-reeks wat Smith ná ’n paar jaar begin skryf, kry nie dieselfde aftrek as die oorspronklike een nie. SaartjieIn die Saartjie-reeks is die dertienjarige Saartjie Baumann die hoofkarakter. Sy is die dogter van ’n snydokter en hulle woon in die voorstad Lynnekom in Johannesburg. Haar “kliek” is Anna en Lina, met die klein Muggie wat altyd ongenooid soos ’n skaduwee agter hulle aandrentel. Klein Apie, Saartjie se boetie, is ’n ewige doring in hulle vlees. Ook hierdie reeks word omskep in ’n televisiereeks en word verskeie heruitgegee, ook in omnibus-vorm. Die eksperiment om Trompie en Saartjie te kombineer in ’n reeks is minder geslaag en slegs twee boeke in hierdie beplande reeks word gepubliseer. JantjieDie Jantjie-reeks speel op die dorpie Petrusdorp af, waar Jantjie en sy bende, die Nuuskierige Agies, die dorp op horings neem. Bosapies van BergvilleDie Bosapies van Bergville speel op ’n klein dorpie in die Boland af en het vyf kinders (van albei geslagte) as hoofkarakters. Die leier van die bende Bosapies is die negejarige Buksie Barnard en die ander lede van die bende is Tjokkie Gous en sy tweelingsuster Geitjie Gous, Lien Barnard en Japsnoet Barnard (Buksie se broer en suster). Hulle vang allerhande kattekwaad aan en beland ook in spannende avonture, soos die keer toe Buksie agterkom wie die gemaskerde man is wat die rooftogte in Bergville uitvoer en die Bosapies kry om hom te help om die man te vang. Hierdie boeke is op jonger kinders gemik en word ook in groter formaat gepubliseer en geïllustreer. GampietjieDie Gampietjie-reeks beskryf die wedervaringe van die twee broers Gampietjie Gouws en sy broertjie Gawie, wat in die Sonskynweeshuis is nadat hulle ouers oorlede is. Hier vorm hulle hegte vriendskappe met Willem Barnard en die witkopdogtertjie Rina Neethling. Hulle het talle avonture, onder meer wanneer hulle probeer om weg te loop. Die maats se lewens verander, maar die avonture hou nie op nie, nadat hulle aangeneem word en op die dorpie Gansville gaan woon. Die Louws van LintonDie Louws van Linton-reeks het die twaalfjarige Lammie Louw as hoofkarakter en meeste van die gebeure draai om hom. Daar is egter ook Gogga, Lammie se onnutsige jonger broertjie, hulle ouer broer Christo wat reeds in matriek is en hulle ouer suster Elise, wat reeds uit die skool is. Die pa is die gesette en joviale Jan Louw en die ma is Martha Louw. Hulle moet die wysheid van Salomo en die geduld van Job hê om huis te hou met veral Lammie en Gogga. Die Louws woon in Linton, ’n voorstad van Johannesburg. Hendrik HoffmanDie Hendrik Hoffman-reeks is vir groter kinders, met Hendrik en sy maats wat aan die begin in matriek is en dan verder studeer op Stellenbosch. Hendrik Hoffman is die leier en ’n skitterende sportman en sy maats is Kallie Snyman, ook ’n gedugte sportman, die vet Sakkie de Beer en die tingerige maar skrander Pietie Kleynhans, wat by almal as Tinktinkie bekendstaan. Linda Greyling is die meisie wat Hendrik se hart vinniger laat klop en sy speel saam met haar vriendin, Anna Jooste, ook ’n belangrike rol in hierdie reeks. Nie-reeks boekeHy skryf enkele nie-reeks boeke. Gamaroela-Gawie en Tjokkie is rugbyverhale vir seuns, terwyl Roelf Reyneke – Aanslag nommer een ’n avontuurverhaal vir seuns is. Sy heel laaste boek (uitgegee ses jaar na sy dood) is weer ’n sportboek vir seuns, hierdie keer oor boks, naamlik Nog net een keer. Shona en die feetjies is ’n fantasieverhaal wat hy vir sy dogtertjie skryf. Volwasse fiksieVir volwasse lesers skryf hy boeke vir die Dagbreek-Boekkring, meestal onder die naam M.G. Smith, waarvan Juffrou Jackie se man die gewildste is. Die ontluiking van tant Matilda (later heruitgegee as Die metamorfose van Matilda) is ook vir hierdie mark en vertel van die 33-jarige oujongnooi Matilda se verandering nadat sy onverwags die waardevolste diamant in die wêreld erf en die mans om haar begin draai. Blonde godin is ’n spanningsverhaal vir volwasse lesers. Nadat ’n intieme vriendin se man vermoor word, besluit dr. Gie impulsief om te help en hy dokter die misdaadtoneel om haar ’n beter alibi te gee. Hy verloor egter sy identiteitsdokument en vlug, waarna hy ’n feitlik onmoontlike stryd voer om sy onskuld te bewys. Hy skryf ook talle tydskrifvervolgverhale onder verskeie skuilname. PublikasiesWerke uit sy pen sluit in:[5][6][7][8] Topsy SmithNie-reeks boeke
Die Trompie-reeks
Die nuwe Trompie-reeks
Trompie en Saartjie
Die Bosapies van Bergville-reeks
Die Hendrik Hoffman-reeks
Die Louws van Linton-reeks
Die Gampietjie-reeks
Die Jantjie-reeks
Die Leon-reeks
Die Nicky-reeks
Bettie NaudéDie Saartjie-reeks
BronneBoeke
Tydskrifte en koerante
Ongepubliseerde dokumente
Verwysings
|