Vredendal
Vredendal is een van die jongste en dus ook modernste dorpe in die Wes-Kaap en ook een van die snelgroeiendste. LiggingDie dorp is 322 km noord van Kaapstad aan die spoorlyn na Bitterfontein en langs die Olifantsrivier geleë. Dit val binne die Olifantsrivier-besproeiingsgebied. Vanrhynsdorp en Klawer is elk 24 km per pad van die dorp geleë en Lutzville ietwat verder. GeskiedenisDie dorp het sy ontstaan te danke aan die besproeiingskema wat hier gebou is. Dit is vroeg in 1945 as dorp gestig en het eers op 1 Maart 1963 munisipale status verkry. Ingevolge die huidige munisipale bedeling is Vredendal deel van die Matzikama Plaaslike Munisipaliteit, waarvan dit die setel is. WapenVredendal se munisipale raad het in 1972 'n wapen by die Buro vir Heraldiek geregistreer : Ingeboe kepersgewys verdeel van rooi en silwer, in die skildhoof twee gousblomme van goud en in die skildvoet 'n aansiende olifantskop van natuurlike kleur. Die helmteken was 'n wit duif met 'n takkie in sy bek, en die wapenspreuk was Prosperitas per pacem.[2] Die wapen is deur dr. Cornelis Pama ontwerp. NG gemeente
Die gemeente is op 13 November 1933 onder die naam "Olifantsrivier" met 1 000 lede van Vanrhynsdorp afgestig. Die gemeente het aanvanklik swaar gekry, omdat die nedersetters van die skema noustrop getrek het. Eredienste op Vredendal is eers in 'n klein skoolgeboutjie gehou. Vir Nagmaaldienste moes die kerkgangers in die oopte onder 'n bloekombos byeenkom. Die eerste predikant was ds. P.F. Greyling. Die gedeelte van die gemeente wat aanvanklik as Neersetting bekendgestaan het, is in 1937 as Lutzville afgestig. In 1940 besluit die Sinode om die naam van die gemeente Olifantsrivier na Vredendal te verander. Die huidige kerkgebou is op 23 September 1950 ingewy, sonder skuld. Die NG gemeente Klawer het in 1949 hoofsaaklik van die NG gemeente Vanrhynsdorp afgestig, buiten 10 huisgesinne wat van Vredendal weggesny en by Klawer gevoeg is. Vredendal-Wes is in 1974 afgestig en vandag het die twee gemeentes saam meer as 2 500 doop- en belydende lidmate. OnderwysVolgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het Vredendal in 2016 sewe skole gehad. Twee was preprimêre skole, drie laerskole (Vergenoeg RK Primêre Skool, Vredendal-Noord Primêre Skool en die Laerskool Vredendal) en twee hoërskole (Vredendal Sekondêre Skool en die Hoërskool Vredendal). Van die laerskole het Vergenoeg 876 leerders van gr. R tot 7 gehad, Vredendal-Noord 1 091 in dieselfde grade en Vredendal 573. Vredendal Sekondêr het 1 059 leerders gehad en die Hoërskool Vredendal 468.[3] Sien ookBronne
Verwysings
Eksterne skakels
|