Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023
Die Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023 (Engels: 2021–2023 ICC World Test Championship) is van 4 Augustus 2021 tot 11 Junie 2023 beslis. Dit was die tweede Wêreldtoetskampioenskap in toetskrieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Dit het op 4 Augustus 2021 begin met die eerste toets in die Pataudi-trofeereeks en geëindig op 11 Junie 2023 met die eindstryd op The Oval, Londen, Engeland. Aan die Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023 het nege van die destydse twaalf toetslande deelgeneem, waarvan elke span ’n toetsreeks teen ses van die ander agt ander spanne gespeel het. Elke reeks het tussen twee en vyf wedstryde behels, dus het elke span ses reekse gespeel (elk drie tuis en weg); daar is egter nie met dieselfde aantal toetswedstryde vir elke span beplan nie. Elke span kon tydens elke reeks ’n maksimum 120 wedstrydpunte insamel en die twee spanne met die meeste wedstrydpunte het in die eindstryd ontmoet.[3] In die geval van ’n gelykop of onbesliste eindstryd sou albei spanne die trofee deel. Van die toetsreekse in die Wêreldtoetskampioenskap was deel van langer aaneenlopende reekse, soos die As-reeks 2021/22. Van die nege deelnemende spanne sou ook bykomende toetswedstryde in die tydperk speel, wat nie deel was van die Wêreldtoetskampioenskap nie, maar wel van die IKR se Toekomstige Toerprogram vir 2018–23, veral om toetswedstryde aan die drie toetslande te besorg wat nie aan die Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023 deelgeneem het nie.[4] Beide Australië en Indië het hul plek in die eindstryd op The Oval in Londen tydens die Border-Gavaskar-trofee bespreek, Australië op 5 Maart nadat hulle die derde toets gewen het[5] en Indië nadat die vierde toetswedstryd op 13 Maart 2023 onbeslis geëindig het.[6] Australië het die eindstryd met 209 lopies gewen, waarvolgens hulle die eerste span geword het om al die IKR-trofee in te palm.[7] Tabel
Toetsreekse
Verwysings
Eksterne skakels
|