Pakistanse nasionale krieketspan
Die Pakistanse nasionale krieketspan (Engels: Pakistan national cricket team; Oerdoe: پاکستان قومی کرکٹ ٹیم, Pākistān qaumī kirkeṭ ṭīm), met die byname Shaheens (شاہین; letterlik: “valke”),[13][14] Green Shirts,[15] Men in Green,[16][17][18] is die nasionale krieketspan wat Pakistan in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Pakistanse Krieketraad (PCB) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Pakistan is tans (Junie 2024) sesde op die IKR-toetsranglys, vierde op die eendagranglys en sewende op die Twintig20-wêreldranglys.[19][20][21] Pakistan het 456 toetswedstryde gespeel, 148 gewen, 142 verloor, in nul gelykop en in 166 onbeslis gespeel.[22] Pakistan het, as die tweede land in Asië, op 28 Julie 1952 toetsstatus verkry – op aanbeveling van Indië – en Pakistan het sy toetsdebuut teen Indië op Feroz Shah Kotla Ground, Delhi, in Oktober 1952 gemaak, wat Indië met ’n beurt en 70 lopies gewen het.[23] In die 1930’s en 1940’s, voor die Verdeling van Indië in 1947, het verskeie Pakistanse krieketspelers vir die Indiese krieketspan in toetswedstryde verskyn. Pakistan het 970 EDIs gespeel, 512 gewen, 428 verloor, in nege gelykop en in 21 onbeslis gespeel.[24] Pakistan het die Krieketwêreldbeker in 1992 gewen en die Krieketwêreldbeker in 1999 as naaswenner afgesluit. Pakistan het, saam met ander lande van Suid-Asië, die krieketwêreldbekertoernooie in 1987 en 1996 aangebied, en die 1996-eindstryd is op Gaddafistadion in Lahore beslis. Pakistan het 245 Twintig20 gespeel, meer as enige ander span, 142 gewen, 92 verloor, in vier gelykop en in sewe onbeslis gespeel.[25] Pakistan het die eerste T20I-wêreldbeker 2007 as naaswenner afgesluit en die T20I-wêreldbeker 2009 gewen, later het hulle ook die T20I-wêreldbeker 2022 as naaswenner afgesluit. Pakistan het ook die Kampioenetrofee 2017 vir die eerste keer gewen, nadat hulle Indië verslaan het. Pakistan het sodoende die eerste span geword wat al die vername internasionale kriekettoernooie gewen het: Krieketwêreldbeker, T20I-wêreldbeker, Kampioenetrofee en die Toetskampioenskap.[26][27] Sewe voormalige Pakistanse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem. Terrorisme in Pakistan het daartoe gelei dat verskeie nasionale spanne nie na dié land getoer het nie, en ná die 2009-aanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan nie meer internasionale krieketwedstryde in Pakistan gespeel is nie.[28] Eweneens is Pakistan van sy rol as medegasheer vir die Krieketwêreldbeker 2011 ontneem.[29][30] Vanaf 2009 het Pakistan sy tuiswedstryde veral in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel.[31] Maar ná die afname van terreuraanvalle in Pakistan gedurende die onlangse jare, en die verbetering van veiligheid in dié land, het verskeie spanne sedert 2015 weer na Pakistan begin toer.[32] Van die spanne sluit in Zimbabwe, Sri Lanka, Wes-Indië, Bangladesj, Suid-Afrika, Australië, Engeland, Nieu-Seeland en ’n IKR Wêreld XI. Daarbenewens is wedstryde van die Pakistan Superliga in Pakistan aangebied.[33][34][35][36][37] Beheerliggaam
Die Pakistanse Krieketraad (PCB) is op 1 Mei 1949 as Raad vir Beheer van Krieket Pakistan (BCCP) gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Pakistan.[38] Sedert 28 Julie 1952 is Pakistan ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en mag dus toetskrieket speel.[39][40] Daarbenewens was die Pakistanse beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).[41] Die Pakistanse Krieketraad bestuur al die Pakistan-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die PCB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Pakistanse span. Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Pakistan oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[42] Pakistan A, oftewel Pakistan Shaheens, is die tweede nasionale span van Pakistan en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status. GeskiedenisBeginjareKrieket in Pakistan het ’n geskiedenis wat reeds voor die onafhanklikheid van dié land in 1947 begin; die spel is deur die Britte in die vroeë 1700’s na hul destydse kroonkolonie Brits-Indië gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die eerste bekende internasionale krieketwedstryd in Karatsji is op 22 November 1935 tussen Sindh en Australië gespeel. Dié wedstryd is deur 5 000 Karatsji’s bygewoon.[43] Ná onafhanklikheidNá die Verdeling van Indië en die gepaardgaande onafhanklikheid van Pakistan in 1947 het spoedig ’n krieketbedryf in dié land begin ontwikkel. Op 1 Mei 1949 is die Raad vir Beheer van Krieket Pakistan gestig en het op 28 Julie 1952 – op aanbeveling van Indië – ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys.[39] Laasgenoemde het, as opvolgerstaat van Brits-Indië, nie só ’n spoedige ontwikkeling in krieket ondergaan nie. Abdul Hafeez Kardar is as eerste kaptein van die nuwe nasionale krieketspan benoem.[44] Pakistan se eerste toetswedstryd is in Oktober 1952 op Feroz Shah Kotla Ground, Delhi, gespeel. Dit was deel van ’n vyf-toetsreeks, wat die gasheer met 2–1 gewen het, met twee onbesliste wedstryde.[45] Pakistan het sy eerste toer na Engeland in 1954 onderneem en die toetsreeks met 1–1 geëwenaar.[46] Die Pakistanse oorwinning op The Oval, waarin die snelbouler Fazal Mahmood twaalf paaltjies geneem het, was die span se eerste wegoorwinning in Engeland.[47][48] Pakistan se eerste tuistoetswedstryd is in Januarie 1955 op Bangabandhu Nasionale stadion, Dacca, Oos-Pakistan (Dacca was destyds deel van Pakistan, maar is nou die hoofstad van Bangladesj) gespeel. Indië was weer die teenstander en ook dié wedstryd was deel van ’n vyf-toetsreeks. Die ander vier toetswedstryde is in Bahawalpur, Lahore, Pesjawar en Karatsji gespeel. Vir die eerste keer in die toetskrieketgeskiedenis het al die vyf toetswedstryde van ’n toer onbeslis geëindig.[49] In dieselfde jaar het Nieu-Seeland Pakistan vir die eerste keer vir ’n toetsreeks tussen albei nasionale spanne besoek. Die eerste toetswedstryd het die gasheer met een lopie en die tweede met vier paaltjies gewen. Die laaste toetswedstryd het onbeslis geëindig, waarvolgens Pakistan sy eerste toetsreeks gewen het (met 2–0).[39] In 1956 het Australië tydens sy Suid-Asiatiese toer vir die eerste keer in ’n toetswedstryd teen Pakistan te staan gekom, wat die gasheer gewen het. Hulle het Australië in die eerste beurt op 80 lopies uitgeboul. Nadat Pakistan vir 199 sy paaltjies verloor het, was hulle met 119 lopies voor. In die tweede beurt het Pakistan Australië op 187 uitgeboul, en nadat hulle die nodige 68 lopies aangeteken het, het hulle met nege paaltjies geseëvier. Fazal Mahmood het weereens met sy boulwerk uitgeblink en 13 paaltjies vir 114 lopies geneem.[50] In 1958 het Pakistan sy eerste toer na die Karibiese gebied onderneem en in vyf toetswedstryde gespeel. Die eerste toetswedstryd het onbeslis geëindig. Hanif Mohammad het sy span van ’n nederlaag gered, nadat hulle in die eerste beurt op 106 lopies uitgeboul is en Wes-Indië voorheen 579 lopies aangeteken het. Tydens hul lopiejaag van 473 lopies het Mohammad in die laaste toetsbeurt van 970 minute gekolf en die beslissende 337 lopies aangeteken.[51] Wes-Indië het die daaropvolgende drie toetswedstryde gewen en in die laaste toetswedstryd het Pakistan sy eerste oorwinning met ’n beurt en een lopie teen dié span aangeteken. Die keer het Hanif se broer Wazir Mohammad 189 lopies vir Pakistan se telling van 496 lopies in antwoord op die gasheer se 268 lopies bygedra. Wes-Indië is in die tweede beurt op 227 lopies uitgeboul, maar hulle het die toetsreeks reeds met 3–1 beklink.[39] Onder Imran Khan na wêreldklasDie koms van EDI-krieket het ook vir Pakistan nuwe aspekte by die internasionale krieket gevoeg. In 1973 het Pakistan sy eerste EDI-wedstryd tydens hul Nieu-Seelandse toer in Christchurch gespeel, maar hulle is deur die gasheer met 22 lopies verslaan. Met die EDI-krieket het die Krieketwêreldbeker verskyn en terwyl hulle tydens die groepfase van die Krieketwêreldbeker 1975 uitgeskakel is, het Pakistan tydens die toernooie in 1979, 1983 en 1987 drie agtereenvolgende keer die halfeindstryd gehaal. Toe Imran Khan in 1982 as kaptein van die nasionale span aangewys is, het hy Pakistan na wêreldklas geneem. Reeds in die tweede toetswedstryd tydens hul 1982-toer na Engeland op Lord’s het hy sy span na hul eerste oorwinning op Engelse bodem in 28 jaar aangevoer.[52] Een van die noemenswaardige ontmoetings met Indië was die eindstryd van die Australasiatiese Beker in 1986 in Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate. Indië het eerste gekolf en ’n teiken van 245 lopies opgestel, waarvolgens Pakistan ’n lopietempo van 4.92 lopies per boulbeurt benodig het. Toe Pakistan aan die beurt was, het Javed Miandad op nommer drie gekolf en Pakistan het paaltjies op ’n gereelde manier verloor. Nadat net drie boulbeurte oor was en Pakistan nog 31 lopies vir ’n oorwinning benodig het, was Indië blykbaar op die punt van ’n oorwinning. Miandad wou „met waardigheid verloor“ en het ’n reeks grenshoue geslaan, terwyl sy span met ’n laerorde gekolf het, totdat hulle vier lopies met die laaste aflewering van die wedstryd benodig het. Miandad het ’n volle gooi aan die beenkant van Chetan Sharma ontvang, wat hy vir ’n grenshou oor die middelste paaltjiegrens geslaan en Pakistan die wedstryd laat beklink het. Javed Miandad het toe ’n nasionale held geword.[53][54][55] In 1987 het Khan sy span na hul eerste toetsreeksoorwinning in Indië geneem, nadat die eerste vier toetswedstryde onbeslis geëindig en Pakistan die vyfde gewen het.[56] Daarop het die eerste Pakistanse reeksoorwinning in Engeland gevolg.[57] Daarbenewens het Pakistan gedurende die 1980’s in drie agbare onbesliste wedstryde teen Wes-Indië gespeel. In 1987 het Indië en Pakistan die Krieketwêreldbeker saam aangebied, maar geen van albei spanne het verby die halfeindrondte gevorder nie. Ná die einde van die Krieketwêreldbeker het Khan uit internasionale krieket bedank. In 1988 het die Pakistanse president Mohammed Zia ul-Haq hom gevra om weer die nasionale span aan te voer, waarvoor hy op 18 Januarie 1988 ingestem het. Kort ná sy terugkeer as kaptein het Khan Pakistan deur ’n suksesvolle toer in Wes-Indië gelei, waartydens hy 23 paaltjies in drie toetswedstryde geneem het.[58] Die Krieketwêreldbeker 1992 in Australië en Nieu-Seeland het vir Pakistan wisselvallig begin, nadat hulle in die groepfase, waar al die nege deelnemende spanne teen mekaar te staan gekom het, drie van hul agt groepwedstryde verloor het. Nadat hulle teen Engeland net 74 lopies aangeteken het, het dit geblyk, asof Pakistan reeds in die groepfase uitgeskakel sou word. Dié wedstryd is egter uitgereën en as ’n gelykop geag.[59] Die wedstryd teen Australië was ’n keerpunt, en Pakistan het al sy daaropvolgende groepwedstryde gewen, terwyl Australië en Indië uit die toernooi geskakel is. Tydens die halfeindstryd van die Krieketwêreldbeker 1992 het Nieu-Seeland die loot gewen en verkies om eerste te kolf en met ’n telling van 262 lopies gesluit. Pakistan het konserwatief gekolf, maar nogtans paaltjies op ’n gereelde manier verloor. Met die optrede van beide Imran Khan en Saleem Malik kort opmekaar, het Pakistan nog 115 lopies teen ’n lopietempo van 7.67 lopies per boulbeurt benodig, en die veteraan Javed Miandad was die enigste bekende kolwer wat by die kolfblad oorgebly het. ’n Jong Inzamam-ul-Haq het ’n beslissende 60 lopies uit 37 aflewerings aangeteken. Nadat Inzamam van die veld moes stap, het Pakistan nog 36 lopies uit 30 aflewerings benodig, en die paaltjiewagter Moin Khan het ’n uitstekende grenshou oor die langer kant geslaan, gevolg deur die wengrenshou oor die middelste paaltjie. Die wedstryd is eindelik deur ’n beslissende optrede van die jong Inzamam-ul-Haq gewen, en hy sou later oor jare heen kaptein van die nasionale span wees.[60][61][62] Met Engeland en Pakistan het twee spanne in die eindwedstryd ontmoet wat nog nie ’n titel ingepalm het nie. Pakistan het in sy beurt 249/6 aangeteken en hulle het daarin geslaag om Engeland op 227 uit te boul, waarvolgens hulle met 22 lopies gewen het. Die kaptein Imran Khan, wat die beslissende laaste paaltjie self geneem het, het die trofee eindelik omhoog gehou. Imran Khan het vanaf die groepfase vir sy span opdrag gegee om soos “vasgekeerde tiere” (cornered Tigers) te speel, waarvolgens hulle al die volgende wedstryde gewen het. Pakistan se titeloorwinning word veral vir dié span se herstel ná die aftrede van sleutelspelers soos Waqar Younis en Saeed Anwar, asook die kaptein Imran Khan, wat ondanks sy besering aangehou speel het, onthou.[63] Tydens die Krieketwêreldbeker 1996, wat in Indië, Pakistan en Sri Lanka aangebied is, is hulle in die kwarteindstryd deur die „aartsvyand“ Indië verslaan, terwyl hulle tydens die Krieketwêreldbeker 1999 eers in die eindstryd deur Australië verslaan en tydens die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika reeds in die groepfase uitgeskakel is. Daarteenoor kon hulle tydens die Asiatiese Beker 2000 in Bangladesj ná ’n eindstrydoorwinning oor Sri Lanka met 39 lopies hul eerste titel by dié toernooi wen.[64] Wisselvallige toernooieDie Krieketwêreldbeker 2007 het een van die grootste verrassings in die krieketgeskiedenis gesien, toe Pakistan deur Ierland in Jamaika verslaan is; die Iere het in hul eerste toernooi gespeel. Pakistan, wat dié wedstryd weens hul nederlaag in die openingswedstryd teen Wes-Indië moes wen, is deur Ierland op die kolfblad gesit. Hulle het paaltjies op ’n gereelde manier verloor en net vier kolwers het dubbelsyfers aangeteken. Aan die einde is hulle deur die Iere met 132 lopes uitgeboul. Die Iere het die wedstryd beklink, nadat Niall O’Brien 72 lopies aangeteken het. Vervolgens is Pakistan tydens die tweede agtereenvolgende krieketwêreldbekertoernooi in die groepfase uitgeskakel en hulle het baie kritiek deurgeloop.[65][66] ’n Tragedie het die Pakistanse span getref nadat hul hoofafrigter Bob Woolmer een dag later, op 18 Maart 2007, in ’n hospitaal in Kingston, Jamaika, oorlede is.[67][68] Nadat die Jamaikaanse polisie die dood aanvanklik as ’n moord ondersoek en enkele spelers van die span as verdagtes verneem het, het hulle tot die slotsom gekom dat Woolmer aan natuurlike oorsake dood is.[69] Die adjunkafrigter Mushtaq Ahmed het as voorlopige hoofafrigter vir die span se laaste groepwedstryd tydens die toernooi opgetree.[70] Ná sy span se uitskakeling en die dood van Woolmer het Inzamam-ul-Haq sy bedanking as kaptein en sy uittrede van EDI-krieket aangekondig, en verklaar dat hy verder toetskrieket sal speel, maar nie as ’n kaptein nie.[71] Shoaib Malik is as sy opvolger benoem.[72] Ná sy heraansluiting by die span is Salman Butt as adjunkkaptein tot in Desember 2007 aangewys.[73] Op 20 April 2007 het die Pakistanse Krieketraad die voormalige toetskrieketspeler Talat Ali as voorlopige afrigter benoem, bykomend tot sy rol as spanbestuurder.[74] Op 16 Julie 2007 is Geoff Lawson, voorheen hoofafrigter van Nieu-Suid-Wallis, as Pakistanse hoofafrigter vir die volgende twee jaar aangestel, en hy het die derde buitelander in dié pos geword.[75] Tydens die T20I-wêreldbeker 2007 in Suid-Afrika het Pakistan die verwagtinge oortref en die eindstryd gehaal, maar hulle is in die eindstryd deur Indië naelskraap met vyf lopies verslaan.[76] In Oktober 2008 is Intikhab Alam deur die Pakistanse Krieketraad as nuwe hoofafrigter benoem.[77] Ontneming van tuiswedstryde en tweede internasionale titelTydens Sri Lanka se 2009-toer na Pakistan is op 3 Maart die besoekende span in Lahore aangeval. Sri Lanka het voorheen vir Indië ingestaan,[78] nadat die Indiese beheerliggaam BCCI om politieke redes en veiligheidskwessies ná die aanvalle in Mumbai twee maande voorheen geweier het om ’n span te stuur.[79] As gevolg van die aanval op die Sri Lankaanse span het die IKR daarop besluit om Pakistan van sy gasheerregte vir die beplande 14 wedstryde tydens die Krieketwêreldbeker 2011 te ontneem en dié wedstryde onder die ander drie gashere Bangladesj, Indië en Sri Lanka te verdeel.[80] Pakistan het vervolgens met regstappe gedreig en daarop aangedring dat bykomend tot ’n finansiële vergoeding die in Pakistan beplande wedstryde na ’n neutrale plek (byvoorbeeld die Verenigde Arabiese Emirate)[81] verskuif word.[82][83] Uiteindelik het Pakistan en die IKR oor ’n finansiële vergoeding ooreengekom.[84] Nog ’n gevolg was, dat al die ander krieketlande geweier het om toere na Pakistan te onderneem, waarvolgens hulle hul tuiswedstryde na die Verenigde Arabiese Emirate of Engeland moes verskuif.[85] Eers in 2015 het met Zimbabwe weer ’n toetsland ’n toer na Pakistan onderneem.[86] Tydens die T20I-wêreldbeker 2009 in Engeland het die span swak begin, maar deur die toernooi heen verbeter en die eindstryd gehaal. Tydens die eindstryd op Lord’s het Sri Lanka die loot gewen en verkies om eerste te kolf. Die eerste boulbeurt is deur Mohammad Amir geboul. Nadat hy versuim het om die eerste vier aflewerings – wat almal kort aflewerings was – in lopies om te skep, het Dilshan met sy kolf op die verkeerde tyd geslaan, waarvolgens hy aan die korter beenkant uitgevang is. Kort daarna het Jehan Mubarak ’n aflewering deur Abdul Razzaq skerp geslaan wat hoog in die lug opgestyg het en deur Shahzaib Hasan gevang is, waarna Sri Lanka op twee vir twee was.[87] Sanath Jayasuriya was in staat om die Sri Lankaanse beurt te stabiliseer en hy het 17 lopies uit tien aflewerings aangeteken, maar Jayasuriya het kort daarna geval nadat hy ’n goeie lang aflewering na die stompe gedeflekteer het. Mahela Jayawardene het gevolg nadat hy ’n aflewering in die hande van Misbah-ul-Haq geslaan het, waarna Sri Lanka op 32/4 was.[88] Beide Sangakkara en Chamara Silva het verdere lopies aangeteken, voordat laasgenoemde deur Saeed Ajmal uitgevang is, nadat hy ’n trekskoot uit die aflewering van Umar Gul gespeel het.[89] Shahid Afridi het kort daarna die paaltjie geneem van Isuru Udana met ’n draaibal wat in die regterhand ingestorm en die wegpen geklop het. Dit het Angelo Mathews op die veld gesit, wat saam met Sangakkara die telling van 70/6 na 138/6 geneem het, met 17 lopies wat uit die laaste deur Mohammad Amir bediende beurt aangeteken is. Sri Lanka sluit af met 138/6 van 20 boulbeurte.[90] Pakistan het met die openingskolwers Kamran Akmal en Shahzaib Hasan goed begin, wat 48 lopies om die eerste paaltjie aangeteken het, voordat Kamran Akmal deur Kumar Sangakkara met die eerste aflewering deur Sanath Jayasuriya gestonk is.[87] Pakistan het die teiken binne 18.4 beurte behaal, nadat Shahid Afridi, wat die beslissende lopies aangeteken het, as speler van die wedstryd aangewys is,[91] terwyl Tillakaratne Dilshan weens sy 317 lopies met ’n gemiddelde van 63.40 as speler van die toernooi benoem is. Pakistan se oorwinning is deur die Pakistanse gemeenskap in Engeland gevier, en dit was die eerste wêreldbekertitel sedert Imran Khan se “vasgekeerde tiere” die Krieketwêreldbeker in 1992 gewen het.[92] Tydens die T20I-wêreldbeker 2010 in Wes-Indië het Pakistan, Australië en Bangladesj in Groep A begin. Pakistan het die eerste wedstryd teen Bangladesj met 21 lopies gewen. Salman Butt het 73 lopies in net 46 aflewerings aangeteken. In die tweede wedstryd het Pakistan teen Australië gespeel; Australië het die loot gewen en verkies om eerste te kolf. Hulle het 191/10 uit 49 aflewerings met 81 lopies van Shane Watson aangeteken. In die wedstryd is die laaste boulbeurt van die Australiese beurt deur Mohammad Amir bedien. Hy het ’n driekuns behaal en twee spelers is uitgehardloop, en vyf verdere paaltjies is in die laaste boulbeurt van die Australiese beurt geneem.[93] In die Super 8 het Pakistan teen beide Engeland en Nieu-Seeland verloor, en hulle het net teen Suid-Afrika gewen. Hulle het net agter Engeland in Groep E van die Super 8 geëindig en tot die halfeindstryd gevorder. In die halfeindstryd het Pakistan weer teen Australië te staan gekom, en hulle het 191/6, insluitende Umar Akmal se 56 lopies nie uit nie, aangeteken. Australië het goed begin, en Michael Hussey het die beslissende 64 lopies uit net 24 aflewerings aangeteken. Australië het 197/7 in sy 19.5 boulbeurte behaal en die wedstryd beklink. Met hierdie wedstryd is die verdedigende kampioen Pakistan uit die toernooi geskakel.[94] Tyd van wisselvallige toernooiePakistan het uitstekend begin in die Krieketwêreldbeker 2011, wat in Indië, Sri Lanka en Bangladesj aangebied is, nadat hulle Kenia, Sri Lanka (een van die gunstelinge in die toernooi) en Kanada verslaan het. Ná ’n swak nederlaag teen Nieu-Seeland het Pakistan Zimbabwe met sewe paaltjies verslaan en sy plek in die kwarteindstryd bespreek. Van die hoogtepunte vir die Pakistanse span tydens die groepfase was hul oorwinning oor Australië, wat deur drie uitstekende snelboulers aangevoer is: Brett Lee, Shaun Tait en Mitchell Johnson. Pakistan het die kanse egter verontagsaam en Australië danksy ’n indrukwekkende boulwerkvertoning verslaan. Dit het Australië se rekordwenstreep van 27 agtereenvolgende krieketwêreldbekeroorwinning beëindig, wat tydens die Krieketwêreldbeker 1999 (ook teen Pakistan) begin het.[95] In die kwarteindstryd het hulle teen Wes-Indië te staan gekom. Pakistan het konsekwent gespeel en die Wes-Indiese span maklik met tien paaltjies verslaan, danksy ’n verdere indrukwekkende boulwerkvertoning. In die halfeindstryd het Pakistan teen sy aartsvyand Indië te staan gekom. Indië het 260 lopies aangeteken nadat hulle eerste gekolf het. Weens die gebreek aan ’n goeie kolflys en ’n stadige begin in die lopiejaag het Pakistan 29 lopies minder behaal en hulle is deur die latere wêreldkampioen Indië verslaan.[96] Tydens die Asiatiese Beker 2012 in Bangladesj het Pakistan sy tweede titel by dié toernooi ingepalm, nadat hulle die gasheer in die eindstryd met twee lopies verslaan het.[97] Tydens die T20I-wêreldbeker 2012 in Sri Lanka is Pakistan in Groep D saam met Nieu-Seeland en Bangladesj geloot. Hulle het maklik teen albei spanne gewen en Groep D as wenner afgesluit. In die Super 8 het Pakistan die wedstryd teen Suid-Afrika naelskraap met twee paaltjies gewen. Die volgende wedstryd was teen Indië, wat altyd baie aandag onder die krieketondersteuners geniet. Pakistan is vir net 128 lopies uitgeboul, en Indië het die teiken met net twee paaltjies behaal. Pakistan het sy laaste Super 8-wedstryd teen Australië met 32 lopies gewen, nadat Saeed Ajmal goed presteer en drie paaltjies vir 17 lopies geneem het. Pakistan het weens ’n beter lopietempo as Indië s’n vir die kwarteindstryd gekwalifiseer.[98] In die halfeindstryd het Pakistan teen die gasheer Sri Lanka te staan gekom. Sri Lanka het 139/4 aangeteken nadat Mahela Jayawardena begin het. Pakistan het die teiken amper behaal, maar paaltjies op ’n deurslaggewende interval het hulle agtertoe geneem. Die kaptein Mohammad Hafeez het 42 lopies aangeteken en al die ander kolwers het nie goed gevaar nie. Die wedstryd het ten gunste van Sri Lanka begin draai met ’n uitstekende prestasie deur Rangana Herath, wat die paaltjies van Mohammad Hafeez, Shahid Afridi en Shoaib Malik laat kantel het. Pakistan het die wedstryd eindelik met 16 lopies verloor.[99] Vir die T20I-wêreldbeker 2014 in Bangladesj het die Pakistanse span ná die Asiatiese Beker 2014 aangebly. Pakistan het in die eerste groepwedstryd teen die aartsvyand Indië gespeel, wat Indië met sewe paaltjies gewen het. Die volgende wedstryd was teen Australië, waarin Pakistan 191/5 met die uitstekende kolfwerk deur Umar Akmal aangeteken het. Australië se Glenn Maxwell het 33 aflewerings net in 74 lopies omgeskep en hulle het net 175 lopies aangeteken. Pakistan het die wedstryd met 16 lopies gewen. Die wedstryd teen Bangladesj was ’n maklike oorwinning met 50 lopies. Die aanvangskolwer Ahmed Shehzad het die eerste Pakistani geword om ’n T20I-honderdtal aan te teken.[100] Hy het met ’n onoorwonne 111 uit 62 aflewerings afgesluit. Die deurslaggewende wedstryd was teen Wes-Indië, waarvan die seëvierende span tot die halfeindstryd kon vorder. Wes-Indië het die loot gewen en verkies om eerste te kolf. Hulle het 166/6 in hul 20 boulbeurte aangeteken, Wes-Indië het 82 lopies binne die laaste vyf boulbeurte behaal en ’n vreesaanjaende slaan vir die Pakistanse kolwers besorg. Pakistan se lopiejaag was onsuksesvol nadat hulle op net 82 lopies uitgeboul is. Pakistan is met hierdie uitslag uit die toernooi geskakel.[101] Pakistan het tydens die Krieketwêreldbeker 2015 in Australië en Nieu-Seeland swak begin. Hul eerste wedstryd was teen die aartsvyand Indië. Indië het eerste gekolf en 300/7 aangeteken, waarvan Virat Kohli met ’n honderdtal. Ná ’n swak begin in die lopiejaag het die Pakistanse kaptein Misbah-ul-Haq ’n goeie bydrae met 76 lopies gemaak, maar Pakistan het dié wedstryd met 76 lopies verloor. Die tweede wedstryd teen Wes-Indië was ’n ramp. Wes-Indië het 310/6 op die bord geplaas. In antwoord daarop het Pakistan vier paaltjies vir net een lopie verloor, dit das die eerste keer in ’n EDI-wedstryd.[102] Die span is op 160 lopies uitgeboul en het die wedstryd met 150 lopies verloor. Pakistan het sy volgende vier wedstryde teen Zimbabwe, die Verenigde Arabiese Emirate, Suid-Afrika en Ierland gewen. Sarfaraz Ahmed het Pakistan se enigste honderdtal teen Ierland aangeteken en is in albei wedstryde teen Suid-Afrika en Ierland as speler van die wedstryd aangewys. Pakistan het sy eerste oorwinning oor Suid-Afrika in ’n krieketwêreldbekertoernooi aangeteken.[103] Pakistan het derde in Groep B geëindig en vir die kwarteindstryd gekwalifiseer. In die kwarteindstryd het Pakistan teen Australië te staan gekom. Pakistan het 213 lopies aangeteken. Australië het stadig begin maar hulle het die paaltjies op ’n gereelde manier in die middel-boulbeurte geneem. Die wedstryd het groot aantrekkingskrag gekry weens die wedywering op die veld tussen die Australiese veelsydige Shane Watson en die Pakistanse snelbouler Wahab Riaz. Wahab se aflewerings is geloof, alhoewel hy nie baie paaltjies geneem het nie. Pakistan het gedurende die eerste kragspel vangskote laat val en baie lopies afgestaan. Die vennootskap tussen Steve Smith en Glenn Maxwell het die oorwinning aan Australië besorg. Vervolgens is Pakistan uit die toernooi geskakel. Die wedstryd was die laaste EDI vir beide die Pakistanse kaptein Misbah-ul-Haq en die ervare veelsydige Shahid Afridi.[104] Vervolgens is die kapteinskap aan die nuweling Azhar Ali toegewys. Onder sy kapteinskap het Pakistan sy eerste EDI-reeks teen Bangladesj gespeel. Dié toer was ’n teleurstelling en Pakistan het al drie EDI-wedstryde en die T20I-wedstryd verloor. ’n Slim boulwerk, ’n uitstekende kolfwerk en ’n goeie veldwerk het die gasheer verby die besoekers laat stap. Dit was Bangladesj se eerste oorwinning sedert die Krieketwêreldbeker 1999 en hul eerste reeksoorwinning oor Pakistan. Pakistan het die toer egter met ’n positiewe nota afgesluit, nadat hulle met 1–0 in die twee-toetsreeks geseëvier het.[105] In Mei 2015 het met Zimbabwe weer ’n toetsland Pakistan besoek. Dit was die eerste toer van ’n toetsland sedert die terreuraanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan in 2009. Pakistan het die T20I-reeks met 2–0 en die EDI-reeks met 2–0 gewen nadat die derde wedstryd weens reën onbeslis geëindig het.[106] Gedurende die toer na Sri Lanka in 2015 het Pakistan die toetsreeks met 2–1, die EDI-reeks met 3–2 en die T20I-reeks met 2–0 gewen. Dié suksesvolle toer het Pakistan vir die Kampioenetrofee 2017 laat kwalifiseer, en Wes-Indië van hierdie toernooi ontneem.[107] Die reeksoorwinning het Pakistan ook in die ranglyste van al die drie formate laat styg. In September het Pakistan vir twee T20Is en drie EDIs na Zimbabwe getoer. Pakistan het die T20I-reeks met 2–0 en die EDI-reeks met 2–1 gewen.[108] Vervolgens het Pakistan sy 2015-seisoen op die vierde plek in toetse, die agtste plek in EDIs en die tweede plek in T20Is afgesluit. Op nuut na wêreldklasDie T20I-wêreldbeker 2016 is in Indië gehuisves. Pakistan is in Groep 2 saam met Indië, Australië, Nieu-Seeland en Bangladesj geplaas. Pakistan het sy toernooi met ’n oorwinning oor Bangladesj met 55 lopies afgeskop. Die daaropvolgende wedstryde was egter teleurstellend en Pakistan is deur al die ander drie teenstanders – Indië, Nieu-Seeland en Australië – geklop en vervolgens vroeg uit die toernooi geskakel. Dit was die tweede keer wat Pakistan nie tot die halfeindstryd gevorder het nie (die eerste keer was tydens die T20I-wêreldbeker 2014). Op 18 Augustus 2016 het Pakistan Ierland met 255 lopies in Dublin verslaan en sodoende hul hoogste EDI-oorwinning aangeteken.[109][110] Hulle het ook die toets op Lord’s teen Engeland in Julie 2016 gewen; dit was die openingstoets van dié reeks wat met 2–2 gelykop geëindig het.[111] Nadat Sri Lanka Australië in Augustus 2016 platgeloop het, het Pakistan die eerste plek in toetskrieket vir die eerste keer sedert 1988 behaal. Pakistan het Indië as nommer een vervang nadat die laaste toets tussen Indië en Wes-Indië weens reën afgelas is en onbeslis geëindig het.[112] Pakistan het die eerste Asiatiese en tweede algehele span geword (die eerste was Australië teen Nieu-Seeland in 2015) om ’n dag/aandtoetswedstryd te wen, wat teen Wes-Indië in Doebai gespeel is. Die daaropvolgende T20I-reeks het Pakistan teen die T20I-wêreldbekerwenner Wes-Indië met 3–0 gewen. Hulle het onderskeidelik met nege paaltjies, 16 lopies en agt paaltjies gewen.[113] Op pad na die derde internasionale titel en die aansluitende tydperkBeide Misbah-ul-Haq en Younis Khan, wat die staatmakers van die Pakistanse kolflys gevorm het, het ná die afsluiting van die Pakistanse toer na Wes-Indië in 2017 hul uittrede van toetskrieket (die enigste formaat wat hulle destyds nog gespeel het) aangekondig. Pakistan onder kaptein Sarfaraz Ahmed het die T20I-reeks met 3–1 en die EDI-reeks met 2–1 gewen. In sy laaste toetsreeks het Misbah geskiedenis gemaak, nadat hy die eerste Pakistanse kaptein geword het om ’n wegreeks teen Wes-Indië in Wes-Indië te wen.[114] Sarfaraz Ahmed het by Misbah as kaptein oorgeneem. In sy eerste reeks teen Sri Lanka, wat na die Verenigde Arabiese Emirate getoer het, het Pakistan albei toetswedstryde verloor. Dit was die eerste keer in tien jaar wat Pakistan ’n tuisreeks verloor het, hul eerste verlore tuisreeks was teen Australië; dit was die eerste keer in die Verenigde Arabiese Emirate, sedert dit Pakistan se aangenome tuiste geword het.[115] Die Kampioenetrofee 2017 in Engeland het nie goed vir Pakistan begin nie, nadat hulle teen hul aartsvyand Indië met 124 lopies verloor het. Maar met die vordering van die groepfase het Pakistan se boulaanval merkwaardig verbeter, en hulle het die wedstryd teen Suid-Afrika met 19 lopies en die belangrike wedstryd teen Sri Lanka met drie paaltjies gewen. Dit is voortgesit met die halfeindstryd teen die gasheer en gunsteling Engeland, waartydens Hasan Ali drie paaltjies geneem het om Pakistan na hul eerste Kampioenetrofee-eindstryd te neem, ’n gretig verwagte herontmoeting met Indië.[116] In die eindstryd op ’n volgepakte The Oval het Indië die loot gewen en verkies om eerste te kolf. Pakistan se kolflys het Indië se beslissing laat bevraagteken, nadat die aanvangskolwer Fakhar Zaman sy eerste honderdtal (114 uit 106 aflewerings) aangeteken het, en beide Azhar Ali (59) en Mohammad Hafeez (57*) Pakistan na ’n telling van 338 geneem het. Indië het sy toporde vinnig verloor, nadat Mohammad Amir die belangrike paaltjies van Rohit Sharma, Shikhar Dhawan en Virat Kohli geneem het. Indië het weerstand met Hardik Pandya ontbied, wat ’n flink 76 lopies aangeteken het. Hasan Ali, Pakistan se opkomende ster in hierdie toernooi, het die laaste paaltjie met syfers van 3–19 geneem, wat Indië op 180 lopies beperk en aan Pakistan die eerste Kampioenetrofee besorg het. Die oorwinning was die hoogste in ’n IKR-toernooi-eindstryd tot dusver. Hasan Ali is as speler van die toernooi benoem.[117] Ná sy oorwinning het Pakistan van die agtste na die sesde plek op die EDI-ranglys geklim. Tydens die Krieketwêreldbeker 2019 in Engeland het Pakistan goed gevaar en hulle het die gasheer Engeland, Suid-Afrika en Nieu-Seeland in die groepfase verslaan. Nadat hulle in die tabel gelykop met Nieu-Seeland was, is Pakistan net weens sy slegter lopietempo teenoor eersgenoemde uitgeskakel.[118] In die wedstryd teen Wes-Indië het Pakistan sy tweede laagste telling in ’n krieketwêreldbekerwedstryd sedert 1992 aangeteken en ook sy ergste nederlaag in ’n krieketwêreldbekerwedstryd gely.[59] Veral die wedstryd teen hul aartsvyand Indië op 16 Junie 2019 te Old Trafford in Manchester het sowat een miljard televisiekykers gelok[119] en juis in dié wedstryd het Indië die hoogste telling van ’n span teen Pakistan in ’n krieketwêreldbekerwedstryd aangeteken.[120] Tydens die T20I-wêreldbeker 2021 se Super 12 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate het Pakistan in sy openingswedstryd vir die eerste keer ooit die aartsvyand Indië in ’n krieketwêreldbekerwedstryd verslaan.[121] Aansluitend het die Pakistane Nieu-Seeland, Afghanistan, Namibië en Skotland verslaan, waardeur hulle hul groep in die eerste plek afgesluit en tot die halfeindrondte gevorder het, maar teen die latere wêreldkampioen Australië met vyf paaltjies verloor.[122] Tydens die T20I-wêreldbeker 2022 se Super 12 in Australië is Pakistan in sy openingswedstryd deur Indië verslaan, waarop ’n verrassende nederlaag teen Zimbabwe gevolg het, daarna het hulle egter herstel en Nederland, Suid-Afrika en Bangladesj verslaan. Daarmee het die Pakistane hul groep in die tweede plek afgesluit en tot die halfeindrondte gevorder, waar hulle Nieu-Seeland met sewe paaltjies verslaan het.[123] In die eindstryd het Pakistan teen Engeland met vyf paaltjies verloor.[124] Tydens die Krieketwêreldbeker 2023 se groepfase in Indië het Pakistan nederlae gely teen Indië, Australië, Afghanistan, Suid-Afrika en England, maar hulle kon ook oorwinnings aanteken oor Nederland, Sri Lanka, Bangladesj en Nieu-Seeland. Pakistan se nederlaag teen Afghanistan was hul eerste teen dié opponent.[125] Die Pakistane, gelyk aan punte met Nieu-Seeland en Afghanistan, het die halfeindrondte slegs vanweë hul swakker lopietempo misgeloop.[126] Enkele maande later het die span tydens die T20I-wêreldbeker 2024 hul swakste toernooiverloop ooit gely, toe hulle ná ’n verrassende nederlaag teen die medegasheer die Verenigde State en die aartsvyand Indië, asook oorwinnings oor Kanada en Ierland vir die eerste keer in die eerste rondte uitgeskakel is.[127] Vir die Kampioenetrofee 2025 is hulle as gasheer regstreeks gekwalifiseer. Onlangse ontwikkelinge in Pakistanse krieketNá die Aanvalle op 11 September 2001 is gereeld toere na Pakistan gekanselleer en na neutrale plekke, veral in die Verenigde Arabiese Emirate, verskuif. Op 3 Maart 2009 is in Lahore die Sri Lankaanse nasionale krieketspan aangeval, waarvolgens geen nasionale span meer na Pakistan getoer het nie. Die tydens die Krieketwêreldbeker 2011 in Pakistan beplande wedstryde is ook na ander plekke verskuif. Ná ses jaar se afwesigheid het met Zimbabwe se 2015-toer weer wedstryde in Pakistan plaasgevind. Pakistan het beide die EDI-reeks met 2–0 gewen. Daarbenewens het die aanbieding van die Pakistanse Superliga 2016/17 se eindstryd in Lahore, maar ook die toer van ’n internasionale span op dieselfde plek, wat Pakistan ook gewen het, aandag getrek. Nadat die twee gebeurtenisse sonder enige voorvalle kon plaasvind, is bykomende wedstryde in Pakistan gereël, waaronder ’n T20I tydens die Sri Lankaanse toer teen Pakistan in 2017, wat oorwegend in die Verenigde Arabiese Emirate plaasgevind het.[128] KleureTydens toetswedstryde dra die Pakistanse krieketspan wit krieketklere, met ’n opsionele oortrektrui of sweetpak-baadjie met ’n groen en goud V-halslyn gedurende koue weer. Die span se amptelike borg sedert die 1990’s is Pepsi en Junaid Jamshed en hul kentekens word op die regterbors vertoon, die sustermerk Lay’s op die moue en die Pakistanse krieketster op die linkerkant gedurende toetskrieket. Die veldwerkers dra ’n groen pet of ’n wit (of groen in EDI- en T20I-wedstryde) sonhoed, met die Pakistanse krieketster in die middel. Die helms is ook groen geverf. Boom Boom Cricket het in April 2010 ’n kontrak met die Pakistanse Krieketraad onderteken en die truiborg van die Pakistanse span geword; dié ooreenkoms het ná die Asiatiese Beker in 2012 tot ’n einde gekom.[129] Pakistan se huidige borg is AJ Sports,[130] en het oorgeneem by CA Sports, wat tussen 2015 en 2019 die borg was.[131] Pakistan se EDI- en T20I-truie wissel van jaar tot jaar aangesien die span truie in verskeie skakerings van groen gebruik. In die verlede het Pakistan se truie naas groen ook skakerings van blou, geel en goud gebruik. Tydens amptelike IKR-toernooie staan PAKISTAN pleks van die borg se kenteken op die voorkant, en die borg se kenteken word na die mou verskuif. Tydens nieamptelike toernooie en wedstryde verskyn egter Pepsi se kenteken op die voorkant van die trui. Soos gewoonlik verskyn die Pakistanse Krieketraad se kenteken op die linkerbors. Vorige uitrusters was CA Sports (2015–2019), Hunt,[132] Slazenger[133] en AJ Sports. Pakistan se spankenteken is ’n ster, gewoonlik in die kleure goud of groen, met die woord “Pakistan” (پاکِستان) in die middel in Oerdoe, Pakistan se nasionale taal. TuisstadionsNet soos ander vername krieketlande soos Australië, Bangladesj, Engeland, Ierland, Indië, Nieu-Seeland, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe beskik Pakistan oor geen amptelike tuisstadion vir sy nasionale span nie. Die Pakistanse nasionale krieketspan span vir hul krieketwedstryde eerder ’n verskeidenheid stadions dwarsdeur Pakistan in. Pakistan het sy eerste toetswedstryd in Oktober 1952 in Delhi as deel van ’n vyf-toetsreeks wat Indië met 2–1 gewen het, gespeel. Pakistan se eerste tuistoetswedstryd het vanaf 1 tot 4 Januarie 1955 op die Bangabandhu Nasionale Stadion in Dhaka (nou Bangladesj) plaasgevind.[134] Daar is talle wêreldbekende krieketstadions in Pakistan. Hierdie blaaie is bekend vir stadige draaibane, waar die meeste van die nie-Indiese subkontinentale spanne sukkel. Die Gadaffistadion in Lahore is die bekendste krieketstadion in Pakistan. Die meeste van die Pakistanse krieketgronde word vir al drie formate van die spel gebruik. As gevolg van die 2009-aanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan in Lahore het Pakistanse stadions tot in 2014 nie meer in aanmerking vir internasionale wedstryde gekom nie, totdat Zimbabwe na Pakistan getoer het. Tot onlangs toe het die meeste vername krieketlande geweier om na Pakistan te toer. Die Pakistanse nasionale krieketspan het tot dusver 16 tuisstadions tydens toetswedstryde gebruik:
Weens die algemene veiligheidsituasie in die land en veral sedert die aanval op die Sri-Lankaanse nasionale krieketspan in Lahore is in Pakistan geen internasionale krieketwedstryde meer aangebied nie. Vir Pakistan se tuiswedstryde is vervolgens krieketstadions in die Verenigde Arabiese Emirate gebruik. Die volgende stadions het de facto as die span se tuisstadions gedien:
Krieketwêreldbekerstadions
Indië het in 1987 saam met Pakistan die eerste krieketwêreldbekertoernooi buite Engeland aangebied.[135] Indië het 17 wedstryde op 14 verskeie plekke gehuisves, terwyl Pakistan tien wedstryde op sewe plekke aangebied het. Albei gashere het hul wedstryde tydens dié toernooi tuis gespeel. Die Krieketwêreldbeker 1996 is deur Indië, Pakistan en Sri Lanka saam aangebied. Indië het 17 wedstryde op 17 verskeie plekke gehuisves, terwyl Pakistan 16 wedstryde op ses plekke en Sri Lanka vier wedstryde op drie plekke aangebied het. Al drie gashere het hul wedstryde tydens die groepfase tuis gespeel (behalwe vir die ontmoeting tussen Indië en Sri Lanka wat in Indië aangebied is). Die eindstryd is in Lahore se Gaddafistadion aangebied. Die Krieketwêreldbeker 2011 is deur Indië, Sri Lanka en Bangladesj saam aangebied. Oorspronklik is ook wedstryde in Pakistan beplan, maar as gevolg van die terreuraanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan op 3 Maart 2009 te Lahore is Pakistan van sy gasheerregte ontneem.[29][30] Pakistan sou 14 wedstryde, insluitende ’n halfeindstryd, huisves.[29] Van dié wedstryde is ag (insluitende ’n halfeindstryd) aan Indië, vier aan Sri Lanka en twee aan Bangladesj toegeken.[136] Pakistan sal die Kampioenetrofee 2025 aanbied.[137] AanhangerskultuurDie span word tuis en oorsee goed ondersteun, veral in die Verenigde Koninkryk waar Britse Pakistani’s ’n aanhangersklub, die Stani Army, gestig het. Lede van dié klub woon wedstryde regdeur die land by en is bekend vir hul lawaaierige ondersteuning. Die Stani ondersteun ook liefdadigheidsinisiatiewe vir minderbevoorregte Pakistani’s, insluitende jaarlikse krieketwedstryde teen Britse Indiërs van die soortgelyke Bharat Army.[138][139][140] Wedywering met IndiëVeral ontmoetings met Indië geniet as gevolg van die Verdeling van Indië en die daaropvolgende Indies-Pakistanse oorloë ’n groot aandag onder die aanhangers van albei nasionale spanne. Afhangende van die situasie van diplomatieke betrekkinge tussen albei lande is die krieketwedstryde tussen albei nasionale spanne gereeld emosioneel gelaai. Van dié wedstryde sorg dikwels vir ’n bogemiddelde gehoorbelangstelling onder die aanhangers van albei kante en ook onder neutrale waarnemers. Dit geld veral vir die EDI-wedstryde tydens krieketwêreldbekertoernooie wat vir volgepakte stadions en hoogs gelaaide atmosfere sorg, onafhanklik van die wedstryd se plek.[141] Televisie-uitsendings van die ontmoetings tussen albei spanne tydens krieketwêreldbekertoernooie lok sowat ’n miljard mense en is van die mees gesiene televisiegeleenhede wêreldwyd.[142][143] Tydens hierdie internasionale wedstryde vergader dikwels die presidente en eerste ministers van albei lande, wat teen die agtergrond van die gemeensame belangstelling in die sport poog om albei lande nader aan mekaar te bring, waarvoor die term „krieketdiplomatie“ gevestig het. ’n Bekende voorbeeld is die vergadering van die twee eerste ministers Yousaf Raza Gilani (Pakistan) en Manmohan Singh (Indië) tydens die Krieketwêreldbeker 2011 se halfeindstryd in Mohali, Indië.[144] Ná dié wedstryd het die twee regeringshoofde verskeie omstrede punte bespreek, insluitend die gesamentlike ondersoek van die 2008-aanvalle in Mumbai.[145] Internasionale toereSoos gebruiklik sedert die begin van internasionale krieket, onderneem die Pakistanse nasionale krieketspan deels maandelange oorsese toere, waartydens hulle teen ander nasionale spanne, plaasliksaamgestelde spanne en klubspanne speel. Eweneens huisves hulle ander nasionale spanne wat na Pakistan toer. Gedurende die plaaslike somer tree hulle as gasheer op of onderneem op hul beurt toere deur die ander krieketlande van die Noordelike Halfrond en gedurende die plaaslike winter onderneem hulle toere deur krieketlande van die Suidelike Halfrond. As deel hiervan ding Pakistan in toetskrieket sedert 2021/22 teen Australië om die Benaud-Qadir-trofee mee. SpelersBekende spelersSewe voormalige Pakistanse spelers is vir hul uitstekende prestasies in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem:[146]
SpelerstatistiekeAltesaam het vir Pakistan 256 spelers toets-, 242 spelers EDI- en 116 spelers T20I-wedstryde gespeel. Vervolgens die spelers, wat vir die Pakistanse span die meeste lopies aangeteken en die meeste paaltjies geneem het. Lopies
Paaltjies
SpankapteinsTot op hede was 35 spelers reeds die kaptein vir Pakistan tydens ’n toetswedstryd, 30 tydens ’n EDI en elf tydens ’n T20I.[153]
RekordsToetsrekord teen ander lande
Wêreldtoetskampioenskaprekord
EDI-rekord teen ander lande
Krieketwêreldbekerrekord
Kampioenetrofeerekord
T20I-rekord teen ander lande
T20I-wêreldbekerrekord
Asiatiese Bekerrekord
Sien ookVerwysings
Verdere leesstof
Eksterne skakels
|