Afghaanse nasionale krieketspan
Die Afghaanse nasionale krieketspan (Pasjtoe: د افغانستان د کريکټ ملي لوبډله; Persies: تیم ملی کریکت افغانستان) is die nasionale krieketspan wat Afghanistan in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Afghaanse Krieketraad (Engels: Afghanistan Cricket Board, ACB; Pasjtoe: د افغانستان کريکټ بورډ; Persies: کریکت بورد افغانستان) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Krieket word sedert die middel van die 19de eeu in Afghanistan gespeel, maar dit is net in onlangse jare wat die nasionale span sukses behaal het. Afghanistan is tans (Junie 2024) twaalfde op die IKR-toetsranglys, negende op die eendagranglys en tiende op die Twintig20-wêreldranglys.[12][13][14] Die Afghaanse Krieketraad is in 1995 gestig, het in 2001 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword[15] en in 2003 ’n lid van die Asiatiese Krieketraad (AKR).[16] Hulle is die twaalfde volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR), en die vyfde in Asië, nadat hulle – saam met Ierland – op 22 Junie 2017 bekroon is met toetsstatus.[17][18][19][20][21] Afghanistan se opgradering binne die IKR het gekom nadat hulle amper ’n dekade lank internasionale krieket gespeel het. Afghanistan is ook die eerste span wat volle status verkry het nadat hulle vanaf 2001 tot in 2013 ’n assosiaatlid was en ook die enigste assosiaatlid was wat aan ’n vername IKR internasionale kriekettoernooi deelgeneem het.[19] Hulle het op 23 Februarie 2019 die rekord vir die hoogste internasionale T20I-telling met hul 278/3 teen Ierland op Rajiv Gandhi Internasionale Krieketstadion, Dehradun, aangeteken. Van hul onlangse prestasies sluit in die kwalifisering vir die krieketwêreldbekertoernooie in 2015, 2019 en 2023; tydens die 2015-toernooi het Afghanistan sy eerste krieketwêreldbekeroorwinning aangeteken, nadat hulle Skotland verslaan het.[22] As gevolg van die voortgesette burgeroorlog sedert 2001 en die magsoorname deur die Taliban in 2021, asook ’n gebrek aan fasiliteite op ’n internasionale standaard, is die nasionale krieketspan gedwonge om sy tuiswedstryde in sy buurlande te speel. Van Afghanistan se amptelike tuiswedstryde is al in Indië, Sri Lanka en die Verenigde Arabiese Emirate gespeel. Beheerliggaam
Die beheerliggaam is in 1995 as die Afghaanse Krieketfederasie gestig.[23] In 2009 is dit in Afghaanse Krieketraad (Engels: Afghanistan Cricket Board, ACB; Pasjtoe: د افغانستان کريکټ بورډ; Persies: کریکت بورد افغانستان) hernoem.[24] In Junie 2013 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit[25] en sedert 22 Junie 2017 is Afghanistan ’n volle lid en mag dus toetskrieket speel.[19][26] Daarbenewens het die Afghaanse beheerliggaam in 2001 ’n lid van die Asiatiese Krieketraad (Asian Cricket Council, ACC) geword.[27] Die Afghaanse Krieketraad bestuur al die Afghanistan-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die ACB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Afghaanse span. Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Afghanistan oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[28] Afghanistan A is die tweede nasionale span van Afghanistan en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status. GeskiedenisVoor-EDI-geskiedenisDie eerste bekende krieketwedstryd in Afghanistan is gedurende die Eerste Anglo-Afghaanse Oorlog in 1839 deur Britse soldate in Kaboel gespeel. Maar in teenstelling met die meeste ander lande het die Britte geen blywende nalatenskap van krieket agtergelaat nie, en dit sou meer as ’n honderd jaar neem voordat krieket na Afghanistan terugkeer.[15] Gedurende die 1990’s het krieket onder die Afghaanse vlugtelinge in Pakistan gewildheid verwerf en die Afghaanse Krieketfederasie (nou die Afghaanse Krieketraad) is daar in 1995 gestig. Ná hul hervestiging in Afghanistan het die voormalige vlugtelinge voortgegaan om krieket te speel.[15] Net soos al die ander sportsoorte is krieket eers deur die Taliban verbied, maar in 2000 het krieket die enigste sport in Afghanistan geword wat deur die Taliban toegelaat is. Die volgende jaar het die Afghaanse Krieketfederasie ’n vennootlid van die Internasionale Krieketraad geword.[29] Die Afghaanse krieketstyl weerspieël die ontwikkelingsagtergrond in Pakistanse vlugtelingkampe en is nie anders as die algemene stylkenmerk van Pakistanse krieket nie, soos die klem op vinnige boulwerk en polsdraaikolfwerk. In 2001 het die Afghaanse nasionale span aan ’n Viernasietoernooi deelgeneem. Die Afghaanse span is die volgende jaar genooi om op die tweede vlak van Pakistanse plaaslike krieket te speel,[15] en dié toer het internasionale media-aandag aan Afghaanse krieket besorg, aangesien die Amerikaans-geleide inval in Afghanistan begin het terwyl die Afghaanse span in Pakistan was. Tydens die vyf-wedstrydtoer het die span drie wedstryde verloor en in twee gelykop gespeel.[29] In 2001 het die Afghaanse span aan ’n toer van vier wedstryde na Pakistan in Pesjawar en Rawalpindi deelgeneem; in 2003 en 2004 het verdere besoeke gevolg. In 2004 het Afghanistan aan die AKR-trofee in Kuala Lumpur – die plaaslike kwalifiseringskompetisie vir die IKR-trofee – deelgeneem en respektabel vertoon, met oorwinnings oor die gasheer Maleisië en Bahrein. Tydens die AKR-trofee 2006 het hulle die derde plek gehaal en só ook twee jaar later tydens die AKR Elitetrofee. Die Afghaanse span het in 2003 aan twee Pakistanse toernooie deelgeneem en in daardie jaar hul eerste wedstryd gewen. Hulle het in 2006 meer suksesvol geword en as naaswenner ná Bahrein tydens die Midde-Oosterse beker geëindig en ’n span van die Marylebone Cricket Club, insluitende die voormalige Engelse kaptein Mike Gatting, met 171 lopies in Mumbai verslaan. Gatting is met ’n nulletjie kleedkamer toe gestuur.[29] Gedurende die somer in 2006 het die Afghaanse span na Engeland getoer en ses van hul sewe wedstryde gewen. Drie van hul oorwinnings was oor die tweede county-spanne Essex, Glamorgan en Leicestershire.[16] Tydens die AKR-trofee in dieselfde jaar het hulle derde geëindig, nadat hulle Nepal in ’n uitspeelwedstryd verslaan het.[29] In 2007 het die Afghaanse span sy eerste toernooi gewen en die AKR se T20I-beker met Oman gedeel, nadat hulle in die eindstryd gelykop gespeel het.[29] Afghanistan het in 2008 sy kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 2011 in Jersey begin en afdeling vyf van die Wêreldkrieketliga gewen.[30] In dieselfde jaar het hulle derde tydens die AKR-elite-trofee geëindig.[16] Enkele maande later het Afghanistan ’n tweede agtereenvolgende Wêreldkrieketliga-toernooi, die afdeling vier in Tanzanië, gewen.[16] In Januarie 2009 het Afghanistan in die Wêreldbekerkwalifikasie gevorder nadat hulle afdeling drie van die Wêreldkrieketliga in Buenos Aires gewen, en die tabel volgens lopietempo bo Uganda en Papoea-Nieu-Guinee afgesluit het.[31] EDI-statusTydens die kwalifiserende toernooi vir die Krieketwêreldbeker 2011 het Afghanistan net-net versuim om vir dié toernooi te kwalifiseer, maar hulle het EDI-status vir vier jaar verwerf.[16] Hul eerste EDI-wedstryd was teen Skotland in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek, hulle het die Skotte reeds voorheen tydens die toernooi verslaan, en het ook dié keer met 89 lopies gewen.[32] Tydens die Interkontinentale beker 2009–10 het Afghanistan sy eerste eersterangse wedstryd teen ’n Zimbabwe XI in ’n vierdaagse wedstryd in Mutare gespeel. Gedurende dié wedstryd, wat gelykop geëindig het, het die Afghaanse kolwer Noor Ali honderdtalle in albei sy beurte aangeteken, waarvolgens hy slegs die vierde speler geword het om dié prestasie in ’n eersterangse debuut te maak. Later, in Augustus 2009, het hulle tydens dieselfde kompetisie teen Nederland op die VRA-krieketveld te staan gekom, en ’n wedstryd met ’n lae telling met een paaltjie gewen.[33] Afghanistan het daarna aan die AKR se T20I-beker in die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem. Afghanistan het in Groep A al hul vyf groepwedstryde gewen. In die halfeindstryd het Afghanistan Koeweit met agt paaltjies verslaan.[34] In die eindstryd het hulle teen die gasheer, die Verenigde Arabiese Emirate te staan gekom, en hulle met 84 lopies verslaan.[35] Op 1 Februarie 2010 het Afghanistan sy eerste T20I-wedstryd teen Ierland gespeel, maar met vyf paaltjies verloor.[36] Op 13 Februarie 2010 het Afghanistan tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering eers die Verenigde Arabiese Emirate met vier paaltjies geklop. In die eindstryd het hulle Ierland met agt paaltjies verslaan en sodoende vir die T20I-wêreldbeker in April 2010 in Wes-Indië gekwalifiseer.[37] Afghanistan is tydens die T20I-wêreldbeker in 2010 in Groep C geloot, saam met Indië en Suid-Afrika. Tydens hul openingswedstryd teen Indië het die openingskolwer Noor Ali 50 lopies aangeteken en sodoende Afghanistan tot ’n telling van 115 in hul 20 boulbeurte geneem. Ondanks dié telling het hulle die wedstryd met agt paaltjies verloor.[38] In hul tweede wedstryd teen Suid-Afrika is die span op een stadium tot 14/6 beperk, voordat ’n laat jagtog deur Mirwais Ashraf en Hamid Hassan Afghanistan 88 almal uit laat aanteken, wat tot ’n nederlaag van 59 lopies gelei het.[39] Die Afghaanse span se Interkontinentale beker is in 2010 met oorwinnings oor Ierland, Kanada, Skotland en Kenia voortgesit, voordat hulle Skotland met sewe paaltjies in die eindstryd in Doebai verslaan.[40] In 2010 het hulle ook die AKR-elite-trofee in Koeweit gewen, nadat hulle Nepal in die eindstryd verslaan[41] en derde tydens die afdeling een van die Wêreldkrieketliga in Nederland geëindig het.[42] Afghanistan het aan die kriekettoernooi tydens die Asiatiese Spele 2010 in die Volksrepubliek China deelgeneem en die silwermedalje ingepalm, nadat hulle teen Bangladesj in die eindstryd verloor het.[43] In 2011 het Afghanistan in die Interkontinentale bekertoernooi 2011–13 begin speel. Hulle het Kanada geklop en teen die Verenigde Arabiese Emirate gelykop gespeel.[44] In die gelyktydige EDI-liga het hulle twee wedstryde teen Kanada gewen en is twee keer deur die Verenigde Arabiese Emirate verslaan.[45] Afghanistan het sy eerste EDI-wedstryd teen ’n volle lid van die IKR in Februarie 2012 teen Pakistan in Sharjah gespeel. In Augustus 2012 het Afghanistan ook teen Australië vir een EDI-wedstryd op dieselfde plek te staan gekom. Hulle is in albei EDI-wedstryde verslaan. In Maart 2013 het Afghanistan twee T20I-wedstryde teen Skotland en die Verenigde Arabiese Emirate gewen. Hulle het ook twee EDI-wedstryde tydens die Wêreldkrieketliga teen dieselfde teenstanders gewen. Afghanistan het ná die twee oortuigende oorwinnings die tweede plek op die tabel met Skotland gedeel, wat aan hulle ’n hupstoot besorg het om vir die Krieketwêreldbeker 2015 te kwalifiseer. Ierland het die Wêreldkrieketliga met 24 punte gewen en Afghanistan eindig tweede met 19 punte en kwalifiseer sodoende vir die Krieketwêreldbeker. Nederland, op die vierde plek, het die volgende maand teen Namibië te staan gekom, terwyl die vyfde Verenigde Arabiese Emirate in Maart Ierland gehuisves het.[46] Afghanistan het Skotland ook ’n swak nederlaag tydens hul Interkontinentale bekerwedstryd in Aboe Dhabi toegedien en Skotland met ’n beurt en vyf lopies verslaan; Izatullah Dawlatzai het elf paaltjies geneem.[47] AssosiaatlidAfghanistan het op 27 Junie 2013 ’n assosiaatlid van die IKR geword.[25] Dié besluit is tydens die IKR se jaarvergadering op 26 Junie 2013 in Londen, Engeland, geneem en is bygewoon deur die hoof- uitvoerende beampte van die Afghaanse Krieketraad Dr Noor Muhammad Murrad. Die aansoek is die vorige jaar deur die Asiatiese Krieketraad op grond van die voortgesette vordering onder die voormalige hoof- uitvoerende beampte van die Afghaanse Krieketraad, Dr Hamid Sheenwari, gemaak.
In Maart 2013 is Afghanistan ’n hupstoot gegee nadat ’n tweejaarse Memorandum van verstandhouding tussen die krieketrade van Afghanistan en Pakistan ten einde die ontwikkeling van krieket in Afghanistan met die oog op die Krieketwêreldbeker 2015 onderteken is. Die Pakistanse Krieketraad voorsien die Afghaanse span van tegniese en professionele ondersteuning, insluitende spelopvoedingsprogramme, afrigtingskursusse, vaardigheids- en prestasie-analise, asook kursusse oor die optrede van skeidsregters en kuratore. Hoëprestasiekampe vir opkomende spelers word ook gereël. Die Nasionale Krieketakademie van die Pakistanse Krieketraad ondersteun ook die tegniese, taktiese, geestelike en fisiese vaardighede, en bied lesinge oor dotering, antikorrupsie en verskillende gedragskodes aan. Oor die finansiering van die projek sal later besluit word, waarvan die Nasionale Krieketakademie se aktiwiteite waarskynlik gesubsidieer sal word.[50] In Julie 2014 het Afghanistan vir sy eerste volle reeks teen ’n volle lid Zimbabwe besoek. Die EDI-reeks het met 2–2 en die eersterangse reeks met 1–1 ook gelykop geëindig.[51][52] Eerste wêreldbekerdeelnameOp 3 Oktober 2013 het Afghanistan Kenia verslaan en sodoende tweede tydens die Wêreldkrieketliga afgesluit en vir die Krieketwêreldbeker 2015 in Australië en Nieu-Seeland gekwalifiseer. Hulle het die algeheel 20ste span geword wat tydens ’n krieketwêreldbekertoernooi verskyn het en dit was Afghanistan se eerste deelname aan dié toernooi. Hul kwalifisering vir die toernooi was ’n geskiedkundige gebeurtenis vir krieket in Afghanistan, aangesien die span baie spelers ingesluit het wat die spel in vlugtelingkampe in Pakistan bemeester het.[53] Afghanistan was een van vier deelnemende assosiaatlede by dié toernooi; die ander was Ierland, Skotland en die Verenigde Arabiese Emirate.[54] Afghanistan het sy EDI-wêreldbekerdebuut teen Bangladesj op die Manuka-ovaal in Canberra, Australië, gemaak. Dié wedstryd het in ’n nederlaag met 105 lopies geëindig.[55] Tydens die toernooi het die Afghaanse span teen gevestigde krieketlande soos Australië, Indië, Sri Lanka, Nieu-Seeland en Engeland te staan gekom. Op 26 Februarie 2015 het Afghanistan sy eerste wêreldbekerwedstryd gewen nadat hulle Skotland met een paaltjie verslaan het.[22] Die span het egter al die oorblywende wedstryde verloor en is tydens die groepfase uit die toernooi geskakel.[56] Na-wêreldbeker-toereDie Afghaanse span het Zimbabwe in Oktober 2015 vir die tweede keer besoek en ’n geskiedkundige EDI-reeks ná ’n oorwinning met 73 lopies in Bulawayo met 3–2 beklink. Afghanistan het destyds die eerste nietoetsland geword om ’n bilaterale EDI-reeks teen ’n volle lid te wen.[57] Met hul oorwinning oor Zimbabwe op 25 Desember 2015 het Afghanistan vir die eerste keer die beste tien op die ranglys beklee.[58] Die Afghaanse krieketspan het in September en Oktober 2016 na Bangladesj getoer om drie EDI-wedstryde te speel. Dit was Afghanistan se eerste volle reeks teen ’n volle lid behalwe vir Zimbabwe en die eerste bilaterale reeks tussen dié twee spanne. Voor die EDI-reeks het Afghanistan teen die Bengaalse Krieketraad XI in Fatullah vir ’n opwarmingswedstryd te staan gekom. Afghanistan het die opwarmingswedstryd met 66 lopies gewen en Bangladesj die EDI-reeks met 2–1.[59] Die Afghaanse krieketspan het in Desember 2016 na die Verenigde Arabiese Emirate getoer om teen die gasheer te speel. Die toer het drie T20I-wedstryde behels en Afghanistan het dié reeks met 3–0 gewen.[60] In Februarie 2017 het die Internasionale Krieketraad eersterangse status aan Afghanistan se plaaslike vierdaagse Ahmad Shah Abdali-kompetisie toegeken.[61] Die Afghaanse span het in Januarie en Februarie 2017 na Zimbabwe getoer. Dié toer het vyf EDI-wedstryde bevat. Voor die EDI-reeks het die Afghaanse A-span vyf „nieamptelike“ EDI-wedstryde teen die Zimbabwiese A-span gespeel. Al daardie wedstryde is as Lys-A-wedstryde aangewys. Afghanistan het die aanvanklike Lys-A-reeks met 4–1 en die EDI-reeks met 3–2 gewen.[62] Die Ierse span het in Maart 2017 na Indië getoer om teen Afghanistan ’n reeks wedstryde, bestaande uit drie T20I-wedstryde, vyf EDI-wedstryde en ’n Interkontinentale bekerwedstryd, te speel.[63][64] Al die wedstryde is in Groter Noida aangebied. Die Afghaanse span was baie suksesvol, nadat hulle beide die T20I-reeks met 3–0 en die EDI-reeks met 3–2 gewen het; Afghanistan het in die proses ’n nuwe T20I-rekord van elf agtereenvolgende oorwinnings opgestel. Afghanistan het ook die Interkontinentale bekerwedstryd met ’n beurt en 172 lopies gewen.[65] Die Afghaanse span het in Junie 2017 ’n verdere toer onderneem en dié keer teen Wes-Indië te staan gekom.[66][67] Dié toer was Afghanistan se derde bilaterale toer teen ’n volle lidland. Later die maand het Afghanistan op sy eie toetsstatus verkry. Die toer was minder suksesvol vir Afghanistan, wat in die T20I-reeks met 3–0 oorrompel is.[68] Hulle het tydens die EDI-reeks beter gevaar en ’n 1–1-gelykop behaal.[69] Op pad na toetsstatusAfghanistan het tydens die T20I-wêreldbekerkwalifikasie in die Verenigde Arabiese Emirate ná agt oorwinnings in agt wedstryde vir die T20I-wêreldbeker 2012 in Sri Lanka gekwalifiseer. In die eindstryd het hulle egter teen Ierland verloor en as naaswenner geëindig. Gedurende die hooftoernooi is hulle egter deur Indië en Engeland verslaan en sodoende reeds in die groepfase uitgeskakel.[70] Op 24 November 2013 het Afghanistan Kenia verslaan en met die tweede plek ná Ierland vir die T20I-wêreldbeker 2014 in Bangladesj gekwalifiseer. In Maart 2014 het Afghanistan Hongkong tydens die T20I-wêreldbeker 2014 verslaan, maar hulle kon nie tot die volgende Super 10 vorder nie, nadat hulle in die twee volgende wedstryde deur onderskeidelik Bangladesj en Nepal verslaan is.[71] In die volgende kwalifiseringsrondte het Afghanistan as vyfde span vir die T20I-wêreldbeker 2016 in Indië gekwalifiseer. In hul derde wedstryd het hulle Zimbabwe oorheers en met 59 lopies gewen. Afghanistan het vervolgens tot die Super 10 gevorder, terwyl Zimbabwe uitgeskakel is. Afghanistan het sodoende vir die eerste keer die tweede rondte van ’n T20I-wêreldbekertoernooi gehaal. Afghanistan het die latere kampioen Wes-Indië in hul laaste wedstryd tydens die toernooi verslaan, maar versuim om tot die halfeindstryd te vorder.[72] Im Julie en Augustus 2016 het Afghanistan na Europa getoer en beide Skotland en Ierland besoek. Hulle het hul reeks teen Skotland met 1–0 gewen en in die reeks teen Ierland met 2–2 onbeslis gespeel. In Julie 2016 het die Afghaanse Krieketraad ’n strategiese plan bekendgemaak en teikens vir die Afghaanse span opgestel om teen 2019 onder die ses beste EDI-spanne en teen 2025 onder die beste drie spanne in beide T20I en EDI-krieket te wees.[73] Om dit te bereik het die Afghaanse Krieketraad ’n aansoek aan die Raad vir Beheer van Krieket in Indië voorgelê, waarvolgens jaarliks bilaterale wedstryde teen Indië en spanne wat Indië besoek gespeel sal word.[74] Op 22 Junie 2017 het die Internasionale Krieketraad tydens sy jaarlikse vergadering in Londen aan beide Afghanistan en Ierland volle toetsstatus toegeken.[19][21] In Desember 2017 het die IKR bevestig dat Afghanistan in laat 2018 sy eerste toets teen Indië sal speel.[75] Volgens die IKR se toekomstige toerprogram vir 2019–23 sou Afghanistan in dié tydperk 13 toetse speel, maar hulle het soos Ierland en Zimbabwe nie in aanmerking vir die eerste twee Wêreldtoetskampioenskappe gekom nie.[76] In Januarie 2018 het beide die Afghaanse Krieketraad en die Raad vir Beheer van Krieket in Indië bevestig dat die toets in Junie op die M. Chinnaswamy-stadion in Bangalore gespeel sal word.[77][78] In Junie 2018 het Afghanistan sy eerste toetswedstryd teen die gasheer Indië met ’n beurt en 262 lopies verloor, ondanks die feit dat hulle in staat was om ’n sterk Indiese span in die eerste beurt uit te boul.[79] Afghanistan het tydens die Asiatiese Beker 2018 sy eerste oorwinning oor Sri Lanka behaal, wat vervolgens uit dié toernooi geskakel is.[80] Opkoms as ’n toetslandIn Maart 2019 het Afghanistan teen Ierland sy eerste oorwinning in sy tweede toetswedstryd, wat as tuitswedstryyd in Indië aangebied is, aangeteken, en sodoende ná Engeland en Pakistan die derde toetsland geword wat daarin geslaag het.[81][82] In September 2019 het Afghanistan die gasheer Bangladesj met ’n hoë telling in ’n eenmalige toetstoer verslaan en sodoende sy eerste wegoorwinning met 224 lopies aangeteken. Nadat reën uitgesak het is die wedstryd amper afgelas, maar die weer het uiteindelik opgeklaar, en die draai-eenheid van Afghanistan toegelaat om die laaste vier paaltjies te neem, waardeur hulle ’n geskiedkundige oorwinning oor een van die beste toetsspanne aangeteken het.[83] Afghanistan het tydens die Krieketwêreldbekerkwalifikasie in 2018 tot die eindstryd gevorder en toe Wes-Indië in dié wedstryd verslaan.[84] Hulle het sodoende vir die Krieketwêreldbeker 2019 in Engeland gekwalifiseer, die tweede krieketwêreldbekertoernooi waaraan Afghanistan deelgeneem het. Die Afghaanse span is deur Asghar Afghan aangevoer en het in die groepfase teen al die ander nege deelnemende spanne te staan gekom. Hulle was egter nie in staat om ’n oorwinning aan te teken nie en het sodoende op die laaste (10de) plek geëindig.[85] Nadat die Taliban in Afghanistan weer die bewind oorgeneem het, is die voorbereiding op die T20I-wêreldbeker 2021 erg geraak. ’n Beplande toer na Pakistan moes afgelas word, nadat die span nie toegelaat is om die land te verlaat nie.[86] Verteenwoordigers van die Taliban het in Augustus 2021 belowe, dat die span se deelname aan internasionale toernooie nie geraak sou word nie.[87] Kort daarna het hulle egter vrouekrieket in die land verbied wat tot internasionale protes gelei het. As gevolg daarvan het byvoorbeeld Australië weens die menseregtesituasie in Afghanistan geweier om in bilaterale toere teen die mansspan te staan te kom.[88][89] Daarteenoor het die Suid-Afrikaanse beheerliggaam aangekondig om voort te gaan met bilaterale reekse teen die Afghaanse span.[90] Tydens die T20I-wêreldbeker 2021 se Super 12 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate het die Afghane slegs Skotland en Namibië verslaan, terwyl hulle deur Pakistan, Indië en Nieu-Seeland geklop en sodoende uit dié toernooi geskakel is.[91] Tydens die Asiatiese Beker 2022 in die Verenigde Arabiese Emirate het hulle ná oorwinnings oor Sri Lanka en Bangladesj die Super 4 gehaal, waar hulle egter ná nederlae teen Sri Lanka, Pakistan en Indië uit die toernooi geskakel is.[92] Tydens die T20I-wêreldbeker 2022 se Super 12 in Australië is Afghanistan deur Engeland, Sri Lanka en Australië verslaan, terwyl die wedstryde teen Nieu-Seeland en Ierland weens reën afgelas is, waardeur die span uit die toernooi geskakel is.[93] Tydens die Asiatiese Beker 2023 in Pakistan en Sri Lanka is hulle ná nederlae teen Bangladesj en Sri Lanka reeds in die eerste rondte uitgeskakel.[94] Tydens die Krieketwêreldbeker 2023 se groepfase in Indië het Afghanistan nederlae gely teen Bangladesj, Indië, Nieu-Seeland, Australië en Suid-Afrika, maar hulle kon ook oorwinnings aanteken oor Engeland, Pakistan, Sri Lanka en Nederland. Afghanistan se oorwinnings oor Engeland en Pakistan was hul eerste teen dié opponente in EDI-krieket. Die Afghane, gelyk aan punte met Nieu-Seeland en Pakistan, het die halfeindrondte slegs vanweë hul swakker lopietempo misgeloop, hul beste krieketwêreldbekertoernooiverloop tot dusver.[95] Vervolgens het hulle ook vir die eerste keer vir die Kampioenetrofee 2025 in Pakistan gekwalifiseer.[96] Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 in die Verenigde State en Wes-Indië het die Afghane geskiedenis gemaak en vir die eerste keer oorwinnings oor Nieu-Seeland, Australië en Bangladesj aangeteken, waarmee hulle hul eerste halfeindstryd by ’n krieket- of T20I-wêreldbekertoernooi gehaal het.[97] In die halfeindstryd het die span egter ’n swak nederlaag gely teen Suid-Afrika.[98] KleureIn toetswedstryde dra Afghanistan wit krieketklere met opsionele sweetpakke en baadjies vir koue weer, en die AKR se kenteken word op die regterbors, die vervaardiger se kenteken op die voorarm se mou en die borg se embleem op die middel van die trui vertoon. Die veldwerkers dra ’n rooi bofbalpet of ’n wit sonhoed met die AKR se kenteken op en die kolwer se helm is op ’n soortgelyke manier geverf, met die vlag van Afghanistan bo die AKR se kenteken. In die kleiner formate van krieket dra Afghanistan ’n blou trui in EDIs (of ’n grys trui in T20Is), met spatsels van groen, rooi, swart en soms geel. Die AKR se kenteken word op die regterbors vertoon en die borg se embleem in die middel, met die opskrif AFGHANISTAN onder die borg se kenteken en die vervaardiger se kenteken op die voorarm se mou. Gedurende IKR-toernooie word die borg se kenteken na die ander arm se mou verskuif. Die veldwerkers dra ’n blou bofbalpet of ’n rooi sonhoed. Die helms is ook rooi. Die huidige borg is Alokozay Group en die uitruster is TYKA Sports.[99] Ook ná die Taliban se hernude bewindsoorname in Augustus 2021 in Afghanistan dra die nasionale span truie in die driekleurige vlag van die Islamitiese Republiek Afghanistan se kleure swart-rooi-groen en word die ou volkslied Milli Tharana steeds voor elke wedstryd opgevoer.[100] TuisstadionsAs gevolg van die voortgesette oorlog in Afghanistan en die gebreek aan geriewe van ’n internasionale gehalte speel die Afghaanse nasionale krieketspan sy tuiswedstryde nie in Afghanistan nie. Afghanistan het sy “tuiswedstryd” tydens die Interkontinentale beker teen Ierland op die Rangiri Dambulla Internasionale Stadion in Sri Lanka gespeel. Ná hul kwalifisering vir die T20I-wêreldbeker 2010 het Afghanistan twee EDI-wedstryde teen Kanada op die Sharjah Krieketvereniging-stadion in die VAE gespeel, waardeur dié stadion as “tuisstadion” van Afghanistan bekend geword het.[101] Aangesien daar planne is om Afghaanse krieket te laat herleef, is ten minste drie internasionale krieketstadions in Afghanistan opgerig. In 2016 het die Shahid Vijay Singh Pathik Sportkompleks in Groter Noida die tuisstadion van die Afghaanse nasionale krieketspan geword nadat hulle besluit het om van Sharjah te skuif.[102][103] In Junie 2018, nadat hulle toetsstatus verkry het, het Afghanistan sy tuisstadion na die Rajiv Gandhi Internasionale Krieketstadion in Dehradun verskuif.[104] In Mei 2019 het die Afghaanse Krieketraad by die Raad vir Beheer van Krieket in Indië vir ’n nuwe tuiststadion aangeklop en in Augustus 2019 het die BCCI die Ekana Krieketstadion in Lucknow as nuwe tuiste vir die Afghaanse krieketspan goedgekeur.[105][106] Internasionale toereSoos gebruiklik sedert die begin van internasionale krieket, onderneem die Afghaanse nasionale krieketspan deels maandelange oorsese toere, waartydens hulle teen ander nasionale spanne, plaasliksaamgestelde spanne en klubspanne speel. Eweneens huisves hulle ander nasionale spanne in “tuisstadions”. Gedurende die plaaslike somer tree hulle as gasheer op of onderneem op hul beurt toere deur die ander krieketlande van die Noordelike Halfrond en gedurende die plaaslike winter onderneem hulle toere deur krieketlande van die Suidelike Halfrond. In teenstelling met die meeste ander krieketlande speel Afghanistan in toetskrieket nie vir enige trofee teen sy teenstanders nie. SpelersSpelerstatistiekeAltesaam het vir Afghanistan 32 spelers toets-, 61 spelers EDI- en 58 spelers T20I-wedstryde gespeel. Vervolgens die spelers, wat vir die Afghaanse span die meeste lopies aangeteken en die meeste paaltjies geneem het. Lopies
Paaltjies
SpankapteinsTot op hede was drie spelers reeds die kaptein vir Afghanistan tydens ’n toetswedstryd, sewe tydens ’n EDI en ses tydens ’n T20I.[113]
RekordsToetsrekord teen ander lande
Wêreldtoetskampioenskaprekord
EDI-rekord teen ander lande
Krieketwêreldbekerrekord
Kampioenetrofeerekord
T20I-rekord teen ander lande
T20I-wêreldbekerrekord
Asiatiese Bekerrekord
Sien ookVerwysings
Eksterne skakels
|