Hongkongse nasionale krieketspan
Die Hongkongse nasionale krieketspan (Chinees: Tradisionele karakters: 香港板球男子代表隊, Vereenvoudigde karakters: 香港板球男子代表队, Pinyin: Xiānggǎng Bǎnqiú Nanzǐ Dàibiǎoduì, Jyutping: Hoeng1gong2 Baan2kau4 Naam4zi2 Doi6biu2doi6*2) is die nasionale krieketspan wat die spesiale administratiewe streek van die Volksrepubliek China Hongkong in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word bestuur deur Krieket Hongkong (CHK, van Engels: Cricket Hong Kong; Chinees: 香港板球) wat in 1969 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword het.[9] Hongkong het sy eerste krieketwedstryd in Maart 1866 gespeel.[10] Hongkong het sy eerste EDIs tydens die Asiatiese Beker 2004 gespeel,[10][11] en in Januarie 2014 is, nadat hulle tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2014 derde geëindig het, aan hulle EDI-status tot in 2018 toegeken.[12] Die span het in November 2013 T20I-status verkry, nadat hulle vir die T20I-wêreldbeker 2014 gekwalifiseer het.[13] Hongkong was sy EDI-status in Maart 2018 kwyt, nadat hulle in die uitspeelwedstryd tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2018 teen Nederland verloor het.[14] In September 2018 het Hongkong egter twee bykomende EDI-wedstryde tydens die Asiatiese Beker gespeel, nadat hulle die T20I-wêreldbekerkwalifikasie kon wen en die IKR aangekondig het dat al die wedstryde tydens die hooftoernooi as EDI-wedstryde erken sal word.[15] Hongkong het tot dusver aan elke krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooi, behalwe vir dié in 1979 en 2005, deelgeneem.[16] Hulle het ook aan twee Interkontinentale Bekertoernooie deelgeneem, in 2005[17] en in 2015/17, asook aan twee T20I-wêreldbekertoernooie, in 2014 en 2016. In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal al die T20I-wedstryde wat Hongkong ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken word.[18] Hongkong is tans (September 2024) 23ste op die Twintig20-wêreldranglys.[19] Beheerliggaam
Krieket Hongkong (Engels: Cricket Hong Kong, CHK; Chinees: 香港板球, Pinyin: Xiānggǎng Bǎnqiú, Jyutping: Hoeng1gong2 Baan2kau4) is in 1968 as Hongkongse Krieketvereniging (Hong Kong Cricket Association, HKCA) gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in die spesiale administratiewe streek Hongkong. In 1969 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit.[20] Daarbenewens het die CHK in 1983 ’n lid van die Asiatiese krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad) geword.[21] Krieket Hongkong bestuur al die Hongkong-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is CHK verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Hongkongse span. Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Hongkong oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[22] GeskiedenisEerste struktureBritte het krieket na die destydse Britse kolonie Hongkong saamgebring en die eerste bekende krieketwedstryd is in 1841 gespeel. Die Hongkongse Krieketklub is tien jaar later gestig, tot aan die einde van die eeu het verdere krieketklubs gevolg. Die Krieketklub (wat Hongkong verteenwoordig het) het enkele tussenhawenswedstryde teen spanne van die Chinese vasteland gespeel, van wie die eerste teen Sjanghai in 1866 wat hulle met ’n beurt kon wen. In 1890 het hulle vir die eerste keer teen die Straits Settlements gespeel en albei wedstryde gewen, van wie die eerste met ’n beurt. ’n Jaar later het Hongkong in Singapoer vir die eerste keer teen Ceylon (nou Sri Lanka) gespeel, maar met tien paaltjies verloor.[10][23] In 1892 het die SS Bokhara op pad terug van Sjanghai (waar die span met 157 lopies verloor het) in ’n tifoon gesink, wat die lewe van 125 mense geëis het. Net 23 mense het dié ramp oorleef, insluitende twee van die 13 Hongkongse spelers.[23] Onder die elf ander spanlede wat in die ongeluk omgekom het, was die Surrey-krieketspeler John Dunn.[24] Ná vyf jaar se pouse is die tussenhawewedstryde hervat, waarby hulle die tuiswedstryd teen die Straits Settlements met ’n beurt verloor het, terwyl hulle teen Sjanghai met een paaltjie kon wen. ’n Saamgestelde Hongkong-Sjanghai-span is deur die Straits Settlements ook met ’n beurt verslaan.[23] Gedurende die 1903/04-seisoen is die eerste liga in Hongkong van stapel gestuur. In 1920 het Hongkong vir die eerste keer teen Malaya gespeel, maar met 35 lopies verloor. Ses jaar later het hulle teen die in Federasie Malaya hernoemde span met ’n beurt verloor. In 1948 is die laaste wedstryd teen Sjanghai gespeel.[10][23] Jack Chegwyn het in 1952 die eerste internasionale span na Hongkong aangevoer. In 1957 het die eerste wedstryd teen Singapoer onbeslis geëindig.[23] In 1965 het Worcestershire Hongkong vir ’n wedstryd teen die nasionale span besoek. In dieselfde jaar het die eerste wedstryd tussen Maleisië en Hongkong in Kuala Lumpur onbeslis geëindig. In 1966 het die Marylebone-krieketklub (MKK) op pad huis toe van Australië en Nieu-Seeland vir die eerste keer ’n tussenstop in Hongkong gemaak.[10] Die MKK, aangevoer deur Mike Smith, het die wedstryd met 74 lopies gewen.[23][25] In 1968 is die beheerliggaam gestig as die Hongkongse Krieketvereniging (Hong Kong Cricket Association, HKCA) en een jaar later het dit ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketkonferensie (IKK, nou die Internasionale Krieketraad) geword.[23][10][9][26] Begin van internasionale krieketIn 1970 het die Hongkongse span teen die MKK onder Tony Lewis onbeslis gespeel,[27] en in 1971 is Hongkong in Ceylon deur die Ceylon Board President’s XI verslaan. Hongkong is nie vir die eerste Krieketwêreldbeker 1975 en die eerste IKR-trofee 1979 genooi nie, waarmee hulle ook die Krieketwêreldbeker 1979 misgeloop het. In 1980 het hulle Papoea-Nieu-Guinee vir twee wedstryde gehuisves, maar dié reeks het gelykop geëindig. Daarna het Hongkong vir die eerste keer deelgeneem aan die IKR-trofee 1982 wat as kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 1983 gedien het.[10] Tydens dié toernooi kon die span, insluitende die toekomstige Engelse toetsspeler Dermot Reeve, slegs teen Israel[28] en Gibraltar wen,[29] waarmee hulle die tweede rondte en daarmee die hooftoernooi misgeloop het.[23][30] In 1983 was Hongkong een van die Asiatiese Krieketraad (AKR) se stigtingslede.[31] Die Suidoos-Asiatiese toernooi 1984 het Hongkong as naaswenner na Bangladesj afgesluit.[23] Hongkong het aan die volgende drie IKR-trofeë deelgeneem, maar in 1986 weer versuim om vanaf die eerste rondte te vorder en daarmee nie vir die Krieketwêreldbeker 1987 gekwalifiseer nie.[32] Tydens die IKR-trofee 1990 het hulle die tweede rondte misgeloop en daarmee nie vir die Krieketwêreldbeker 1992 gekwalifiseer nie.[33] Tydens die IKR-trofee 1994 het hulle eindelik tot die tweede rondte gevorder, maar nogtans die Krieketwêreldbeker 1996 misgeloop.[34] In 1987 het Hongkong die laaste tussenhawenswedstryd teen Singapoer met 149 lopies gewen. In die daaropvolgende jaar het hulle Australië gehuisves, wat sy wedstryd teen ’n keurspan met 179 lopies gewen het. D. Paull het ses paaltjies vir 124 lopies (in 14.1 boulbeurte) in die Australiese beurt geneem. Daarna het Hongkong die tweede Suidoos-Asiatiese toernooi weer as naaswenner na Bangladesj afgesluit. In 1990 het die span tydens die eerste Volvo-beker vir die eerste keer teen Thailand gespeel. Die reeks van twee wedstryde het gelykop geëindig. ’n Jaar later het Hongkong die eerste Tuanku Ja’afar-beker gewen, wat ter ere van die later gekose Maleise koning Yang di-Pertuan Agong jaarliks tussen die vier nasionale spanne van Hongkong, Maleisië, Singapoer en Thailand beslis is.[35] Die Hong Kong Cricket Sixes, wat deur die Hongkongse beheerliggaam bedink en in 1992 vir die eerste keer besli is, het die vernaamste internasionale kriekettoernooi in ses-per-kant-krieket geword. Die konsep is ontleen aan die Hongkong Sewes en word deur die wêreldbeheerliggaam IKR erken.[36] In dieselfde jaar het Hongkong tydens die Suidoos-Asiatiese toernooi weer as naaswenner na Bangladesj geëindig. Die Volvo-beker, wat nou in die eendagformaat aangebied is, het Hongkong as naaswenner na Thailand afgesluit. Aansluitend het hulle die Tuanku Ja’afar-beker verdedig. ’n Jaar later het Bangladesj Hongkong besoek en al drie wedstryde teen die nasionale span gewen. Daarna het hulle die Tuanku Ja’afar-beker vir die derde keer agtereenvolgens beklink. In 1995 het Hongkong se teenbesoek in Bangladesj plaasgevind, maar hulle het albei wedstryde teen die nasionale span verloor.[23] In 1996 het Hongkong aan die eerste AKR-trofee deelgeneem,[10] maar hulle is reeds in die groepfase uitgeskakel, nadat hulle deur beide Bangladesj en Fidji verslaan is.[37] Daarna het hulle tydens die Tuanku Ja’afar-beker met hul vierde agtereenvolgende titeloorwinning weggestap.[23] In 1997 is die kroonkolonie Hongkong deur die Britte aan die Volksrepubliek China oorhandig, wat die nasionale span se internasionale deelname egter nie beïnvloed het nie. In dieselfde jaar het die nasionale span tydens die IKR-trofee die agtste plek behaal, hul beste prestasie in dié toernooi tot dusver, maar die nasionale span het nogtans die Krieketwêreldbeker 1999 misgeloop.[23][38] Tydens die AKR-trofee 1998 is hulle in die halfeindstryd deur Maleisië verslaan.[39] Aansluitend het hulle vir die vyfde keer die Tuanku Ja’afar-beker gewen en dié titel in 1999 verdedig.[23] In die nuwe millenniumTydens die AKR-trofee 2000 het Hongkong vir die eerste keer die eindstryd gehaal, maar hulle is deur die Verenigde Arabiese Emirate verslaan.[40] Daarmee het die nasionale span vir die Asiatiese Beker 2002 gekwalifiseer[23] (wat later na 2004 verskuif is), waartydens hulle vir die eerste keer EDI-krieket kon speel.[10] In dieselfde jaar het hulle Nieu-Seeland gehuisves.[23] Die IKR-trofee 2001 het vir Hongkong teleurstellend verloop, aangesien hulle ná slegs een oorwinning oor Papoea-Nieu-Guinee reeds in die groepfase uitgeskakel is, waarmee hulle die Krieketwêreldbeker 2003 misgeloop het.[41] Ter viering van die Hongkong Krieketklub se 150ste bestaansjaar het die Marylebone-krieketklub en die Melbourne-krieketklub Hongkong besoek vir ’n driehoekse toernooi, wat die Marylebone-krieketklub gewen het. Daarna het Hongkong sy sewende Tuanku Ja’afar-beker gewen.[23] Tydens die AKR-trofee 2002 het die nasionale span die halfeindstryd gehaal, maar hulle het weer teen die Verenigde Arabiese Emirate vasgeval.[42] Daarna het hulle die Tuanku Ja’afar-beker verdedig. In 2003 het hulle hul negende en laaste Tuanku Ja’afar-beker ingepalm.[23] Tydens die Asiatiese Beker 2004 in Sri Lanka het Hongkong teen die toetslande Bangladesj en Pakistan sy eerste EDI-wedstryde gespeel.[23] Die nasionale span het albei wedstryde swak verloor, hoewel hulle Bangladesj in die eerste wedstryd op 221/9 kon beperk.[43][44] Die tweede wedstryd teen Pakistan, wat deur reën beïnvloed is, het hulle met 173 lopies verloor.[45] Tydens die AKR-trofee 2004 is Hongkong weer in die eerste rondte uitgeskakel, nadat hulle deur beide Oman en Bahrein verslaan is, waarvolgens hulle die IKR-trofee 2005 in Ierland en sodoende die Krieketwêreldbeker 2007 misgeloop het.[46] In dieselfde jaar het hulle die eindstryd van die ACC Fast Track Countries Tournament 2004/05 gehaal, maar hulle is deur die Verenigde Arabiese Emirate geklop.[10] Daarna het hulle die laaste Tuanku Ja’afar-beker na Maleisië as naaswenner afgesluit.[23] In 2005 het Hongkong vir die eerste keer aan die Interkontinentale Beker deelgeneem en eersterangse krieket gespeel. Die nasionale span is deur die Verenigde Arabiese Emirate verslaan en het teen Nepal onbeslis gespeel, waarmee hulle die halfeindstryd misgeloop het.[17] In dieselfde jaar het hulle tydens die ACC Fast Track Countries Tournament in die laaste plek geëindig.[47] In 2006 het Hongkong die AKR-trofee-eindstryd weer teen die Verenigde Arabiese Emirate verloor[48] en hulle het die ACC Fast Track Countries Tournament in die vierde plek afgesluit.[49] Dieselfde uitslag het hulle tydens die AKR Premierliga 2006 behaal.[23] Die volgende jaar het hulle Darwin besoek vir die Wêreldkrieketliga se afdeling drie wat hulle in die vyfde plek afgesluit het,[50] waarmee hulle na die afdeling vier 2008 afgegradeer is en die Krieketwêreldbeker 2011 misgeloop het.[51] In Oktober/November 2007 het Hongkong aan die eerste AKR T20I-beker in Koeweit deelgeneem en in sy groep teen die Verenigde Arabiese Emirate, Singapoer, die gasheer en Saoedi-Arabië gespeel. Hongkong het sy groep in die vierde plek afgesluit en sodoende die halfeindstryd misgeloop. Nadat die Asiatiese Beker van 2006 na 2008 uitgestel is en die Asiatiese Krieketraad besluit het om dié toernooi in ’n kwalifisering te omskep, het Hongkong pleks van Oman deelgeneem.[52] In voorbereiding op die Asiatiese Beker 2008 het die nasionale span Pakistan besoek, waar hulle een van hul vyf wedstryde teen die Universiteit van Punjab gewen het.[23] In Junie 2008 het Hongkong aan die Asiatiese Beker in Pakistan deelgeneem. Hulle het ná swak nederlae teen die gasheer (met 155 lopies)[53] en Indië (met 256 lopies)[54] die tweede rondte misgeloop. Daarna het hulle die AKR Elitetrofee 2008 met ’n oorwinning in die eindstryd oor die Verenigde Arabiese Emirate gewen.[23][55] In Oktober 2008 het die span Dar-es-Salaam vir die afdeling vier besoek. Hongkong het vier groepwedstryde teen Fidji, Italië, Jersey en die gasheer gewen, maar hulle is twee keer deur Afghanistan verslaan: In die groepwedstryd en eindstryd. Hongkong is daarmee na afdeling drie opgegradeer.[56] Tydens die tweede AKR T20I-beker 2009 het die nasionale span teen Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Afghanistan, Singapoer en die Volksrepubliek China gespeel, maar hulle kon slegs laasgenoemde span verslaan en het sodoende in die voorlaaste plek geëindig. In die daaropvolgende uitspeelwedstryd om die negende plek is hulle deur Katar verslaan. Aan die kwalifiseringstoernooie vir die drie eerste T20I-wêreldbekertoernooie (in 2007, 2009 en 2010) het Hongkong nie deelgeneem nie. Tydens die AKR Elitetrofee 2010 het hulle die halfeindstryd gehaal, maar hulle is deur Afghanistan verslaan, waarna hulle die uitspeelwedstryd om die derde plek teen Maleisië gewen het.[57] Vestiging en eerste suksesseIn 2011 het Hongkong afdeling drie aangebied en dié toernooi gewen, nadat hulle Papoea-Nieu-Guinee in die eindstryd verslaan en sodoende vir afdeling twee in die Verenigde Arabiese Emirate gekwalifiseer het.[58] Kort daarna het hulle met hul tweede plek tydens die AKR T20I-beker 2011, wat as Asiatiese kwalifiseringstoernooi vir die T20I-wêreldbekerkwalifisiering 2012 gedien het, die tweede plek behaal. In die T20I-wêreldbekerkwalifisiering het hulle slegs in die elfte plek geëindig en sodoende die T20I-wêreldbeker 2012 misgeloop.[59] Tydens die AKR Elitetrofee 2012 is hulle ná twee oorwinnings oor Saoedi-Arabië en Koeweit, asook twee nederlae teen die Verenigde Arabiese Emirate en Nepal reeds in die eerste rondte uitgeskakel. In die uitspeelwedstryd om die vyfde plek het hulle Oman verslaan en sodoende vir die AKR Premierliga 2014 gekwalifiseer. In afdeling twee het Hongkong in die vierde plek geëindig en vir die 2014-krieketwêreldbekerkwalifisering in Nieu-Seeland gekwalifiseer.[60] Tydens die AKR T20I-beker 2013, wat weer as Asiatiese kwalifiseringstoernooi vir die T20I-wêreldbekerkwalifisiering 2013 gedien het, het Hongkong die eindstryd gehaal, maar hulle het teen Afghanistan vasgeval, genoeg om die volgende kwalifiseringstoernooi te haal. Die T20I-wêreldbekerkwalifisiering 2013 in die Verenigde Arabiese Emirate het die span ná sy oorwinning oor Papoea-Nieu-Guinee in die sesde plek afgesluit, genoeg om vir die T20I-wêreldbeker 2014 in Bangladesj te kwalifiseer. Tydens die krieketwêreldbekerkwalifisering 2014 in Nieu-Seeland het Hongkong in die derde plek geëindig. Hoewel hulle die Krieketwêreldbeker 2015 misgeloop het, het hulle saam met Papoea-Nieu-Guinee EDI-status ontvang.[61] Tydens die T20I-wêreldbeker 2014 is Hongkong in die eerste wedstryd deur Nepal op slegs 69 lopies uitgeboul, die destyds laagste T20I-wêreldbekertelling, waarvolgens hulle dié wedstryd met 80 lopies verloor het.[62] Daarna is hulle deur Afghanistan met sewe paaltjies verslaan.[63] In die laaste groepwedstryd het hulle die gasheer met twee paaltjies verslaan, wat egter nie genoeg was om die tweede rondte te haal nie. Troosprys was hierdie eerste historiese T20I-oorwinning oor ’n toetsland.[64] Tydens die AKR Premierliga in Mei dieselfde jaar is Hongkong deur Afghanistan, Oman, die Verenigde Arabiese Emirate en Nepal verslaan en hulle kon slegs in die laaste wedstryd ’n oorwinning oor Maleisië aanteken.[65] In November 2014 het Hongkong in Australië ’n reeks van twee EDIs teen Papoea-Nieu-Guinee gespeel, maar albei wedstryde verloor: Die eerste EDI met vier paaltjies en die tweede met drie paaltjies.[66] Tydens die Interkontinentale Beker 2015/2017 het hulle weer eersterangse krieket gespeel, waar hulle die Verenigde Arabiese Emirate en Papoea-Nieu-Guinee verslaan het, terwyl hulle teen Namibië, Ierland en Afghanistan verloor het; die wedstryd teen Skotland moes weens reën afgelas word en die wedstryd teen Nederland het onbeslis geëindig. Tydens die toernooi het Nizakat Khan (met sy eerste honderdtal teen Ierland)[67] en Babar Hayat (met die eerste tweehonderdtal vir Hongkong ooit teen Papoea-Nieu-Guinee)[68] uitgeblink. Hongkong het met sy sesde plek tydens die vorige toernooi regstreeks vir die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2015 in Ierland en Skotland gekwalifiseer, waardeur hulle nie aan die AKR T20I-beker moes deelneem nie.[69] Tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering het Hongkong die uitspeelwedstryd om die derde plek gehaal, wat egter weens reën afgelas moes word en aan Ierland toegeken is, genoeg om vir die T20I-wêreldbeker 2016 in Indië te kwalifiseer.[70] In Februarie 2016 het Hongkong tydens die Asiatiese Bekerkwalifisering al sy drie wedstryde teen Oman, die Verenigde Arabiese Emirate en Afghanistan verloor, waarmee hulle die Asiatiese Beker 2016 misgeloop het.[71] Troosprys was in die wedstryd teen Oman Babar Hayat se eerste honderdtal vir Hongkong.[72] In dieselfde jaar het Hongkong tydens die T20I-wêreldbeker al hul drie wedstryde teen Zimbabwe (met 14 lopies),[73] Afghanistan (met ses paaltjies)[74] en Skotland (met agt paaltjies) verloor, waarvolgens hulle weereens in die eerste rondte uitgeskakel is.[75] In die eersgenoemde wedstryd het Ryan Campbell op 44 jaar en 30 dae die oudste T20I-speler geword wat debuteer het; 14 jaar voorheen het hy vir Australië EDI-krieket gespeel.[76] Op 8 Maart 2018 kon Hongkong sy eerste EDI-oorwinning oor ’n volle lid aanteken, toe hulle tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2018 Afghanistan verslaan het.[77] Nadat hulle in die uitspeelwedstryd egter deur Nederland verslaan is, het hulle hul EDI-status verloor en die Krieketwêreldbeker 2019 misgeloop.[14] In Augustus en September dieselfde jaar is Hongkong tydens die Asiatiese Bekerkwalifisering 2018 deur Maleisië verslaan, maar daarna het hulle teen Singapoer, die Verenigde Arabiese Emirate en Nepal gewen, terwyl die wedstryd teen Oman weens reën afgelas moes word. Daarna het Hongkong die eindstryd teen die Verenigde Arabiese Emirate gewen en sodoende vir die Asiatiese Beker 2018 gekwalifiseer.[78] Nadat die IKR EDI-status aan dié toernooi toegeken het, kon Hongkong twee bykomende EDIs speel.[15] Hulle het dié wedstryde egter teen Pakistan (met agt paaltjies)[79] en Indië (met 26 lopies) verloor.[80] Troosprys was in die laasgenoemde wedstryd die hoogste EDI-vennootskap deur ’n assosiaatlid – 174 lopies tussen Nizakat Khan en Anshuman Rath[81] – en die langste tydperk voordat die eerste paaltjie gekantel het – ná 34.1 boulbeurte.[82] Van 2019 af het die span aan die Uitdagingliga 2019–2022 deelgeneem, wat as kwalifisering vir die Krieketwêreldbekerkwalifisering en indirek vir die Krieketwêreldbeker 2023 gedien het. Tydens die T20I-wêreldbeker 2019 vir die T20I-wêreldbeker 2021 het Hongkong die agste plek behaal en die hooftoernooi misgeloop.[83] In November 2019 sou die eerste rondte tydens die Uitdagingliga B in Hongkong beslis word,[84] vanweë massaproteste is al die wedstryde egter in Oman beslis.[85][86] Hongkong het sy wedstryde teen Bermuda, Jersey en Kenia gewen, terwyl die wedstryd teen Italië weens reën afgelas is en hulle teen Uganda verloor het.[87] In die eerste wedstryd teen Bermuda het Kinchit Shah met onoorwonne 116 lopies sy eerste Lys-A-honderdtal vir Hongkong aangeteken.[88] Tydens die Uganda Uitdagingliga B 2022 het Hongkong Italië, Uganda, Bermuda en Kenia verslaan, maar hulle het teen Jersey verloor.[89] Tydens die Jersey Uitdagingliga B 2022 het Hongkong teen Kenia en Bermuda gewen, maar hulle is deur Jersey, Italië en Uganda verslaan.[90] Met ’n algehele derde plek in die Uitdagingliga B het Hongkong die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 misgeloop en daarmee ook die Krieketwêreldbeker 2023.[91] Tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering se groep B 2022 is Hongkong met sy derde plek in die groep weer in die eerste rondte uitgeskakel, waarmee hulle die T20I-wêreldbeker 2022 misgeloop het.[92] Tydens die AKR Oostelike T20I-streek in Thailand, wat deel was van die Asiatiese Bekerkwalifisering 2022, het hulle Nepal, die gasheer en Maleisië verslaan, terwyl hulle teen Singapoer verloor het.[93] In die wedstryd teen Nepal het Haroon Arshad die eerste Hongkongse bouler geword om ’n vyf-paaltjie-oes te neem.[94] Daarmee het hulle die volgende rondte gehaal, waar hulle al hul drie wedstryde teen Singapoer, Koeweit en die Verenigde Arabiese Emirate gewen en sodoende vir die Asiatiese Beker 2022 kon kwalifiseer.[95] In dié toernooi se eerste rondtewedstryd is hulle deur Indië met 40 lopies verslaan.[96] In die wedstryd teen Pakistan is Hongkong op slegs 38 lopies uitgeboul, die nasionale span se laagste T20I-telling tot dusver; Pakistan het met 155 lopies sy destyds hoogste oorwinning in dié formaat aangeteken, nadat hulle vir Hongkong ’n teiken van 193 lopies opgestel het.[97] Tydens die Asiatiese T20I-wêreldbekerkwalifisering 2023 is Hongkong in die groepfase uitgeskakel en het sodoende die T20I-wêreldbeker 2024 misgeloop.[98] Op ’n soortgelyke manier het die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2024 vir die T20I-wêreldbeker 2026 verloop.[99] Algemene situasieHoewel Han-Chinese 94% van die Hongkongse bevolking uitmaak, bestaan die nasionale span steeds oorwegend uit spelers met ’n Afghaanse, Indiese of Pakistanse herkoms. Aangesien hulle op Hongkongse skole en universiteite krieket speel, kan hulle vir die nasionale span gekeur word. Chinese speel tradisioneel ander sportsoorte, daarom is hulle minder teenwoordig in die nasionale span. Hierdie situasie kontrasteer met dié van die nasionale vrouespan, wat sowat 70% Chinees is. Nog ’n probleem is die gebrek aan gewildheid onder die Chinese weens die kompleksiteit van die sport, maar ook weens die hoë boudigtheid is daar ’n gebrek aan die nodige infrastruktuur om internasionale spele aan te bied en om krieket verder te kan ontwikkel.[100] Die beheerliggaam streef egter daarna, om ook die Chinese bevolkingsgroep te betrek. Daar is drie Chinese krieketklubs – Craigengower Cricket Club Hung See, CHK Pioneers Cricket Club en Cricket Hong Kong Dragons – wat aan die Hongkongse liga deelneem.[101] Kleure en kentekenIn T20I-krieket dra Hongkong rooi truie met swart kleuraksente, rooi moue, ’n swart V-halslyn en swart broeke. Veldwerkers dra ’n rooi bofbalpet of ’n rooi sonhoed. Die kolwers se helms is op ’n soortgelyke manier geverf. Gedurende IKR-toernooie verskyn die borg se embleem op die regtermou en die belettering HONGKONG op die middel van die trui. Krieket Hongkong se kenteken toon ’n gestileerde vyfblaarblom van die hongkongboomorgidee (Bauhinia × blakeana) in rooi met die belettering Cricket Hong Kong in Engels en 香港板球 in Chinees. Die kenteken is aan die vlag van Hongkong ontleen. TuisstadionHongkong se enigste internasionale stadion is Mission Road Ground wat deur die nasionale span vir al hul tuiswedstryde gebruik word. Dié stadion is in 1976 ingewy en het ’n kapasiteit van 3 500.[102]
SpelersSpelerstatistiekeAltesaam het vir Hongkong 41 spelers EDI- en 51 spelers T20I-krieket gespeel. Vervolgens die spelers wat vir die Hongkongse span die meeste lopies aangeteken en die meeste paaltjies geneem het. Lopies
Paaltjies
SpankapteinsTot op hede was ses spelers reeds die kaptein vir Hongkong tydens ’n EDI-wedstryd en ses tydens ’n T20I.[107]
RekordsEDI-rekord teen ander lande
Krieketwêreldbekerrekord
Kampioenetrofeerekord
T20I-rekord teen ander lande
T20I-wêreldbekerrekord
Asiatiese Bekerrekord
Sien ookVerwysings
Verdere leesstof
Eksterne skakels
|