Omaanse nasionale krieketspan
Die Omaanse nasionale krieketspan (Arabies: منتخب سلطنة عمان للكريكت) is die nasionale krieketspan wat Oman in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word bestuur deur Oman Krieket (OC, van Engels: Oman Cricket) wat in 1979 gestig is. Hulle het in 2000 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en in 2014 ’n assosiaatlid geword.[6] Die nasionale span het wedstryde op T20I-vlak gespeel. Op 24 April 2019 het Oman vir die eerste keer tot in 2022 EDI-status ontvang, nadat hulle die gasheer Namibië met vier paaltjies tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling twee 2019 kon klop.[7] Oman het tydens die AKR-trofee 2002 sy eerste internasionale wedstryde gespeel, en die span het aan baie AKR-toernooie deelgeneem, tydens die AKR-trofee 2004 as naaswenner geëindig en twee keer die AKR T20I-beker gewen. Oman het aan krieketwêreldbekerkwalifiseringstoernooie deelgeneem sonder om vir die uiteindelike toernooi te kwalifiseer, die negende plek tydens die IKR-trofee 2005 behaal en elfde tydens die 2009-wêreldbekerkwalifisering geëindig. In Julie 2015 het Oman met sy oorwinning oor Namibië tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2005 T20I-status behaal en vir die T20I-wêreldbeker 2016 in Indië gekwalifiseer, sy eerste deelname aan ’n vername internasionale toernooi.[8] In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal al die T20I-wedstryde wat Oman ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken word.[9] Oman is tans (Julie 2024) 18de op die eendagranglys en 19de op die Twintig20-wêreldranglys.[10][11] Beheerliggaam
Oman Krieket (Engels: Oman Cricket, OC) is in 1979 gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in Oman. In 2000 het dit ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en in 2014 ’n assosiaatlid.[12] Daarbenewens het OC in 2000 ’n lid van die Asiatiese Krieketraad (Asian Cricket Council, ACC) geword.[13] Oman Krieket bestuur al die Oman-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is OC verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Omaanse span. Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Oman oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[14] GeskiedenisDie nasionale span se eerste jareKrieket is na Oman gebring, toe dit ’n Britse protektoraat was. Gedurende die 1970’s is die eerste krieketklubs gestig.[15] In 1979 is die beheerliggaam Oman Krieket gestig.[16][17] Teen dié tydperk was daar in Oman slegs een krieketveld waarop gereelde wedstryde aangebied is, dit is deur die staatsmaatskappy Petroleum Development Oman bestuur en na dié maatskappy PDO Ground genoem. Binne enkele jare het verskeie krieketvelde bygekom, só by die Sultan-Qabus-universiteit en een wat deur die lugredery Oman Air beheer is.[18] Aan die begin van die 1980’s is op twee sokkerstadions af en toe uitstallingswedstryde aangebied, waaraan soms internasionale spelers deelgeneem het. In 1990/91 het die Omaanse nasionale span Indië besoek.[17] In 2000 het Oman ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad geword en in dieselfde jaar by die Asiatiese Krieketraad aangesluit, wat hulle vir wedstryde teen ander nasionale spanne toegelaat het.[16][17][19] Weens sy nielidmaatskap in die wêreldbeheerliggaam kon die nasionale span nie aan die kwalifiserings vir die krieketwêreldbekertoernooie in 1979, 1983, 1987, 1992, 1996, 1999 en 2003 deelneem nie. Dieselfde het gegeld vir die Asiatiese Bekertoernooie in 1986, 1988, 1990, 1995, 1997 en 2000. Oman het sy internasionale debuut tydens die AKR-trofee 2002 in Singapoer gemaak,[16][17] waar hulle ná ’n oorwinning oor Katar en nederlae teen die Verenigde Arabiese Emirate, Nepal en Koeweit hul groep in die voorlaaste plek afgesluit het. In 2003 het hulle aan die eerste Golfbeker in Koeweit deelgeneem.[17] Tydens die AKR-trofee 2004 in Maleisië het Oman goed presteer, nadat hulle ná oorwinnings in die groepfase oor Afghanistan, Bahrein en Hongkong, asook Bhoetan in die kwarteindstryd en Katar in die halfeindstryd eers in die eindstryd deur die Emirate met 94 lopies verslaan is.[17][20] As naaswenner het hulle vir die IKR-trofee 2005 gekwalifiseer, die laaste kwalifiseringsfase vir die Krieketwêreldbeker 2007. Daardeur het hulle ook vir die Asiatiese Beker 2006 gekwalifiseer. Later in 2004 het Oman die Midde-Oosterse Beker ná ’n gelykopwedstryd teen Bahrein ingepalm; vanweë hul oorwinning oor dieselfde opponent in die groepfase was dit genoeg om dié toernooi te wen.[15] IKR-trofee 2005 en nadraaiIn 2005 was Oman die eerste geaffilieerde lid wat aan die IKR-trofee deelgeneem het. Hulle is egter in al hul vyf groepwedstryde deur Skotland, Nederland, Kanada, Papoea-Nieu-Guinee en Namibië verslaan, waardeur hulle hul groep in die laaste plek afgesluit en die Krieketwêreldbeker 2007 misgeloop het, maar hulle het daarin geslaag om hul uitspeelwedstryde teen Uganda en die Verenigde State te wen; laasgenoemde nadat hulle ’n teiken van 345 lopies suksesvol gejaag het, waaronder ’n vennootskap van 127 lopies om die agtste paaltjie. Hierdeur het Oman in die negende plek onder twaalf deelnemende spanne geëindig.[15][21] Daarmee het hulle vir die Wêreldkrieketliga 2007 se afdeling twee gekwalifiseer.[22] In 2006 het die Omanis se prestasies verswak, aangesien hulle tydens die AKR-beker se eerste rondte ná nederlae teen Singapoer en Bahrein uitgeskakel is; hul enigste oorwinning was oor die Maledive.[15] Daarmee is hulle na die tweede afdeling afgegradeer en het vir die AKR Trofee-uitdaagtoernooi 2009 gekwalifiseer. Oman sou oorspronklik aan die Asiatiese Beker 2006 deelneem en tydens dié toernooi sy eerste EDI-wedstryde teen Indië en Pakistan speel.[23] Die Asiatiese Beker is van 2006 na 2008 uitgestel en die Asiatiese Krieketraad het besluit om dié toernooi in ’n kwalifisering om te skep. Daaraan het egter Hongkong deelgeneem.[24] In Oktober en November 2007 het Oman aan die eerste AKR T20I-beker in Koeweit deelgeneem, waar hulle in Groep A teen Afghanistan, Maleisië, Nepal en Katar gespeel het. Die Omanis het in hul groep tweede geëindig en die halfeindstryd gehaal. Daar het hulle die gasheer verslaan en daarna die beker met Afghanistan gedeel, nadat die eindstryd onbeslis geëindig het.[15][16][17][25] Aan die einde van November 2007 het die Omanis Namibië besoek vir afdeling twee van die Wêreldkrieketliga.[17] Hulle het Denemarke, die gasheer en die Verenigde Arabiese Emirate, bykomend tot die twee kwalifiseerders van afdeling drie – Uganda en Argentinië – ontmoet. Nadat die Omanis al hul groepwedstryde gewen het, is hulle in die eindstryd deur die Emirate met 67 lopies verslaan.[26] In Januarie 2009 het Oman deelgeneem aan die AKR-beker in Chiang Mai. Die nasionale span het dié toernooi ná oorwinnings oor die Maledive en Bhoetan onderskeidelik in die halfeindstryd en eindstryd maklik gewen. Die gunsteling en gasheer Thailand het slegs die vierde plek behaal. In April 2009 het die Omanis vir die Wêreldbekerkwalifisering 2009, die laaste kwalifiseringstoernooi vir die Krieketwêreldbeker 2011, na Suid-Afrika getoer.[17][27] Tydens dié toernooi se eerste rondte het Oman Uganda verslaan; aangesien hulle voorheen teen Kanada, Ierland, Skotland en Namibië verloor het, is hulle uitgeskakel en het sodoende die Krieketwêreldbeker 2011 misgeloop. In die uitspeelwedstryd het hulle Denemarke met vyf paaltjies verslaan en sodoende in die elfde en dus voorlaaste plek geëindig.[28] In dieselfde jaar het Oman tydens die AKR T20I-beker in die Verenigde Arabiese Emirate al sy vyf groepwedstryde teen Bahrein, Katar, Nepal, Maleisië en Koeweit gewen en sodoende die halfeindstryd gehaal. In die halfeindstryd is Oman deur die gasheer met ses paaltjies verslaan, waardeur hulle die kans misgeloop het om agtereenvolgende titels in te palm. In die uitspeelwedstryd om die derde plek het hulle Koeweit verslaan. Die Omanis het die AKR Trofee-uitdaagtoernooi in Thailand beklink, nadat hulle al hul groepwedstryde teen Bhoetan, Mianmar en Broenei gewen, in die halfeindstryd die Maledive en in die eindstryd Bhoetan verslaan het.[15][17] Daarmee is hulle regstreeks na die AKR Elitetrofee opgegradeer.[29][30] Tydens dié toernooi het Oman in die groepfase Singapoer en Koeweit verslaan, maar hulle het teen Nepal en Hongkong verloor. In die uitspeelwedstryd om die vyfde plek het hulle die Verenigde Arabiese Emirate met 34 lopies verslaan, waarmee hulle in die afdeling aangebly het.[31] In Julie 2008 het Oman Krieket aangekondig om in Al Amarat naby die hoofstad Maskat ’n krieketveld op internasionale vlak op te rig. Die boukoste is oorspronklik op sowat 2 miljioen Omaanse rial beraam en die grond sou deur die departement van sport beskikbaar gestel word, die ander deel van die finansiering sou deur korporatiewe borgskappe ingesamel word.[32] Op 17 Oktober 2012 is die Omaanse Krieketakademieveld in die hoofstad Maskat as eerste (en tot dusver enigste) internasionale krieketveld met gras ingewy.[16] Andersins word krieket in Oman “meestal gespeel op graslose, heeltemal bruin buitevelde, op betonblaaie bedek met kunsmatige gras” (has mostly been played on grassless, utterly brown outfields, on concrete strips covered with artificial turf).[33] Tydens die AKR Elitetrofee 2012 het die Omanis die groepwedstryde teen Bhoetan en die Maledive gewen, maar teen Afghanistan en Maleisië verloor. In die uitspeelwedstryd om die vyfde plek is hulle deur Hongkong verslaan, waarmee Oman vir die AKR Premierliga 2014 gekwalifiseer het. Tydens dié toernooi het die nasionale span Maleisië, Hongkong en Nepal geklop, terwyl hulle deur Afghanistan en die Verenigde Arabiese Emirate verslaan is. Hiermee het hulle in die derde plek geëindig en vir die AKR Kampioenskap 2014 gekwalifiseer.[34] Aangesien Afghanistan en die Verenigde Arabiese Emirate besig was met voorbereidings op die Krieketwêreldbeker is die AKR Kampioenskap 2014 gekanselleer.[35] Teen 2010 is krieket in Oman oorwegend deur emigrante uit die toetslande Bangladesj, Indië, Pakistan en Sri Lanka (en hul nasate) gespeel, maar minder deur inheemse Omanis. In dié jaar was slegs 100 van die 780 spelers in die nasionale liga Arabiere (oftewel 13 persent).[37] Die aantal het tot in 2016 op sowat 400 gestyg met die algehele getal wat ook toegeneem het.[38] Vir spanne wat in die Omaanse Liga meeding is ’n kwota ingestel en hulle moet ’n sekere aantal Omaanse spelers vir hul wedstryde benoem.[39] Op nasionale vlak is slegs min Omanis vir die nasionale span gekeur. Tydens die T20I-wêreldbeker 2016 was slegs een van die spelers, Sufyan Mehmood, ’n inheemse[40] (hoewel met Yousuf Rahim Baksh nog een as plaasvervanger benoem is).[36] Voorheen was Ameet Sampat die enigste in Oman gebore speler wat vir die nasionale krieketspan verskyn het (in Lys-A-krieket).[41] Die Omanis het deelgeneem aan die afdeling drie 2011 wat hulle in die derde plek afgesluit en sodoende in dié afdeling aangebly het.[42] Aan die kwalifiseringstoernooie vir die drie eerste T20I-wêreldbekertoernooie (in 2007, 2009 en 2010) het die Omanis nie deelgeneem nie. Tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2012 het hulle al hul sewe wedstryde in die eerste rondte teen Italië, Uganda, Kenia, Skotland, die Verenigde State, Namibië en Ierland verloor, maar hulle kon die uitspeelwedstryd om die vyftiende plek teen Denemarke wen, waarmee hulle die T20I-wêreldbeker 2012 misgeloop het.[43] Tydens die AKR T20I-beker 2013 is Oman deur Afghanistan, die Verenigde Arabiese Emirate en Koeweit verslaan, hulle kon slegs die wedstryd teen Bahrein wen, waardeur die span dié toernooi in die voorlaaste plek afgesluit het. In dieselfde jaar is in Bermuda die daaropvolgende toernooi van afdeling drie beslis.[44] Die Omanis het ná twee oorwinnings in die eerste rondte oor Italië en Uganda die vyfde plek behaal en sodoende die Krieketwêreldbeker 2015 se 2014-krieketwêreldbekerkwalifisering misgeloop.[45] Pleks daarvan het hulle deelgeneem aan die Wêreldkrieketliga se afdeling vier 2014 en weer in die vyfde plek geëindig. In dieselfde jaar is die Omaanse Krieketraad tydens die jaarlikse IKR-vergadering in Melbourne tot assosiaatlid verhef.[16][6] Eerste T20I-wêreldbekerdeelnameTerwyl Oman in EDI-krieket gesukkel het, het die span daarin geslaag om in T20I-krieket die AKR T20I-beker 2015 te wen en sodoende vir die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2015 in Ierland en Skotland te kwalifiseer. In die eerste rondte het hulle Kanada, Nederland en Afghanistan verslaan,[46] maar hulle het teen Kenia en Skotland verloor, terwyl die wedstryd teen die Verenigde Arabiese Emirate weens reën afgelas moes word, waarmee Oman die kwalifiseringsuitspeelwedstryde gehaal het.[47] Daar kon die Omanis in die beslissende wedstryd teen Namibië ’n verrassende oorwinning aanteken en vir die eerste keer vir ’n wêreldbeker kwalifiseer, daarbenewens het hulle tot in 2019 T20I-status ontvang.[8] Dit was Oman se eerste deelname ooit aan ’n wêreldbeker.[16] Die uitspeelwedstryd om die vyfde plek tydens dié toernooi teen Afghanistan was Oman se eerste T20I-wedstryd, hulle is egter met vyf paaltjies verslaan.[48] Vervolgens het die Omanis tydens die 2015/16-seisoen T20I-reekse teen die Verenigde Arabiese Emirate, Afghanistan en Hongkong gespeel. In Februarie 2016 het Oman tydens die Asiatiese Bekerkwalifisering 2016 Hongkong verslaan, terwyl hulle teen Afghanistan en die Verenigde Arabiese Emirate verloor het, waarmee hulle die Asiatiese Beker 2016 misgeloop het.[49] In dieselfde jaar het die Omanis tydens die T20I-wêreldbeker 2016 in Indië ’n verrassende oorwinning in die eerste wedstryd oor Ierland (met twee paaltjies) aangeteken. Dit was hul eerste T20I-wêreldbekeroorwinning ooit.[50] Nadat die tweede wedstryd teen Nederland weens reën afgelas is, het die span die kans gehad om met ’n oorwinning oor Bangladesj vir die Super Tien te kwalifiseer.[51] Hulle kon egter in die weens reën ingekorte wedstryd nie teen dié toetsland presteer nie en is met 54 lopies verslaan (DLS-metode).[52] In EDI-krieket het Oman tydens die Wêreldkrieketliga 2017–19 se afdeling vyf in 2016 in die tweede plek geëindig en is sodoende na die vierde afdeling opgegradeer.[53] In dié afdeling kon die Omanis weer goed presteer en het na die Verenigde State in die tweede plek geëindig.[54] Dié wenreeks is tydens die afdeling drie in Uganda voortgesit, toe die Omanis die toernooi met slegs een nederlaag teen Kanada gewen het.[55] Daarmee het hulle die kans gehad om tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling twee 2018 vir die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2018 te kwalifiseer, maar nadat hulle slegs die vyfde plek behaal het en na afdeling drie 2018 afgegradeer is, het hulle die Krieketwêreldbeker 2019 misgeloop.[56] Daar is die gasheer regstreeks opgegradeer na afdeling twee 2019, waar die Omanis die eindstryd gehaal het, maar dié keer deur die gasheer Namibië met 145 lopies verslaan is. Daarmee het hulle die Wêreldkrieketliga 2 2019–2023 gehaal wat as kwalifisering vir die Krieketwêreldbeker 2023 gedien het; daarbenewens het Oman tot in 2023 EDI-status ontvang.[7] In vergelyking met ander assosiaatlede van die IKR word die Omaanse span beskou as konstant en dié met die vinnigste prestasieverbetering. In 2016 het Oman in afdeling vyf teen “kleiner” spanne soos Tanzanië en Nigerië gespeel. Eers in 2014 is hulle as ’n assosiaatlid benoem, maar binne slegs vier jaar kon die Omanis hulleself in EDI-krieket vestig en hulle word intussen as een van die sterkste assosiaatlede beskou. In T20I-krieket het hulle hulself ook gevestig, nadat hulle in dié formaat verskeie afdelings gewen en aan twee T20I-wêreldbekertoernooie deelgeneem het. In 2022 het die IKR se voorsitter, Greg Barclay, hierdie ontwikkeling, wat slegs in ’n paar jaar bereik is, as ’n model vir ander assosiaatlede beskryf.[57] Nog wêreldbekerkwalifiseringsIn Augustus en September 2018 het Oman in die Asiatiese Bekerkwalifisering teen Nepal, Maleisië en Singapoer gewen en teen die Verenigde Arabiese Emirate verloor, terwyl die wedstryd teen Hongkong weens reën afgelas moes word. Vervolgens het die span in die tabel gelyk op punte met Hongkong geëindig, maar as gevolg van sy swakker lopietempo (Hongkong met +1.530 en Oman met +0.583) het hulle die Asiatiese Beker 2018 misgeloop.[58] In voorbereiding op die daaropvolgende T20I-wêreldbekerkwalifisering het die beheerliggaam Ierland, Skotland en Nederland uitgenooi vir ’n vierhoekige toernooi, waartydens die eerste T20I-wedstryde op eie bodem beslis is.[59] Ierland het sodoende die eerste volle lid geword wat Oman besoek het.[60] Die gasheer kon egter nie ’n oorwinning aanteken nie.[61] Op 27 April 2019 het die Omanis hul eerste EDI-wedstryd teen Namibië gespeel, maar hulle is op slegs 81 lopies uitgeboul en het met 145 lopies verloor.[62] Oman was regstreeks vir die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2019 gekwalifiseer en het tydens dié toernooi se eerste rondte die Verenigde Arabiese Emirate, Hongkong, Nigerië en Kanada verslaan, maar teen Ierland en Jersey verloor, waarvolgens hulle met hul tweede plek die uitspeelwedstryde gehaal het. Ná hul nederlaag teen Namibië het die Omanis danksy die kolwer Jatinder Singh en die bouler Bilal Khan Hongkong met twaalf lopies verslaan en daarmee vir die tweede keer vir ’n hooftoernooi gekwalifiseer.[63] In November 2019 sou die eerste rondte tydens die uitdaagtoernooiliga B in Hongkong beslis word,[64] vanweë massaproteste is al die wedstryde egter in Oman beslis.[65][66] In Oktober 2019 het die beheerliggaam weer internasionale spanne uitgenooi, dié keer vir ’n vyfhoekige toernooi. Die nasionale spann het dié toernooi ná oorwinnings oor Hongkong, Ierland, Nederland en Nepal onoorwonne beklink.[67] Hulle het ook aan die Wêreldkrieketliga 2 2019–2023 deelgeneem. Die eerste rondte in Skotland het hulle na die gasheer en voor Papoea-Nieu-Guinee in die tweede plek afgesluit.[68] In Januarie 2020 het Oman die vierde rondte aangebied, wat hulle na die Verenigde Arabiese Emirate en voor Namibië in die tweede plek afgesluit het, nadat die laaste twee wedstryde ná die dood van sultan Qaboos bin Said al Said afgelas moes word.[69] Die vyfde rondte het Oman teen die gasheer Nepal en die Verenigde State beklink.[70] In Februarie 2020 het Oman die AKR Oostelike T20I-streek aangebied, wat deel was van die Asiatiese Bekerkwalifisering 2022. Daar het die nasionale span sy groepwedstryde teen Bahrein en die Maledive gewen, maar teen Katar verloor. Daarmee het hulle gelyk op punte met Bahrein en Katar geëindig, maar weens sy swakker lopietempo (Bahrein met +1.461, Katar met +1.391 en Oman met +1.040) die volgende rondte misgeloop.[71] In September en Oktober 2021 het Oman die driehoekige reeks aangebied, wat uit die sesde en sewende rondte bestaan het. Die sesde rondte het die Omanis teen Nepal en die Verenigde Staate beklink,[72] die sewende rondte het hulle na Skotland en voor Papoea-Nieu-Guinee in die tweede plek afgesluit.[73] Vanweë die aanhoudende wêreldwye Covid-19-pandemie is die T20I-wêreldbeker 2021 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate beslis, waarmee albei lande vir die eerste keer wedstryde tydens ’n internasionale toernooi gehuisves het; Indië het egter as amptelike gasheer aangebly.[74] Tydens dié toernooi is die Omanis ná een oorwinning oor Papoea-Nieu-Guinee (met tien paaltjies),[75] asook nederlae teen Bangladesj (met 26 lopies)[76] en Skotland (met agt paaltjies) weer in die eerste rondte uitgeskakel.[77] Op die T20I-wêreldbeker sou in November en Desember die agtste rondte in Namibië volg, maar ná die ontdekking van die Covid-19 se Omikron-variant in Suid-Afrika is dié toernooi ná twee wedstryde afgelas.[78] In Februarie 2022 het Oman die Verenigde Arabiese Emirate gehuisves vir drie EDIs, wat voorheen tydens ander reekse afgelas moes word. Van dié wedstryde het hulle twee verloor, terwyl die derde gelykop geëindig het.[79] Daarna het albei spanne deelgeneem aan die vierhoekige reeks 2021/22, saam met Ierland en Nepal. Die gasheer Oman het dié toernooi ná slegs een oorwinning oor die Emirate in die derde plek afgesluit.[80] Daarop het die T20I-wêreldbekerkwalifisering se groep A gevolg, waartydens die gasheer Oman ná een nederlaag teen Nepal en oorwinnings oor Kanada en die Filippyne die halfeindstryd gehaal het, wat hulle teen Ierland met 56 lopies verloor en sodoende die T20I-wêreldbeker 2022 misgeloop het.[81] In Maart het die Omanis die negende rondte teen Namibië en die Emirate beklink. Deel van dié reeks was ’n bykomende EDI teen Namibië wat in Januarie 2020 ná die dood van die sultan afgelas en nou opgemaak is.[82] Die elfte rondte in April 2022 het Oman na Skotland en voor Papoea-Nieu-Guinee in die tweede plek afgesluit.[83] Die dertiende rondte het die Omanis ná een oorwinning elk oor Nepal en die Verenigde State na die gasheer in die tweede plek afgesluit.[84] Ná afsluiting van al die drienasiesreekse het Oman tydens die Krieketwêreldbekerliga 2 2019–2023 die tweede plek behaal, waarmee hulle die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 gehaal en gelyktydig hul plek in die Krieketwêreldbekerliga 2 2023–2027 vir die Krieketwêreldbeker 2027 bespreek het.[85] Tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 in Zimbabwe het die Omanis die sesde plek behaal, waarmee hulle die hooftoernooi in Indië misgeloop het. In die proses het hulle onder andere hul eerste EDI-oorwinning ooit oor Ierland aangeteken, hul eerste oorwinning oor ’n toetsland.[86] Tydens die Asiatiese T20I-wêreldbekerkwalifisering 2023 het Oman die eindstryd teen Nepal gehaal en sodoende vir die T20I-wêreldbeker 2024 gekwalifiseer.[87] Die span het egter al sy wedstryde teen Namibië (in die Superboulbeurt),[88] Australië (met 39 lopies),[89] Skotland (met sewe paaltjies)[90] en Engeland (met agt paaltjies)[91] verloor en die span is alweer in die eerste rondte uit die toernooi geskakel.[92] Kleure en kentekenIn EDI- en T20I-krieket dra Oman rooi truie met groen kleuraksente, rooi moue, ’n wit V-halslyn en rooi broeke. Veldwerkers dra ’n rooi bofbalpet of ’n rooi sonhoed. Die kolwers se helms is op ’n soortgelyke manier geverf. Gedurende IKR-toernooie verskyn die borg se embleem op die regtermou en die belettering OMAN verskyn op die middel van die trui. Oman Krieket se kenteken toon ’n na regs vlieënde rooi krieketbal met vlamme in groen en rooi met die belettering Oman Cricket in Engels onder en Arabies bo. TuisstadionOman se enigste internasionale stadion is die Omaanse Krieketakademieveld wat deur die nasionale span vir al hul tuiswedstryde gebruik word. Dit beskik sedert 2021 oor toetskrieketstatus, waarmee Oman saam met die Emirate die enigste land is, wat oor stadions in dié kategorie beskik, maar self geen toetswedstryde speel nie. Die stadion het die status voor die geskeduleerde toer van die Zimbabwiese nasionale span teen Afghanistan ontvang, wat hier in Februarie 2021 beslis sou word.[93][94][95] Dié toer is egter na Aboe Dhabi verskuif.[96] Sedertdien is geen toetswedstryde op die Omaanse Krieketakademieveld aangebied nie.
T20I-wêreldbekerstadions
Oman het saam met die Verenigde Arabiese Emirate die T20I-wêreldbeker 2021 aangebied; Indië het egter steeds as amptelike gasheer aangebly. Dit was die eerste internasionale kriekettoernooi wat in beide Oman en die Verenigde Arabiese Emirate beslis is, asook die eerste vername kriekettoernooi wat geheel en al deur IKR-assosiaatlede gehuisves is.[97] SpelersSpelerstatistiekeAltesaam het vir Oman 25 spelers EDI- en 36 spelers T20I-krieket gespeel. Vervolgens die spelers wat vir die Omaanse span die meeste lopies aangeteken en die meeste paaltjies geneem het. Lopies
Paaltjies
SpankapteinsTot op hede was drie spelers reeds die kaptein vir Oman tydens ’n EDI-wedstryd en ses tydens ’n T20I.[102]
RekordsEDI-rekord teen ander lande
Krieketwêreldbekerrekord
Kampioenetrofeerekord
T20I-rekord teen ander lande
T20I-wêreldbekerrekord
Asiatiese Bekerrekord
Sien ookVerwysings
Eksterne skakels
|