Die T20I-wêreldbeker 2009 (Engels: 2009 ICC Men's T20 World Cup) is van 5 tot 21 Junie 2009 in Engeland beslis. Dit was die tweede T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is dié toernooi Wêreldtwintig20 2009 (2009 ICC World Twenty20) genoem, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend.[3] Die manstoernooi is gelyktydig met die vrouetoernooi gehou en beide die halfeindrondte en die eindstryde van albei toernooie is op dieselfde dag op dieselfde stadions beslis. Saam met die Kampioenetrofee 2009 in September en Oktober in Suid-Afrika was dit een van twee vername kriekettoernooie in dieselfde jaar.
Die toernooi se formaat van 2007 het onveranderd gebly en twaalf nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2009 deelgeneem: Nege van die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië), saam met die wenners van die kwalifisering (Ierland en Nederland). Nadat die Zimbabwiese span onttrek het,[4] kon die derdeplekspan tydens die kwalifisering Skotland ook aan die toernooi deelneem. Tydens die T20I-wêreldbeker 2009 is 27 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, twaalf in die Super Agt en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van drie spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer. In die Super Agt is die spanne in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde mekaar in die eindstryd ontmoet het.
Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Pakistan het Suid-Afrika en Sri Lanka het Wes-Indië geklop, waardeur die twee Suid-Asiatiese spanne Pakistan en Sri Lanka mekaar in die eindstryd ontmoet het. Pakistan het Sri Lanka in die eindstryd op Lord’s in Londen met agt paaltjies verslaan en sodoende sy eerste T20I-wêreldbekertitel ingepalm.[5] Saam met hul oorwinning tydens die Krieketwêreldbeker 1992 was dit Pakistan se tweede internasionale kriekettitel. Beide die gasheer Engeland en die verdedigende wêreldkampioen Indië is in die Super Agt uitgeskakel.
Toewysing
Die Internasionale Krieketraad het Engeland as gasheer vir die T20I-wêreldbeker 2009 aangewys. In Desember 2007 het die IKR ’n T20I-vrouewêreldbeker ingevoer wat gelyktydig met die manstoernooi aangebied sou word; dit was tydens die 2009-toernooi in Engeland vir die eerste keer die geval.[6]
Deelnemers
Die volgende twaalf spanne het vir die T20I-wêreldbeker 2009 gekwalifiseer: Australië, Bangladesj, Engeland (gasheer), Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië het as volle lede van die Internasionale Krieketraad met toetskrieketstatus regstreeks vir die T20I-wêreldbeker 2009 gekwalifiseer. Ierland en Nederland het as wenners van die kwalifisering vir dié toernooi gekwalifiseer. Weens Zimbabwe se destydse politieke beleid onder president Robert Mugabe het die Britse regering gedreig om die Zimbabwiese span se toegang na die Verenigde Koninkryk te weier, waarvolgens gevrees is dat die toernooi na ’n ander land geskuif sou kon word.[7] Zimbabwe het egter sy span aan die toernooi onttrek en vervolgens kon Skotland ook aan die toernooi deelneem.[8][9]
Tydens die toernooi is drie Engelse stadions gebruik. Altesaam 27 wedstryde is tydens die T20I-wêreldbeker 2009 gespeel, waaronder twee halfeindstryde en die eindstryd.
Die T20I-wêreldbeker 2009 is oor 17 dae tussen twaalf verskillende spanne oor 27 wedstryde beslis. Dit het op 5 Junie 2009 op Lord’s in Londen met die openingswedstryd tussen die gasheer Engeland en Nederland begin. Die toernooi het geëindig op dieselfde stadion op 21 Junie met die eindstryd tussen Sri Lanka en Pakistan, waartydens Pakistan die T20I-wêreldbekertrofee ingepalm het. Dieselfde formaat is voorheen tydens die T20I-wêreldbeker 2007 ingespan.
Kalender
Die volgende tabel dui die T20I-wêreldbeker 2009 se daaglikse program aan. ’n Pers blokkie dui op wedstryde tydens die eerste rondte, ’n siaan blokkie op die Super Agt, ’n groen blokkie op wedstryde tydens die uitklopfase en ’n geel blokkie op die eindstryd.
Die eerste rondte is op die volgende stede verdeel:
Groep A: Nottingham
Groep B: Londen
Groep C: Londen en Nottingham
Groep D: Londen
Eerste rondte en Super Agt
Die T20I-wêreldbeker 2009 is deur twaalf nasionale krieketspanne beslis. Vir die eerste rondte is die twaalf deelnemende spanne in vier groepe van drie spanne elk verdeel; elke span het een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep gespeel, dus het elke span twee wedstryde in die eerste rondte gespeel. Twee punte is vir ’n oorwinning toegeken, een vir ’n onbesliste wedstryd en geen punte vir ’n nederlaag: spanne wat met dieselfde aantal punte geëindig het, is volgens lopietempo, dan boultempo en dan die uitslag van die direkte ontmoeting gerangskik. Die twee beste spanne van elke groep het na die Super Agt deurgedring.
In die geval van ’n gelykop (d.w.s. as albei spanne die gelyke aantal lopies aan die einde van hul onderskeidelike kolfbeurt aangeteken het), is die wedstryd deur ’n Superboulbeurt beslis. Dit was van toepassing in alle fases van die toernooi.[10]
Die Super Agt is deur agt spanne in twee groepe van vier spanne elk beslis, waartydens elke span een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep gespeel het, dus het elke span drie wedstryde in die Super Agt gespeel. Die kwalifisering was gegrond op dieselfde kriterias as in die eerste rondte.[11]
Uitklopfase
Van die begin van dié fase af het die toernooi ’n uitklopformaat aangeneem wat uit drie wedstryde bestaan het: twee halfeindstryde en die eindstryd. Die wenner en naaswenner van elk van die Super Agt-groepe het na die uitklopfase deurgedring. Die groepwenner van albei groepe het teen die naaswenner van die ander groep in die halfeindstryde gespeel. Elke wedstryd in die uitklopstadium moes met ’n oorwinning vir een van die spanne eindig. As daar ná albei kolfbeurte ’n gelykopuitslag was, is die wenner deur ’n Superboulbeurt bepaal.
Skeidsregters en wedstrydbeamptes
’n Paneel van 16 skeidsregters en drie wedstrydbeamptes is vir die toernooi ingespan.[12]
Die wedstryde is in drie fases opgedeel, naamlik die eerste rondte, die Super Agt en die uitklopfase. Die groepe is op 31 Oktober 2007 aangekondig en bepaal volgens die spanne se finale posisies tydens die vorige T20I-wêreldbeker 2007.
Eerste rondte
Twaalf spanne het aan die eerste rondte deelgeneem. Die twee beste spanne in elke groep het na die Super Agt deurgedring.
Hy word op 17 jaar en 55 dae die destyds jongste speler wat in ’n T20I-wêreldbekerwedstryd verskyn – later oortref deur Aayan Khan (UAE) op 16 jaar en 335 tydens die 2022-toernooi.[13][14]
Wes-Indië het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Tillakaratne Dilshan moker 60,76% van Sri Lanka se lopies, ’n nuwe T20I-rekord. Dit word egter enkele ure later verbeter toe Chris Gayle 62,38% van Wes-Indië se lopies slaan.[20]
Chris Gayle (WI) word die eerste krieketspeler wat deurkolf in ’n T20I-wêreldbekerwedstryd.[20][21]