Julius Nyerere
Julius Kambarage Nyerere (13 April 1922 – 14 Oktober 1999) was Tanzanië (vroeër Tanganjika) se eerste verkose leier ná onafhanklikwording in Desember 1961. 'n Staatsgreep in Zanzibar het daartoe gelei dat die eiland opgeneem is as deel van 'n unie met die Tanzaniese vasteland – 'n proses wat Nyerere begin en gelei het. Nyerere se "ujamaa"-beleide – die kollektivisering van die landbou en die nasionalisering van die handel en nywerheid – was sowel utopies as rampspoedig; desnieteenstaande het hulle 16 jaar lank beleid gebly. Sy regering het opleiding en hulp verleen aan antikolonialistiese groepe wat die regering van wit minderheid in die hele Suider-Afrika beveg en toesig gehou het oor die oorlog tussen 1978 en 1979 in Tanzanië met Uganda, wat gelei het tot die omverwerping van die Ugandese president Idi Amin. In 1985 het Nyerere afgetree en is hy opgevolg deur Ali Hassan Mwinyi, wat baie van Nyerere se beleid omgekeer het. Onder Nyerere het Tanzanië baie aktief by streekskonflikte betrokke geraak. Nyerere, wat oral in Afrika as Mwalimu ("leraar"/"onderwyser") bekend gestaan het, het homself gewy aan boerdery en diplomasie, veral in die voortslepende krisis in Burundi. Hy het sy leierskap van die regerende party tot 1990 behou. LewensgeskiedenisJulius Kambarage Nyerere, die seun van 'n ondergeskikte hoofman, is op 13 April 1922 in Butiama aan die oostelike oewer van die Victoriameer gebore. Hy het eers op twaalfjarige ouderdom begin skoolgaan. Sy potensiaal is deur die Rooms-Katolieke vaders wat vir hom klas gegee het raakgesien en met hul bystand is hy aan die Makerere-universiteit in Uganda as onderwyser opgelei. Hy het met behulp van 'n staatsbeurs sy meestersgraad in die geskiedenis en politieke ekonomie aan die Universiteit van Edinburg verwerf, waar hy met sosialistiese denkwyses kennis gemaak het. Met sy terugkeer na Tanganjika moes hy tussen die onderwys en die politiek kies. Hy het die politiek gekies. Nyerere het 'n belangrike rol gespeel in die byeenbring van 'n aantal nasionalistiese faksies en die stigting van die Tanganyika African National Union (TANU), wat hy gelei het. Ná onafhanklikwording in Desember 1961 – die nuwe republiek is Tanzanië genoem – is hy tot president verkies en sy beleidsrigtings is 16 jaar lank gevolg. In 1985 – ná 23 jaar – het hy die amp neergelê, maar tot 1990 die partyleier gebly. Nadat vasgestel is dat hy aan bloedkanker ly, is Nyerere in Londen se St Thomas-hospitaal opgeneem en behandel, waar hy in 1999 aan 'n massiewe beroerte-aanval gesterf het. OnderskeidingsIn 1992 word hy saam met Aung San Suu Kyi bekroon met die Unesco Internasionale Simón Bolívar-prys, 'n prys wat bedoel is om aktiwiteite van buitengewone verdienste te beloon wat in die gees staan van die Latyns-Amerikaanse vryheidsvegter Simón Bolívar. Verwysings
|