Tanganjika
![]() Tanganjika (Engels en Swahili: Tanganyika) was 'n republiek in Oos-Afrika binne die Britse Statebond en vernoem na die Tanganjika-meer wat die land se westelike grens vorm. Op 26 April 1964 het dit saam met die eilande van Zanzibar saamgesmelt om die Verenigde Republiek van Tanzanië te vorm. Die naam het vir die eerste keer verskyn as die "Mandaatgebied van Tanganjika", wat van die kolonie Duits-Oos-Afrika gevorm is. In 1922, na die Eerste Wêreldoorlog, is dit deur die Volkebond as 'n mandaat aan Brittanje toegeken. Die land het in 1946 'n "trougebied" van die Verenigde Nasies geword, hoewel dit steeds deur die Verenigde Koninkryk regeer is. Tanganjika het egter op 9 Desember 1961 onafhanklikheid verkry en die "Republiek van Tanganjika" (Swahili: Jamhuri ya Tanganyika) is 'n halfjaar later, op 9 Junie 1962, gestig. |