Tydens die Rugbywêreldbeker 1987 is 32 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het, het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 1991 in die destydse Vyfnasies gekwalifiseer.
Nieu-Seeland het die eindstryd op Edenpark in Auckland teen Frankryk met 29–9 gewen en sodoende die eerste rugbywêreldkampioen geword.[4] Wallis het in die derde en Australië in die vierde plek geëindig; interessant genoeg het die vier groepwenners as die vier beste spanne van die toernooi geëindig. Die kwarteindstryd wat Frankryk teen Australië met 30–24 gewen het, word as een van die beste wedstryde in die rugbywêreldbekergeskiedenis beskou.[5]
Toewysing
Aan die begin van die 1980’s het die idee van ’n rugbywêreldbekertoernooi opgedaag, maar tydens ’n vergadering van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR) is dié voorstel verwerp. Die Australiese en Nieu-Seelandse beheerliggame het vervolgens – onafhanklik van mekaar – ’n brief vir die IRVR geskryf, waarin hulle op die aanbieding van ’n rugbywêreldbekertoernooi aangedring het. 1985 is die voorstel, ten spyte van veral Britse en Ierse weerstand, goedgekeur. Vervolgens is aan Australië en Nieu-Seeland die Rugbywêreldbeker 1987 toegewys. Die beslissende stem was van Suid-Afrika wat die projek ten spyte van die voortgesette boikot teen die land weens apartheid ondersteun het.[6]
Deelnemers
Die sewe lede van die IRVR het regstreeks vir die Rugbywêreldbeker 1987 gekwalifiseer: Die twee gashere Australië en Nieu-Seeland, die vier tuisnasies Engeland, Ierland, Skotland en Wallis asook Frankryk. Die IRVR-lid Suid-Afrika is in 1984 weens sy apartheidsbeleid van die beplande toernooi geskors; nasionale rugbyspanne van ander deelnemende lande het egter ook ná die Rugbywêreldbeker 1987 wedstryde teen die Springbokke gespeel. Vir die oorblywende nege plekke is nie ’n kwalifisering gehou nie. Die nasionale rugbyspanne van Argentinië, Fidji, Italië, Japan, Kanada, Tonga, die Verenigde State en Zimbabwe is deur die IRVR genooi om deel te neem. Wes-Samoa is egter nie genooi nie, ten spyte van sy beter plasing op die destydse nieamptelike wêreldranglys bo Tonga. Die Sowjetse nasionale rugbyspan is ook vir die toernooi genooi, maar hulle het die aanbod uit protes teen die Suid-Afrikaanse IRVR-lidmaatskap verwerp. Vervolgens het Roemenië die Sowjetunie vervang.
Die Rugbywêreldbeker 1987 is oor 29 dae tussen 16 verskillende spanne oor 32 wedstryde beslis. Dit het op 22 Mei 1987 op Edenpark in Auckland met die openingswedstrydwedstryd tussen die medegasheer Nieu-Seeland en Italië afgeskop. Die toernooi het geëindig by dieselfde stadion op 20 Junie met die eindstryd tussen Nieu-Seeland en Frankryk, waartydens die All Blacks die Webb Ellis-beker ingepalm het.
Kalender
Die volgende tabel dui die Rugbywêreldbeker 1987 se daaglikse program aan. ’n Rooi blokkie dui op beide die openings- en sluitingseremonie, ’n pers blokkie op wedstryde tydens die groepfase, ’n groen blokkie op wedstryde tydens die uitklopfase, ’n blou blokkie op die bronseindstryd en ’n geel blokkie op die eindstryd.
Die groepwedstryde is onder die twee gashere soos volg verdeel:
Groep 1 is in Australië aangebied
Van Groep 2 is vyf wedstryde in Nieu-Seeland en een wedstryd in Australië aangebied
Groep 3 is in Nieu-Seeland aangebied
Groep 4 is in Nieu-Seeland aangebied
Groepfase
Die eerste Rugbywêreldbekertoernooi is deur 16 nasionale rugbyspanne beslis. Daar is geen kwalifisering gehou om die deelnemende spanne te bepaal nie, die deelnemende spanne is egter deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad genooi. Vir die groepfase is die 16 deelnemende spanne in vier groepe van vier elk verdeel; elke span het een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep gespeel, dus het elke span drie wedstryde in die groepfase gespeel. Twee punte is vir ’n oorwinning toegeken, een vir ’n gelykop en geen punte vir ’n nederlaag: spanne wat met dieselfde aantal punte geëindig het, is volgens gedrukte drieë gerangskik, in plaas van die punte wat total aangeteken is (sou dit anders gewees het, sou Argentinië in Groep C tweede geëindig het, bo Fidji; Frankryk sou steeds Groep D eerste afgesluit het).
Klassifisering binne elke groep was gegrond op die volgende puntestelsel:
Twee wedstrydpunte vir ’n oorwinning;
Een vir ’n gelykop;
geen vir ’n nederlaag.
Aan die einde van die groepfase is die spanne gerangskik van die eerste na die vierde posisie, gegrond op versamelde wedstrydpunte, met die twee beste spanne wat na die kwarteindrondte deurgedring het. As twee spanne gelyk op punte was, is die rangorde deur hul aantal gedrukte drieë bepaal.
Uitklopfase
Van die begin van dié fase af het die toernooi ’n uitklopformaat aangeneem wat uit agt wedstryde bestaan het: vier kwarteindstryde, twee halfeindstryde, ’n derdeplekwedstryd en die eindstryd.
Die wenner en naaswenner van elk van die groepe het na die uitklopfase deurgedring. Groepwenners het teen naaswenners in ander groepe in die kwarteindstryde gespeel, byvoorbeeld: die wenner van Groep 1 het teen die naaswenner van Groep 2 en die wenner van Groep 2 teen die naaswenner van Groep 1 gespeel. Spanne van dieselfde groep sou dus eers weer in óf die bronseindstryd óf die eindstryd kon ontmoet het.
Elke wedstryd in die uitklopfase moes met ’n oorwinning vir een van die spanne eindig. As daar ná tagtig minute van gewone spel ’n gelykopuitslag was, is daar verder gespeel om te bepaal wie die wenner is. Aanvanklik is daar twee periodes van ekstra tyd gespeel, tien minute in elke rigting: as daar dan steeds geen wenner was nie, is daar vir tien minute gespeel in ’n uitklopformaat, waar die eerste span wat daarin geslaag het om punte aan te teken, gewen het. As daar steeds nie ’n wenner was ná 110 minute nie is die wenner bepaal deur ’n stelskopkompetisie.
1987-effek op 1991-kwalifisering
Die agt spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het, het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 1991 in Engeland gekwalifiseer. Hulle was Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland, Skotland en Wallis.
Wedstrydbeamptes
’n Paneel van 14 skeidsregters is vir die toernooi ingespan.
(en) Gerald Davies (2004). The History of the Rugby World Cup. Sanctuary Publishing Ltd. ISBN1-86074-602-0.
(en) Nick Farr-Jones (2003). Story of the Rugby World Cup. Australian Post Corporation. ISBN0-642-36811-2.
(en) Grant Harding; David Williams (2000). The Toughest of Them All: New Zealand and South Africa: The Struggle for Rugby Supremacy. Auckland, Nieu-Seeland: Penguin Books. ISBN978-0-14-029577-1.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
(en) Lance Peatey (2011). In Pursuit of Bill: A Complete History of the Rugby World Cup. New Holland Publishers. ISBN978-1-74257-191-1.