Rugbywêreldbeker 2027
Die Rugbywêreldbeker 2027 (Engels: 2027 Rugby World Cup) word van 1 Oktober tot 13 November 2027 in Australië beslis. Dit is die elfde rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur Wêreldrugby aangebied word en die vyfde in die Suidelike Halfrond. Australië het met Nieu-Seeland die eerste Rugbywêreldbeker 1987 saam gehuisves, asook die Rugbywêreldbeker 2003 op sy eie. Vir die eerste keer sal 24 nasionale rugbyspanne vanuit verskeie lande aan die Rugbywêreldbeker 2027 kan deelneem, nadat die aantal deelnemers ná die 2023-toernooi van 20 verhoog is.[1] Die Suid-Afrikaanse Springbokke is die verdedigende kampioen nadat hulle in 2023 hul vierde titel ingepalm het. 24 nasionale rugbyspanne sal aan die Rugbywêreldbeker 2027 deelneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2023-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Japan, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die twaalf beste spanne van die kwalifisering. ToewysingWêreldrugby het die gasheerlande van beide die 2027- en 2031-manstoernooie op 12 Mei 2022 aangekondig. Die proses om met voornemende lande te onderhandel het in Februarie 2021 begin en die formele kandidaatproses drie maande later. Die oorblywende gasheerlande is in Februarie 2022 aangekondig.[2] Wêreldrugby se destydse voorsitter Bill Beaumont het in laat 2018 voorgestel dat die gasheer van die Rugbywêreldbeker ná die 2023-toernooi in Frankryk ’n opkomende land behoort te wees.[3] Wêreldrugby se hoof- uitvoerende beampte Brett Gosper het in 2019 ook voorgestel dat Wêreldrugby beide die 2027- en 2031-toernooie saam sal toewys (soos hulle met Engeland 2015 en Japan 2019 gedoen het), waardeur hulle “’n dapper besluit en ’n tradisionele besluit” sal kan maak.[4] Gosper het verder voorgestel dat “2031 tyd sal gun vir ’n Amerikaanse bod om baie geloofwaardig en sterk te wees.”[4] Die gashere vir die 2027- en 2031-toernooie is in Mei 2022 bekend gemaak.[5] Die feit dat drie agtereenvolgende toernooie (Engeland 2015, Japan 2019 en Frankryk 2023) in die Noordelike Halfrond beslis is, het die lande in die Suidelike Halfrond se posisie versterk.[6] Tot in Junie 2019 het drie lande – Argentinië, Australië en Rusland – aangekondig dat hulle die Rugbywêreldbeker 2027 wil aanbied.[7][8] Vermoede het bestaan dat beide die Verenigde State en Suid-Afrika beplan het om die toernooi te huisves, maar die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) het bekend gemaak dat hulle nie beplan om vir nóg die 2027- nóg die 2031-toernooi aansoek te doen nie.[9] Argentinië het sy bod in April 2020 teruggetrek om die Australiese bod te versterk, waarvolgens daar twee kandidaatlande oor was.[10] Op 10 Junie 2021 is VSA Rugby amptelik aanvaar as ’n kandidaat vir beide die 2027- en 2031-toernooie, asook die Vrouerugbywêreldbeker 2029.[11] Tydens ’n spesiale vergadering van Wêreldrugby op 12 Mei 2022 in Dublin is die Rugbywêreldbeker 2027 aan Australië toegewys en die Rugbywêreldbeker 2031 aan die Verenigde State.[12] Daarmee is dit ná die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika, die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië, die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland, die Rugbywêreldbeker 2019 in Japan en die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk die sesde rugbywêreldbekertoernooi wat geheel en al in een land aangebied word. Belangstelling aangekondigAustraliëRugby Australia het op 13 Desember 2017 aangekondig dat Australië vir die Rugbywêreldbeker 2027 sal aansoek doen.[13] Australië het voorheen saam met Nieu-Seeland die Rugbywêreldbeker 1987 en die Rugbywêreldbeker 2003 op sy eie aangebied. Aansoek teruggetrekArgentiniëArgentinië het op 5 Oktober 2016 aangekondig dat dit vir die Rugbywêreldbeker 2027 sal aansoek doen, maar sy aansoek in April 2020 teruggetrek. Argentinië het dié toernooi nog nooit gehuisves nie en Wêreldrugby se voorsitter Bill Beaumont het aangekondig dat hy aansoeke van lande soos Argentinië sou ondersteun.[14] Argentinië is die enigste land wat die halfeindstryd van ’n rugbywêreldbekertoernooi gehaal het, maar nog nooit wedstryde van dié toernooi aangebied het nie.[15] In April 2020 het Argentinië sy aansoek teruggetrek om die Australiese aansoek ’n hupstoot te gee, waarvolgens Australië die gunstelinggasheer vir die Rugbywêreldbeker 2027 was.[10][16] RuslandStanislaf Droezhinin van die Russiese Rugbyunie het op 31 Mei 2019 aangekondig dat Rusland vir die Rugbywêreldbeker 2027 sal aansoek doen. Rusland wou van sy FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018-stadions vir dié toernooi gebruik.[17][18] Die Russiese President Wladimir Poetin het Rusland se aansoek vir die Rugbywêreldbeker 2027 ondersteun.[19] Die Russiese Rugbyunie kon nie met sy aansoek voortgaan nie aangesien CAS op 17 Desember 2020 Rusland vir twee jaar verbied het om enige belangrike sporttoernooi aan te bied.[20] DeelnemersWêreldrugby het op 13 Augustus 2024 die kwalifiseringsproses vir die toernooi gespesifiseer. Vervolgens word sedert 2024 twaalf van die 24 plekke van die toernooi tydens die kwalifisering uitgespeel. Die kwalifiseringstoernooi word in vyf streeksgroepe verdeel: Afrika, Asië, Europa, Suid-Amerika en Oseanië. Vier plekke is vir die nasionale spanne van Europa gereserveer, drie vir Oseanië, een elk vir Afrika, Asië en Suid-Amerika. Die twee oorblywende plekke word tydens ’n interkontinentale kwalifiseringsrondte (uitspeel tussen Oseanië en Suid-Amerika) en ’n uitspeelwedstryd (Repechage) tussen al die vastelande beslis.[21] Asië beskik vir die eerste keer ooit oor sy eie regstreekse plek en aangesien Japan reeds vir die toernooi gekwalifiseer het, sal een span van dié vasteland vir die eerste keer ooit vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer.[22] Daar was lank beplan om die aantal deelnemers van 20 tot 24 te verhoog, waarop op 24 Oktober 2023 amptelik besluit is.[23][24] Naas die gasheer Australië, wat ook deur sy derde plek in die groepfase van die Rugbywêreldbeker 2023 gekwalifiseer het, het ook die agt deelnemers aan die kwarteindrondte en ander drie derdeplek-spanne van die 2023-groepfase vir die Rugbywêreldbeker 2027 gekwalifiseer. Die volgende twaalf spanne het regstreeks vir die Rugbywêreldbeker 2027 gekwalifiseer: Suid-Afrika as verdedigende kampioen, Nieu-Seeland as naaswenner, Engeland as derde plek, Argentinië as halfeindrondtespan, die spanne van die kwarteindrondte Fidji, Frankryk, Ierland en Wallis, asook die derde plekke van die groepfase Australië, Italië, Japan en Skotland.[25]
StadionsRugby Australia het nege plekke in sewe stede as moontlike wedstrydplekke vir die toernooi gelys.[26]
FormaatDie Rugbywêreldbeker 2027 is die eerste toernooi wat deur 24 pleks van 20 spanne oor ses weke beslis sal word. Die spanne word in ses groepe van vier elk verdeel. Vir die eerste keer sal ’n agtste eindrondte gespeel word, waarna die wêreldkampioen in die uitklopfase bepaal word.[23][24] Die loting vir die groepfase sal in Januarie 2026 plaasvind.[27] Sien ookVerwysings
Eksterne skakels
|