Die Rugbywêreldbeker 1995 is van 25 Mei tot 24 Junie 1995 in Suid-Afrika beslis. Dit was die derde rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die eerste in Afrika. Dit was die eerste wêreldbekertoernooi in een van Suid-Afrika se gewildste sportsoorte; later het dié land ook die Krieketwêreldbeker 2003 en die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 aangebied. Dit was ook die eerste keer wat ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan weer aan ’n internasionale byeenkoms kon deelneem ná die lang stryd teen apartheid en as ’t ware die eerste groot toernooi vir en in Suid-Afrika ná die einde van dié politieke stelsel. Saam met die Afrikanasiesbeker 1996 was die Rugbywêreldbeker 1995 een van twee groot sportkompetisies in Suid-Afrika binne een jaar.
Die toernooi se formaat van 1987 en 1991 het onveranderd gebly en 16 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 1995 deelgeneem: die gasheer Suid-Afrika, die agt regstreekse kwalifiseerders van die 1991-toernooi (Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Kanada, Nieu-Seeland, Samoa en Skotland), asook die sewe beste spanne van die kwalifisering (Argentinië, Italië, die Ivoorkus, Japan, Roemenië, Tonga en Wallis). Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 is 32 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die nominale gasheer Wallis, die verdedigende kampioen Suid-Afrika, die naaswenner Nieu-Seeland en die derde-plek-span Frankryk het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 1999 in die destydse Vyfnasies gekwalifiseer. Net soos Suid-Afrika het die Ivoorkus vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem. Namibië het vir die eerste keer aan ’n kwalifisering deelgeneem en vyf wedstryde gewen, maar hulle kon egter nie vir die Rugbywêreldbeker 1995 kwalifiseer nie nadat die beslissende wedstryd teen Marokko in ’n gelykop geëindig het.
Suid-Afrika het die eindstryd op Ellispark in Johannesburg teen Nieu-Seeland met 15–12 gewen, nadat ’n bykomende tien minute ekstra tyd toegestaan is toe die telling 9–9 was.[3] Suid-Afrika het daarmee ná Nieu-Seeland in 1987 die tweede gasheer geword wat die rugbywêreldbekertoernooi tuis gewen het en die derde agtereenvolgende kampioen van die Suidelike Halfrond geword, ná Nieu-Seeland in 1987 en Australië in 1991. Daarbenewens was dit die eerste eindwedstryd in dié toernooi se geskiedenis wat twee spanne van die Suidelike Halfrond gesien het. Frankryk het in die derde en Engeland in die vierde plek geëindig; interessant genoeg het die vier groepwenners as die vier beste spanne van die toernooi geëindig.
Die Rugbywêreldbeker 1995 het om verskeie redes geskiedenis gemaak: Dit was die eerste groot sporttoernooi op die Afrikavasteland, die eerste rugbywêreldbekertoernooi wat heeltemal in een land aangebied is en die laaste groot toernooi van rugby se amateurera; twee maande later het die IRVR met die professionalisering van dié sport begin. Die Rugbywêreldbeker 1995 word ook wyd onthou vir die samewerking van alle Suid-Afrikaners onder die bewind van Nelson Mandela se regering van nasionale eenheid. Die oorhandiging van die Webb Ellis-beker deur ’n in die Springboktrui geklede Nelson Mandela aan die Springbokkaptein Francois Pienaar is waarskynlik die bekendste gebeurtenis van die Rugbywêreldbeker 1995 en versinnebeeld die versoening tussen “swart” en “wit Suid-Afrikaners”. Die oomblik is glo een van die beroemdste finale van enige sportsoort.[4] Dit was ook die laaste toernooi met die aantal van 16 nasionale rugbyspanne; vir die volgende Rugbywêreldbeker 1999 is die aantal na 20 verhoog. Vir die eerste keer in ’n rugbywêreldbekertoernooi was ’n drie gelyk aan vyf punte; voorheen was dit vier. Daarbenewens het die Rugbywêreldbeker 1995 die opkoms van die Nieu-Seelander Jonah Lomu as ’n rugbyster gesien.
Toewysing
Nadat die Rugbywêreldbeker 1987 in Australië en Nieu-Seeland en die Rugbywêreldbeker 1991 in al die destydse Vyfnasies aangebied is, was Suid-Afrika die enigste rugbynasie, wat tot dusver nog nie ’n rugbywêreldbekertoernooi aangebied het nie. Weens sy apartheidsbeleid was die land egter uit alle vorme van internasionale rugby geskors, hoewel enkele nasionale rugbyspanne steeds toere na Suid-Afrika onderneem het.
Ná die einde van apartheid en Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale sporttoernooie het dié land in 1992 weer ’n volle lid van die IRVR geword. Vervolgens is die Rugbywêreldbeker 1995 aan Suid-Afrika toegewys.
Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 is onderhandelinge tussen Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika se beheerliggame gevoer en SANZAR, die voorganger van die hedendaagse SANZAAR, gestig. Een jaar later, in 1996, is die eerste Drienasiesreeks tussen Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika beslis. Sedert Argentinië se aansluiting in 2012 staan dié toernooi as Die Rugbykampioenskap bekend.
Deelnemers
Die volgende 16 spanne het vir die Rugbywêreldbeker 1995 gekwalifiseer: Die agt spanne wat tydens die Rugbywêreldbeker 1991 tot die kwarteindrondte gevorder het, het saam met die gasheer Suid-Afrika regstreeks vir die Rugbywêreldbeker 1995 gekwalifiseer. Hulle was Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Kanada, Nieu-Seeland, Samoa en Skotland. Om die oorblywende sewe plekke het tydens die kwalifiseringsrondte 35 nasionale rugbyspanne meegeding.
Altesaam is nege stadions in nege stede dwarsdeur Suid-Afrika vir die Rugbywêreldbeker 1995 gebruik. Van die stadions is met die oog op die toernooi opgeknap. Ses van die nege stadions is Suid-Afrikaanse toetsgronde. In die vier grootste stadions is die uitklopfase en die eindstryd is op die Johannesburgse Ellispark beslis.
Oorspronklik is ook wedstryde in Brakpan, Germiston, Pietermaritzburg, Potchefstroom en Witbank beplan, maar dié wedstryde is na ander plekke verskuif. Hierdeur is die aantal plekke van 14 tot nege verminder. Die redenasie vir hierdie stap was die geriewe vir beide die pers en die toeskouers, maar ook veiligheid. Die stap is in Januarie 1994 gedoen. Verdere veranderinge is in April onderneem, só is aandwedstryde na stadions met goeie spreiligte verskuif.
Die Rugbywêreldbeker 1995 is oor 30 dae tussen 16 verskillende spanne oor 32 wedstryde beslis. Dit het op 25 Mei 1995 op Nuweland in Kaapstad met die openingswedstryd tussen die gasheer Suid-Afrika en die verdedigende kampioen Australië afgeskop. Die toernooi het geëindig op Ellispark in Johannesburg op 24 Junie met die eindstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland, waartydens die Springbokke die Webb Ellis-beker ingepalm het.
Kalender
Die volgende tabel dui die Rugbywêreldbeker 1995 se daaglikse program aan. ’n Rooi blokkie dui op beide die openings- en sluitingseremonie, ’n pers blokkie op wedstryde tydens die groepfase, ’n groen blokkie op wedstryde tydens die uitklopfase, ’n blou blokkie op die bronseindstryd en ’n geel blokkie op die eindstryd.
Die groepwedstryde is op die volgende stede verdeel:
Groep A: Kaapstad, Port Elizabeth en Stellenbosch
Groep B: Durban en Oos-Londen
Groep C: Johannesburg en Bloemfontein
Groep D: Pretoria en Rustenburg
Groepfase
Soos in die rugbywêreldbekertoernooie van 1987 en 1991 is die 16 deelnemende nasionale rugbyspanne in vier groepe van vier elk verdeel; elke span het een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep gespeel, dus het elke span drie wedstryde in die groepfase gespeel. Drie punte is vir ’n oorwinning toegeken, twee vir ’n gelykop en een vir ’n nederlaag: spanne wat met dieselfde aantal punte geëindig het, is volgens die punte wat total aangeteken is gerangskik.
Klassifisering binne elke groep was gegrond op die volgende puntestelsel:
Drie wedstrydpunte vir ’n oorwinning;
Twee vir ’n gelykop;
Een vir ’n nederlaag.
Aan die einde van die groepfase is die spanne gerangskik van die eerste na die vierde posisie, gegrond op versamelde wedstrydpunte, met die twee beste spanne wat na die kwarteindrondte deurgedring het. As twee spanne gelyk op punte was, is die rangorde deur die punte wat total aangeteken is bepaal.
Uitklopfase
Van die begin van dié fase af het die toernooi ’n uitklopformaat aangeneem wat uit agt wedstryde bestaan het: vier kwarteindstryde, twee halfeindstryde, ’n derdeplekwedstryd en die eindstryd.
Die wenner en naaswenner van elk van die groepe het na die uitklopfase deurgedring. Groepwenners het teen naaswenners in ander groepe in die kwarteindstryde gespeel, byvoorbeeld: die wenner van Groep A het teen die naaswenner van Groep B en die wenner van Groep B teen die naaswenner van Groep A gespeel. Spanne van dieselfde groep sou dus eers weer in óf die bronseindstryd óf die eindstryd kon ontmoet het.
Elke wedstryd in die uitklopfase moes met ’n oorwinning vir een van die spanne eindig. As daar ná tagtig minute van gewone spel ’n gelykopuitslag was, is daar verder gespeel om te bepaal wie die wenner is. Aanvanklik is daar twee periodes van ekstra tyd gespeel, tien minute in elke rigting: as daar dan steeds geen wenner was nie, is daar vir tien minute gespeel in ’n uitklopformaat, waar die eerste span wat daarin geslaag het om punte aan te teken, gewen het. As daar steeds nie ’n wenner was ná 110 minute nie is die wenner bepaal deur ’n stelskopkompetisie.
1995-effek op 1999-kwalifisering
Die nominale 1999-gasheer (Wallis), die verdedigende kampioen (Suid-Afrika), die naaswenner (Nieu-Seeland) en die derde plek-span (Frankryk) het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 1999 gekwalifiseer.
Wedstrydbeamptes
’n Paneel van 22 skeidsregters is vir die toernooi ingespan.
Marc Ellis, Eric Rush en Jeff Wilson (almal NZL) teken ’n driekuns aan. Marc Ellis se ses drieë is die meeste deur ’n enkele speler in ’n rugbywêreldbekerwedstryd.[6][7][8]
Nieu-Seeland druk die destyds meeste drieë (21) in ’n rugbywêreldbekerwedstryd[7] – later oortref deur Australië teen Namibië tydens die 2003-toernooi.
Simon Culhane (NZL) skop die meeste doelskoppe (20) in ’n rugbywêreldbekerwedstryd oor. Hy teken ook die meeste punte deur ’n enkele speler in ’n rugbywêreldbekerwedstryd aan.[7][9]
Dit is die destyds hoogste rugbywêreldbekeroorwinning[7] – later oortref deur Australië teen Namibië tydens die 2003-toernooi.[10]
Gavin Hastings (Sko) teken ook die destyds meeste punte deur ’n enkele speler in ’n rugbywêreldbekerwedstryd aan – later oortref deur Simon Culhane (NZL) teen Japan tydens dieselfde toernooi.[9]
Drie minute ná die afskop van die wedstryd tussen Ivoorkus en Tonga is die Ivoriaanse vleuel Max Brito deur verskeie ander spelers gekneus, wat hom van die nek af laat verlam het.[12]
Tot die eindstryd van die Rugbywêreldbeker 2015 was dit die enigste eindstryd wat tussen twee nasionale rugbyspanne van die Suidelike Halfrond beslis is.
Dit was die eerste eindstryd wat in ekstra tyd beslis moes word.
Suid-Afrika wen die Rugbywêreldbeker 1995 sonder ’n verlore wedstryd.
Hulle word ook die tweede gasheer wat ’n rugbywêreldbekertoernooi tuis kon wen, asook ná Nieu-Seeland in 1987 en Australië in 1991 die derde agtereenvolgende wêreldkampioen van die Suidelike Halfrond.
Die Rugbywêreldbeker 1995 vorm die hoofonderwerp van die 2009-rolprent Invictus (Latyn; Afrikaans: “Die onoorwonne”). Dié rolprent is op die boek Playing the Enemy deur John Carlin gebaseer en beskryf hoe die destydse Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela tydens die toernooi met sy ondersteuning vir die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan, die Springbokke, Suid-Afrika oor rassegrense heen verenig het. Die regie is behartig deur Clint Eastwood en die hoofkaraktere Nelson Mandela en Francois Pienaar word deur Morgan Freeman en Matt Damon onderskeidelik vertolk.
(en) Gerald Davies (2004). The History of the Rugby World Cup. Sanctuary Publishing Ltd. ISBN1-86074-602-0.
(en) Nick Farr-Jones (2003). Story of the Rugby World Cup. Australian Post Corporation. ISBN0-642-36811-2.
(en) Grant Harding; David Williams (2000). The Toughest of Them All: New Zealand and South Africa: The Struggle for Rugby Supremacy. Auckland, Nieu-Seeland: Penguin Books. ISBN978-0-14-029577-1.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
(en) Lance Peatey (2011). In Pursuit of Bill: A Complete History of the Rugby World Cup. New Holland Publishers. ISBN978-1-74257-191-1.