Pous Urbanus II
Urbanus II was die 159ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk. BiografiePous Urbanus II is gebore as Odo de Châtillon (ook Odo de Lagery) ongeveer in 1035 in Châttillon-sur-Marne, Frankryk.[1] Hy word monnik en kry sy opleiding aan die katedraalskool in Reims. Een van sy leermeesters was Bruno van Keulen. In 1070 kom hy onder die invloed van ab Hugo van Cluny. Pous Gregorius VII roep hom na Rome en benoem hom as kardinaal-biskop van Ostia. Op 12 Maart 1088 volg hy Pous Victor III op en regeer tot sy dood op 29 Julie 1099. Hy word opgevolg deur Pous Paschalis II. Die naam ‘Urbanus’ beteken 'beskaafde'. PontifikaatPous Urbanus II is verkies op 'n klein vergadering van kardinale en ander prelate in Terracina. Hy kon nie dadelik nadat hy verkies is, na Rome gaan nie, aangesien Teenpous Clemens III daar nog aan die mag was. Hy het gaan hulp soek by die Normandiërs en kon drie jaar na sy verkiesing eers sy intrek in Rome neem. Soos sy voorganger Pous Victor III het Urbanus ook die beleid van Pous Gregorius VII voortgesit. Vir die bestuur van die kerk het hy die Curia opgerig. In 1091 stel hy sy leermeester Bruno van Keulen aan as sy adviseur. In Maart 1095 hou hy samesprekings met biskoppe uit Frankryk, Duitsland en Italië in Piacenze. Die samesprekings is ook bygewoon deur 'n afvaardiging van die Bisantynse keiser Alexius I Comnenus, wat hulp gevra het om Konstantinopel teen die Turke te beskerm. Urbanus stuur sy leër na Jerusalem onder die aanvoering van Raymond van Toulouse. In sy stryd met keiser Hendrik IV het die pous die huwelik van gravin Matilda van Toskane met Guelf V van Beiere bevorder. Hy het prins Coenraad gesteun in sy rebellie teen sy pa en hom koning van die Romeine gekroon in Milaan in 1093. Hy het ook die keiserin Adelaide van Praxedes gesteun in haar stryd teen haar man. Ook Philip I van Frankryk het hy geëkskommunikeer oor sy owerspelige huwelik met Bertrade van Montfort. Sewe maande na die samesprekings in Piacenze, open Urbanus op 18 November 1095 die konsilie van Clermont-Ferrand. Hier predik hy die eerste kruistog met die woorde "Deus vult." ("Dit is God se wil"). Die woorde het die strydkreet van die kruisvaarders geword. Die volgende agt maande het Urbanus deur Frankryk gereis en die kruistog gepredik. In Frankryk was daar veel aanhang. In Duitsland het hy weens die investituurstryd min sukses gehad. Meer subtiel as die kruistogte, maar baie belangrike vir die toekoms was Urbanus se pogings om Campagna en Sisilië onder sy beheer te bring na geslagte se beheer deur Bisantium en die Arabiere. Hy het gebruik gemaak van die Normandiese heerser Roger I. In 'n ooreenkoms in 1098 na die beleg van Capua gee hy Roger die reg om biskoppe aan te stel, kerklike inkomste te vorder en regspraak in kerklike sake te hanteer. Hierdie toegewings wat onskuldig gelyk het by Roger I, het later groot probleme veroorsaak met sy Hohenstaufen erfgename. Urbanus het ook gekorrespondeer met Anselmus van Kantelberg wie se werk 'De Incarnatione Verbi' sy goedkeuring gekry het. Urbanus sterf op 29 Julie 1099 net 14 dae nadat Jerusalem ingeneem is op 15 Julie 1099 deur die kruisvaarders onder leiding van Godfried van Bouillon. Die nuus daarvan het Rome egter eers bereik na sy dood. VereringPous Urbanus II is salig verklaar deur Pous Leo XIII op 14 Julie 1881. Hy is voorgestel deur Mgr. Langenieux, aartsbiskop van Reims in 1878. Sy feesdag is op 29 Julie. Bibliografie
Verwysings
Eksterne skakels
Die Engelse Wikisource bevat bronmateriaal oor hierdie onderwerp onder die titel:
NotaSaamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui. Opvolging
|